Skip to main content
Freddy opgewonde oor uitdaging om Maties af te rig

Freddy opgewonde oor uitdaging om Maties af te rig

Maties Sport
19 Februarie 2016

Die voormalige Steinhoff Maties-hokkiespeler Ashlin Freddy is die nuwe afrigter van Maties se manshokkiespan. Hy vervang Neville Rothman wat die span die afgelope twee seisoene afgerig het.

Freddy is ook 'n voormalige nasionale speler wat 17 wedstryde vir die Proteas gespeel het. Hy was 'n Matie van 2008 tot 2011.

"Dit is 'n massiewe eer om 'n afrigter by Maties te wees. Verskeie wonderlike spelers en besonderse afrigters het die span tot groot hoogtes gelei. Simon Organ het die Maties-revolusie begin en Kurt Cerfontyne en Neville Rothman het dit voortgesit. Ek weet ek is bevoorreg om hierdie geleentheid te kry en ek weet ook dis 'n massiewe taak wat voor my lê, maar dit is iets wat my opgewonde maak en ek is gereed vir die uitdaging," het Freddy gesê.

Freddy is sedert 2009 'n afrigter by Paul Roos Gimnasium.

"Ek het begin met die o.19 E-span en my stadig opgewerk van o.14 B, tot o.14 A tot o.16 A. Nou is ek die eerste span se afrigter. Ek rig sedert 2012 Boland se o.18 A-span af en verlede jaar het ons vir die eerste keer die interprovinsiale o.18-toernooi gewen. Dit was my beste afrigting-ervaring tot op hede."

​​As 'n voormalige speler wat weet waaroor die tradisie van Maties Hokkie gaan, is Freddy gretig om die standaard vroeg te stel en sy deel by te dra tot Maties Hokkie se reputasie. "Ek wil verbeter op dit wat reeds deur vorige afrigters daargestel is en verseker dat die jeug van Maties Hokkie die toekoms van Suid-Afrikaanse internasionale hokkie sal wees."

Freddy se eerste uitdaging is die Varsity-hokkiereeks in Mei. Maties het in 2014 in die eindstryd teen UJ verloor.

Foto: Outsider Communications