Skip to main content
Fisioloog ontvang ere-genootskap

Fisioloog ontvang ere-genootskap

Mandi Barnard
23 Februarie 2016

Prof Barbara Huisamen is as Ere-genoot van die Fisiologiese Vereniging van Suider-Afrika (Physiology Society of Southern Africa [PSSA]) aangewys. Sy het hierdie gesogte toekenning ontvang ter erkenning van jare se volgehoue ondersteuning van en bydraes tot die navorsingsveld van fisiologie.

Buiten haar aktiewe betrokkenheid by fisiologiese navorsing, was Huisamen ook vier jaar  die PSSA se tesourier.

“Dit is ʼn baie groot eer om hierdie toekenning, wat jaarliks slegs aan een persoon gedoen word, te ontvang,” sê Huisamen, ʼn medeprofessor by die Afdeling Fisiologie en hoofspesialiswetenskaplike by die Mediese Navorsingsraad.

“Ek het laat in my lewe met my PhD-studies begin en gedurende die eerste jaar van my studies het ek die PSSA se Wyndham-kompetisie gewen. Dit was die begin van ʼn lang verbintenis met die vereniging,” sê Huisamen.  Die Wyndham-prys word toegeken aan ʼn jong navorser wat tydens die jaarlikse konferensie die beste mondelinge voordrag lewer.  Die volgende jaar, in 1992, het sy ʼn prys geborg deur die International Union of Physiological Sciences (IUPS) gewen om ʼn internasionale kongres in Glasgow, Skotland, by te woon.

Sedertdien het daar nog nie ʼn jaar verbygegaan waartydens Huisamen of ʼn student in die navorsingsgroep nie ʼn aanbieding oor hulle werk oor die kardiovaskulêre komplikasies van vetsug en diabetes in pre-kliniese navorsing by die jaarlikse PSSA-konferensie gedoen het nie.

Huisamen verduidelik dat hulle navorsing op twee gebiede fokus. Hulle doen basiese navorsing oor hartfunksies en insulienweerstandigheid en die ander fokusarea is pre-kliniese navorsing oor nutraseutiese en farmakologiese produkte vir die behandeling van Diabetes Mellitus II om die risikofaktore van die middels te bepaal.

Foto: Prof Barbara Huisamen is as Ere-genoot van die Fisiologiese Vereniging van Suider-Afrika aangewys

This article appeared in the Faculty of Medicine and Health Sciences' digital publication VIVUS. Visit www.sun.ac.za/FMHSpublications to subscribe.