
Finalejaar- mediese student vereer vir sy prestasie, leierskap en diens
Azhar Adam Nadkar, ʼn finalejaar- mediese student aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat bekend geraak het as ʼn “onvermoeibare vrywilliger", as veelsydig en as ʼn rolmodel vir sy eweknieë op kampus, het onlangs erkenning gekry vir ʼn klomp prestasies, waaronder deurdat die Alliance of South African Independent Practitioners Association (Asaipa) hom as een van die topvyf mediese studente in Suid-Afrika aangewys het.
Nadkar het ook vanjaar die eerste student van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) nóg geword wat beide die Rektorstoekennings vir Uitnemende Leierskapprestasie (2020) en Diensverskaffing (2021), asook die Tygerberg-studenteraad se Eretoekenning vir Leierskap (2021) en Diensverskaffing (2021) ontvang het.
Boonop is hy onlangs verkies as die eerste US-lid wat dien in die internasionale Association for Medical Education (Amee) Aspire-to-Excellence-toekenningspaneel vir uitnemendheid in internasionale samewerking in gesondheidsberoepe-onderwys, asook in die Amee Aspire-to-Excellence-raad.
Nadkar, ʼn entoesiastiese kampvegter vir die skep van geleenthede vir Afrika-studente, is ook passievol oor studentebetrokkenheid by onderrig en glo studente behoort by alle leer- en onderrig-inisiatiewe betrek te word.
Fakulteitslede wat hom vir die Rektorstoekennings genomineer het, het hom as ʼn waardevolle lid van die FGGW beskryf. Prof Susan van Schalkwyk, direkteur: Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderrig, het gesê hy het “op ʼn klomp verskillende maniere oor ʼn wye verskeidenheid van aktiwiteite bygedra, terwyl hy deurgaans bewus was van die noodsaak om die studentestem op die voorgrond te plaas in die soeke na die versterking van onderrig en leer". Ander lede van die Fakulteit het sy hoё motiveringsvlak geprys, asook sy “sensitiwiteit jeens die behoeftes van sy klasmaats en sy leerinstelling" en sy “omvattende en volgehoue betrokkenheid by diensverskaffing terwyl hy aangehou het om akademies te presteer".
Nadkar het in ʼn onderhoud gesê hy voel nederig om die eerste FGGW-student te wees wat hierdie erkenning geniet. “Ek hoop om hierdie as ʼn geleentheid te gebruik om my mede-studente in die Fakulteit te inspireer om ʼn positiewe impak deur beide posisionele en nie-posisionele leierskapstrukture en deur innoverende dienslewering te maak. Die Covid-19-pandemie en sy indirekte gevolge het die belangrikheid van sensitiwiteit jeens my studentemaats en leerinstelling nog verder uitgelig en daarom was dit vir my belangrik om bewus te wees van die noodsaak om die aandag op die studentestem te vestig en tegelyk onderrig en leer in die Fakulteit te probeer versterk."
Asaipa is ʼn organisasie wat die belange van 14 onafhanklike praktisynsverenigings reg oor Suid-Afrika verteenwoordig. Die Asaipa- nasionale mediese studentetoekennings gee erkenning aan top-presterende mediese studente in hul finale jaar wat gedurende hul studies akademies, in leierskap en met diensverskaffing uitgeblink het.
Nadkar het gesê hy voel baie geëerd en verheug dat Asaipa hom as een van die topvyf mediese studente van die jaar in Suid-Afrika aangewys het. “Hierdie toekenning getuig van my toewyding om as ʼn afgeronde mediese dokter aan die US te gradueer, asook as iemand wat ten doel het om as ʼn agent van verandering in my gemeenskap te dien. Ek het dwarsdeur my mediese studies altyd my uiterste bes probeer om by te dra tot inisiatiewe wat ten doel het om my mede-studente se ervaring te verbeter en versterk. Al het my akademiese studies altyd voorrang geniet, het ek steeds probeer om ʼn betekenisvolle rol te speel in verskeie inisiatiewe onder studente se leiding om my verbintenis tot die lewe en leer buite die kurrikulum te toon."
Oor sy Amee-prestasie het Nadkar gesê dié toekenningsprogram is begin om internasionale uitnemendheid in mediese, mondheelkunde- en veeartsenyskole te erken. “Die doelwit is om besonderse prestasie en uitnemendheid in skole wat betref hul missie en onderwys- en leerprogramme te bevorder, met inagneming van die uitdagings en konteks waarbinne ʼn skool funksioneer. Die program het ʼn internasionale raad van uitgelese leiers in gesondheidsberoepe-onderwys (GBO). Die raad erken die belangrikheid daarvan om studente te betrek by die proses om uitnemendheid na te streef."
Hy sê hy is ná ʼn benoeming van die President van Amee, prof Trevor Gibbs, tot die toekenningspaneel en later die raad verkies.
“As ʼn lid van hierdie paneel en raad sal ek bydra tot besprekings oor die kriteria waarvolgens ʼn voorlegging vir uitnemendheid geassesseer word, asook tot die assessering van voorleggings van mediese, mondheelkunde- en veeartsenyskole wêreldwyd. Ek sal ook deelneem aan die vergadering van die Aspire-paneel en -raad, wat gehou word tydens die Amee-konferensie wat jaarliks in verskillende dele van Europa plaasvind."
Nadkar sê sy ma is sy grootste rolmodel. “Sy is die toonbeeld van veerkragtigheid, deernis en nederigheid. Dit is haar onwrikbare steun, gebede en leiding wat my gehelp het om groot prestasies in my lewe tot dusver te behaal.
“Prof Julia Blitz, ons vorige Visedekaan: Leer en Onderwys, is nog ʼn rolmodel. Sy was nie net so gaaf om my te mentor nie, maar het my ook bemagtig om verandering in GBO plaaslik en internasionaal te bevorder. Haar onbaatsugtige en empatiese leierskap is ʼn inspirasie."
Ná die voltooiing van sy mediese internskap volgende jaar – en daarna van sy gemeenskapsdiens – wil Nadkar graag in interne geneeskunde spesialiseer.
Hy hoop voorts om 'n meestersgraad en daarna ʼn PhD in gesondheidsberoepe-onderwys te verwerf, “wat my in staat sal stel om my passie vir kliniese geneeskunde en gesondheidsberoepe-onderwys te kombineer en my beter toe te rus om by te dra tot die broodnodige verbeterings wat ek in ons gesondheidsorgstelsel wil sien".
Hy hoop om drie dinge as ʼn mediese dokter te bereik: om ʼn bekwame gesondheidsorgpraktisyn te wees; om as ʼn skolier en as ʼn navorser betrokke te wees; asook om ʼn doeltreffende mediese onderwyser te wees. Dit alles sal hom in staat stel om ʼn holistiese mediese praktisyn in die Suid-Afrikaanse omgewing te wees.
Foto-erkenning: Etienne Swanepoel