
Filmvertoning onthul die stryd met albinisme en opvoeding
Sosiale vooroordeel, familie en opvoeding was enkele onderwerpe wat by die Universiteitsmuseum se vertoning van As We See It, ʼn dokumentêr oor die lewe met albinisme in Suid-Afrika, bespreek is.
Die film roer die uitdagings aan waarmee leerders met albinisme as gevolg van sosiale stigma of visuele gestremdheid te doen kry. Die hoofspelers is Vuyiswa Kama (66), Delicia de Vos (40), Sonele Ntsundwana (22) en Tono Blaai (14).
Die filmregisseur en -vervaardiger, Shirley Gunn, het die vertoning saam met De Vos bygewoon.
Volgens Gunn is die film die produk van twee jaar se navorsing oor laerskole, hoërskole en tersiêre instansies in die Oos- en Wes-Kaap.
“Die vraag rondom onderrig is van kritieke belang," merk sy op.
Een van die vrae wat deur die film gevra word, is of dit vir die leerder met albinisme beter is om ʼn spesiale skool by te woon, of om in hoofstroomonderwys opgeneem te word. ʼn Leerder met albinisme in ʼn hoofstroomskool mag dalk sukkel om op die bord te sien, of ʼn boek met klein druk te lees, maar die meeste spesiale skole bied nie vakke soos suiwer wiskunde of rekeningkunde aan nie.
“Ek dink ons moet ons oordeel opsy skuif en werklik dink oor wat in die beste belang van die spesifieke individuele kind is," sê Gunn.
Onderbefondsde en oorvol skole is ook dikwels nie in staat om leerders met gestremdhede te akkommodeer nie, en leerders met visuele gestremdhede val dikwels as gevolg daarvan deur die krake.
“Met alle respek vir wat die regering probeer doen – daar gebeur nie genoeg nie. En dit is die werklikheid van ieder en elk van hierdie skole wat ek besoek het. Hulle sukkel," sê Gunn.
Met betrekking tot die sielkundige gevolge van sosiale vooroordeel, het De Vos oor haar tyd na haar ondervinding by ʼn spesiale skool gepraat.
“Dit was vir my die moeilikste tyd om aan albinisme te ly en mense staar jou aan en sê vir jou net wat hulle wil. En hulle gee nie om wie hoor nie en hulle gee nie om hoe dit jou raak nie. Sommige dae is ʼn mens beter in staat om dit te hanteer, omdat jy met die regte voet uit die bed geklim het, maar ander dae ontmoedig dit ʼn mens heeltemal en gooi jou van balans af en neem dit jou dae om daaroor te kom.
Na matriek het dit my drie jaar geneem net om werk te kry. Ek sou vir onderhoude gaan en ek was so bang vir verwerping, dat ek by ʼn plek sou instap en my reeds reggemaak het vir 'ek gaan nie die werk kry nie', en ek het selfs meer van die wêreld afgeslote geword," verduidelik De Vos.
“Nou loop ek rond en ek gee geen bloue duit om of iemand my aanstaar, of wat ookal nie. Dit is hoe God my wou hê en as iemand daarmee ʼn probleem het, is dit hulle probleem, nie myne nie. Dit het my bitter lank geneem om tot daardie besef te kom."
Byskrif: (Links na regs) Luigia Nicholas, Lewis Silberbauer, Delicia de Vos, Shirley Gunn, Bongani Mgijima en Marcia Lyner-Cleophas. FOTO: Tegan Mouton