Skip to main content
FGGW-student ontvang gesogte Mensa-beurs

FGGW-student ontvang gesogte Mensa-beurs

FMHS Marketing & Communications
14 Junie 2016

'n Nagraadse student in verpleegkunde aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Luna Chencinski, is een van twee studente aan die Universiteit Stellenbosch wat elk 'n studiebeurs ter waarde van VS$1000 van die Mensa Onderwys- en Navorsingstiging in die VSA ontvang.

Die ander ontvanger, Jess Steyn, is 'n tweedejaarstudent in BA Taal en Kultuur. Chencinski en Steyn is twee van slegs vyf Suid-Afrikaners om hierdie beuse te ontvang.

"Wat hierdie prestasie buitengewoon maak is dat altesaam 11 000 studente wêreldwyd vir hierdie beurse aansoek gedoen het. Die feit dat twee van die vyf beurse aan Suid-Afrikaners, beide van die Wynland-tak van Mensa Suid-Afrika toegeken is, is 'n eerste," het die organisasie in 'n mediaverklaring gesê.

Chencinski, 'n geregistreerde verpleegster wat in Gordonsbaai woon, het in 2003 by Mensa aangesluit. Sy is tans besig met 'n nagraadse diploma in Verpleegonderwys aan die US.  Volgens haar is daar baie min verpleegkunde-opvoeders in Suid-Afrika, waar die vraag die aanbod by verre oorskry. Sy sien daarna uit om 'n positiewe bydra tot die beroep te maak: "Baie min opgeleide verpleërs wil in verpleegonderwys betrokke raak aangesien die meeste verkies om in die kliniese veld te werk, maar ek geniet die onderwys en voel dit is my nisarea. Dit sal vir my ongelooflik lonend wees om selfversekerde en vaardig gekwalifiseerde verpleegsters die veld te help betree."

Mensa is 'n vereniging vir mense met 'n hoë IK en verskaf 'n forum vir intellektuele gesprekke tussen lede. Daar is meer as 120 000 lede in meer as 100 lande regoor die wêreld.

Die Mensa Onderwys- en Navorsingstiging se beursprogram word toegeken op grond van 'n verslag wat deur die aansoeker geskryf word waarin aansoekers hulle loopbaan-, akademiese- en/of beroepsdoelwitte uiteensit, asook 'n verduideliking van hoe hulle beplan om hul doelwitte te bereik. Benoembaarheid word beperk tot Mensa-lede en geen oorweging word gegee aan ouderdom, ras, geslag, vlak van opvoeding, graadgemiddeld, of finansiële behoeftes nie.