Skip to main content
FGGW speel pioniersrol in telerehabilitasie-opleiding

FGGW speel pioniersrol in telerehabilitasie-opleiding

FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Engela Duvenage
04 Julie 2023

Telegesondheid het ver gevorder sedert die dae van landlyn- en tweerigtingradio-oproepe tussen gesondheidspraktisyns wat hulleself in verskillende liggings bevind het.

Pasiënte en sorggewers het deesdae toegang tot advies, konsultasies, opleiding en selfs groepsessies via Zoom, WhatsApp, stemopnames, foto's, e-posse en so meer – in reële tyd of wanneer dit hulle pas.

Drie jaar gelede was dit nog onwettig vir onder meer Suid-Afrikaanse arbeids-, fisio- en spraakterapeute wat rehabilitasiedienste bied om virtuele tuisbesoeke te doen, afstands-konsultasies en virtuele groep- en individuele terapie te verskaf of aangevulde toesig toe te pas. Net dokters kon wettiglik tegnologies konsulteer – en slegs as nog ʼn ander gesondheidspraktisyn in dieselfde kamer as die pasiënt was.

Dit het beteken dat Suid-Afrikaners wat in afgeleë gebiede woon of ander wat gesukkel het om toegang tot gesondheidspraktisyns te bekom van rehabilitasiespesialiste afgesny was – anders as mense wat in die diep Australiese platteland of in die sneeuvelde van Kanada woon en maklike toegang tot telerehabilitasiedienste het. 

Maar in reaksie op die Covid-19-inperkingsmaatreëls het die Suid-Afrikaanse Raad op Gesondheidsberoepe teen April 2020 wetgewing deurgejaag om rehabilitasiepraktisyns in staat te stel om nuwe en huidige pasiënte virtueel of van ʼn afstand te behandel. 

Teen Mei 2020 het die Arbeidsterapievereniging van Suid-Afrika en verwante professionele liggame hul eie riglyne begin publiseer oor hoe om telerehabilitasiedienste te verskaf, hoe om rekeninge uit te maak en hoe om sessies vir gehaltebeheer op te neem.

Fantastiese potensiaal, talle voordele

“Telerehabilitasie het fantastiese potensiaal solank etiese kwessies soos vertroulikheid en privaatheid aandag geniet," aldus prof Nicola Plastow, Hoof van die Afdeling Arbeidsterapie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

“Dit kan net so doeltreffend soos aangesig-tot-aangesigsessies wees. Dit maak beter kommunikasie en meer gereelde kontak moontlik en meer inligting kan aan pasiënte gestuur word om in die vorm van tuisprogramme deur te werk."  

Praktisyns én pasiënte vind by die nuwe regulasies baat.

“Dit maak nuwe indiensnemingsvooruitsigte moontlik. Met voldoende konnektiwiteit kan rehabilitasiespesialiste nou aanlyn praktyke hê. Gesondheidspraktisyns is voorts nie meer beperk tot die lewering van dienste in hul eie provinsies nie," het Plastow bygevoeg.

Pioniers in telerehabilitasie-opleiding

In reaksie op hierdie veranderinge het die hoofde van die Afdelings Arbeids-, Fisio- en Spraak-, Taal- en Gehoorterapie in die FGGW se Departement Gesondheid en Rehabilitasiedienste, asook prof Quinette Louw, departementshoof en uitgelese professor in innoverende rehabilitasie, besef dat die studente gefokusde gehalte-opleiding nodig het.

Die gevolg was die totstandkoming in Oktober 2020 van die Universiteit Stellenbosch Telerehabilitasie-inisiatief, danksy gul steun van die FGGW. Raad is onder meer van twee Australiese universiteite met jare se ondervinding in die bestuur van telerehabilitasieklinieke ingewin.

Plastow is sedert laat 2021 voorsitter van die Departement se Telerehabilitasie-stuurkomitee, bestaande uit prof Marianne Unger (fisioterapie), dr Gouwa Dawood (spraak-, taal- en gehoorterapie) en Monique de Wit (inisiatiefkoördineerder).

In ʼn tyd toe lektore en studente wêreldwyd by aanlyn klasse moes aanpas, het die stuurkomitee kursusmateriaal vir ʼn aanlyn voorgraadse interprofessionele module begin ontwikkel – die eerste opleiding in die lewering van telerehabilitasiedienste in Suid-Afrika.

Dit is in 2021 getoets en teen Maart 2022 het 235 voorgraadse studente reeds teoretiese en praktiese opleiding ontvang. Nege nagraadse studente het die kortkursus vir kliniese beroepslui voltooi (sien aanvullende inligting onder).

ʼn Telerehabilitasiehub is met toegewyde hardeware, sagteware en toesighoudende personeel toegerus. Dit het sedertdien as ʼn ruimte vir opleiding en konsultasies met pasiënte gedien.

Die bestaan van die hub het onder meer meegebring dat ʼn bemagtigingsgroepsessie van ses weke vir pasiënte wat gewoonlik die Tygerberg-hospitaal se Pynkliniek bywoon, kon voortgaan toe inperkingsmaatreëls aangesig-tot-aangesigsessies beperk het. Voorts kon tuisgebaseerde versorgers van die Bishop Lavis-rehabilitasiesentrum en die Andrew Murray-kinderhuis in Wellington steeds aanlyn opleiding ontvang. Kliniese instellings in ander provinsies, soos Upington in die Noord-Kaap, kan nou steun en kapasiteitsopleiding ontvang.

Aanvullend en versterkend

Maar telerehabilitasiedienste kan nie in alle gevalle aangesig-tot-aangesigsessies vervang nie. Konnektiwiteits- en dataprobleme kan frustrerend wees.

De Witt en van haar kollegas het as gasskrywers van redaksionele kommentaar in die Suid-Afrikaanse Joernaal van Arbeidsterapie geskryf “telerehabilitasie is ʼn bykomende diens om die gewone sorg aan te vul en te versterk en is nie ʼn vervanging daarvan nie".

“Dis nie prakties, veilig of moontlik om byvoorbeeld alle fisioterapiesessies te doen sonder iemand wat bystaan nie," het Plastow gesê.

Maar telerehabilitasie het werklik waarde, het Louw bygevoeg. “Rehabilitasie as ʼn gesondheidstrategie het ten doel om mense se funksioneringsvermoë te verbeter, maar word dikwels nie erken of geprioritiseer nie.

“Innovasie speel ʼn sleutelrol om rehabilitasie te versterk in lae- en middelinkomstelande soos Suid-Afrika waar gesondheidstelsels deur fiskale en ander faktore beperk word. Innoverende diensleweringsmodaliteite moet by die versterking van rehabilitasie in die gesondheidstelsel betrek word om toegang en gelykheid te bevorder."

AANVULLENDE INLIGTING 

Voordele vir pasiënte

  • Meer pasiënte ontvang dienste.      
  • Beter toegang tot gesondheidsorg, ook vir afgeleë of geïsoleerde pasiënte.
  • Ondersteun selfbestuur en tuisversorging.  
  • Pasiënte kan verantwoordelikheid vir hul gesondheid neem (veral pasiënte wat chroniese sorg nodig het).
  • Pasiënte hoef nie die huis te verlaat nie.
  • Maak groepsessies en opleiding van tuisgebaseerde versorgers moontlik.
  • Maak sifting van pasiënte moontlik.
  • Pasiënte en versorgers bespaar op reistyd, kostes en om tyd by die werk af te neem.

Reeds gekwalifiseerd?

Die Universiteit Stellenbosch bied nou ʼn inleidende kortkursus van vier weke in kliniese en etiese telerehabilitasie aan gekwalifiseerde gesondheidspraktisyns oor verskeie dissiplines heen. Klinici word op die hoogte gebring van die etiese en bewysgebaseerde gebruik van telerehabilitasie- en telegesondheidsdienste in die Suid-Afrikaanse konteks. Dit word deur e-leer en lewendige aanlyn sessies aangebied.

Navrae: Prof Nicola Plastow by [email protected]

Onderskfrif: ​Prof Quinette Louw, prof Nicola Plastow, dr Gouwa Dawood en prof Conran ​Joseph (agter).​​