Skip to main content
​Fakulteit Opvoedkunde kry nuwe dekaan

​Fakulteit Opvoedkunde kry nuwe dekaan

Corporate Communication
02 Augustus 2019

Op 1 September 2019 verwelkom die Universiteit Stellenbosch (US) prof Mbulungeni Madiba as dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde. Prof Madiba, wat tans aan die Universiteit van Kaapstad (UK) verbonde is, beskou die US as een van Suid-Afrika en Afrika se hoogaangeskrewe universiteite “en dit is ’n groot eer vir my om deel te word van so ’n instelling”.

Prof Madiba dien tans as direkteur van die Veeltalige Onderrigprojek (ofte wel MEP) in die Sentrum vir die Ontwikkeling van Hoër Onderrig (ofte wel CHED) by die UK. Hy was al verskeie kere die adjunkdekaan en waarnemende dekaan van die CHED, is voorsitter van die UK-senaat se taalkomitee en dien ook in die UK-raad.

Hy bring nie net meer as 30 jaar se onderwysondervinding saam met hom nie, maar ook ’n magdom leierskap- en bestuursondervinding. “Ek is opgewonde om as dekaan by die Fakulteit Opvoedkunde aan te sluit en sien daarna uit om saam met al die personeel te werk en goeie leiding en bestuur te verskaf om die fakulteit in staat te stel om in sy missie te groei en een van die land se voorste navorsingsintensiewe opvoedkundefakulteite te word.”

Prof Madiba is ’n vol professor in Veeltalige Onderrig en het ’n DLitt et Phil-graad in Taalwetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verwerf. Hy het ook navorsingsbeurse en studietoekennings van verskeie hoëronderwysinstellings oorsee ontvang, insluitende die universiteite van Keulen, Londen (Oppenheimer-beurs), Birmingham en Harvard (Mandela-beurs).

As ’n gevestigde navorser met ’n C-gradering van die Nasionale Navorsingstigting, is sy vernaamste navorsingsvelde taalbeplanning en -beleid, met ’n spesifieke fokus op veeltalige onderrig.

Prof Madiba se aanstelling sal aanvanklik vir ’n termyn van vyf jaar duur, met die moontlikheid van ’n tweede termyn. Hy neem die leisels oor by prof Christa van der Walt, Visedekaan (Navorsing), wat sedert prof Johan Malan se aftrede aan die einde van Junie in hierdie pos waarneem.

Foto: Je’nine May, University of Cape Town.​