Skip to main content
Einde van ‘n era vir Steinhoff Maties Krieket

Einde van ‘n era vir Steinhoff Maties Krieket

Maties Krieket / Maties Cricket
11 Mei 2016

Die 2016 Nasionale Klubkampioenskapsbyeenkoms was die einde van 'n era en die begin van die volgende vir die Steinhoff Maties Krieketspan.

Nie net het Maties afskeid geneem van Dewald Botha en Emile Kriek nie, maar die span het ook kans gekry om te sien wat die toekoms inhou met die vertonings van eerstejaarboulers Kyle Simmonds en Brandon Glover.

"Die toernooi was 'n wonderlike ervaring vir die spelers en het hulle regtig gemotiveer om hul intensiteitvlakke te verbeter en 'n hoër standaard van krieket te speel. Om drie uit vyf wedstryde teen gehalte opposisie te wen, was bevredigend," het afrigter Andrew Wylie gesê.

"Ons doel om 'n stap verder te gaan as verlede jaar se eindstryd was ons nie beskore nie. Die nederlaag teen Pukke in die derde wedstryd was deurslaggewend en het ons uiteindelik 'n kans op 'n plek in die eindstryd gekos." 

Pukke, met 10 eersterangse spelers, het Maties met vier paaltjies geklop in 'n uiters mededingende wedstryd. Hulle het ook uiteindelik die toernooi gewen deur Tukkies met agt paaltjies in die eindstryd te klop.

Maar dit was die vertonings van die volgende generasie spelers wat Wylie rede gegee het om te glimlag. 

"Die jonger spelers, wat vier eerstejaars ingesluit het, het briljant vertoon en hulle sal vining ontwikkel na só 'n intense toernooi. Kolftoestande was baie moeilik en dit het aanpassing geverg van die stadige Boland-kolfblaaie waaraan ons gewoond is."

​Met betrekking tot Botha en Kriek is dit duidelik dat al het hulle hul laaste wedstryde vir Maties gespeel, hul nalatenskap sal bly. 

"Dewald is 'n uiters mededingende persoon en het 'n aansteeklike selfvertroue. Die span het ongelooflik gereageer op die speler en persoon wat hy is. Hy is 'n uiters talentvolle speler en beskik oor die vermoë om 'n wedstryd vanuit 'n moeilike situasie te wen. Sy veelsydigheid en taktiese bewustheid sal gemis word. 

"Emile is 'n ongelooflike talentvolle speler met 'n natuurlike aanvoeling vir die spel. Hy was vir baie jare 'n staatmaker by die klub en 'n speler na wie die jonger speler regtig opgekyk het en baie respek gehad het. Ek het nog nie iemand op tersiêre vlak gesien met Emile se veldwerkvermoë nie."