Skip to main content
EBW-dekaan een van top wetenskaplikes wat vereer word

EBW-dekaan een van top wetenskaplikes wat vereer word

Ronél Beukes
20 Oktober 2022

​Prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US), en prof Stan du Plessis, 'n voormalige dekaan van dieselfde Fakulteit en nou uitvoerende bedryfshoof van US, is tussen die 29 voorste kundiges en wetenskaplikes wat as lede van die Akademie van Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf) bekendgestel is by sy jaarlikse toekenningseremonie op 19 Oktober 2022.

Die Akademie, wat wetenskap en vakkundigheid ten voordeel van die gemeenskap gebruik, vereer die land se uitmuntendste geleerdes op alle vakgebiede deur hulle as lede van die Akademie te verkies. Nuwe lede word jaarliks deur bestaande lede gekies, en lede dien die gemeenskap deur hul tyd en kundigheid beskikbaar te stel.

ASSAf-lid prof Johann Kirsten, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO), sê "Die Adademie van Wetenskap bevestig die onafhanklikheid van akademiese denke en bring die familie akademici uit verskillende studievelde bymekaar om aktuele gemeenskaps- en beleidskwessies vanuit uiteenlopende perspektiewe te debatteer. As 'n lid van die Akademie is dit 'n groot voorreg om met kollegas van verskillende universiteite en dissiplines te werk. 

"Lidmaatskap van die Akademie gee onder meer erkenning aan daardie akademici wat reeds 'n bydrae tot kritiese beleidskwessies lewer deur middel van hul navorsing en onderrigloopbaan. Prof Woolard se verkiesing tot die Akademie is derhalwe 'n belangrike blyk van waardering vir haar voortgesette werk op die gebied van sosio-ekonomiese beleidsake."

Prof Woolard het gesê dis vir haar 'n besondere eer om op hierdie wyse erken te word. “Ek sien daarna uit om tot ASSAf se doelwitte by te dra, veral die bevordering van doeltreffende, bewysgebaseerde beleidsadvies deur middel van die staande komitee oor armoede en ongelykheid."

Saam met die 29 nuwe ASSAf-lede, het die Akademie nou altesaam 659 lede.

Bo en behalwe ekonomieprofessore Woolard en Du Plessis, het drie ander Stellenbosse akademici lede van ASSAf geword: proff Ronelle Carolissen, kliniese sielkundige en hoogleraar in Sielkunde; Karen Esler, uitgelese professor in Bewaringsekologie en Entomologie; en Christine Lochner, hoogleraar in Psigiatrie en mededirekteur van die SA Mediese Navorsingsraad se Eenheid vir Risiko en Veerkrag op die gebied van geestesiektes.

Terselfdertyd is 10 nuwe lede van die Suid-Afrikaanse Jong Akademie van Wetenskap (SAYAS) bekendgestel. Onder hulle is US se dr Bronwyne Coetzee, senior dosent in Sielkunde.

SAYAS is meer as 'n dekade gelede in die lewe geroep as 'n metode om Suid-Afrika se uitmuntendste jong akademici (jonger as 40) in staat te stel om ten volle aan plaaslike en internasionaal relevante navorsing en ontwikkelingsagendas deel te neem.

  • Vir 'n volledige lys van nuwe ASSAf- en SAYAS-lede, ees, kliek hier​.​​
  • Vir verdere inligting oor ASSAf, besoek die volgende webtuiste: www.assaf.org.za
  • Foto deur Anton Jordaan: Prof Ingrid Woolard by prof Stan du Plessis.