Skip to main content
Duisende nuwe Maties skop nes

Duisende nuwe Maties skop nes

Content Hub/Corporate Communications Division
24 Januarie 2019

​Hulle was oral oor te sien hierdie week … besorgde ouers wat op Stellenbosch aankom, vergesel van senuweeagtige groot-oog nuwelingstudente wat soos meerkatjies stokstyf en regop in die passasiersitplek sit. Dit het bygedra tot die gemengde gevoel van effense angs en opgewondenheid wat in die lug gehang het terwyl die ratte van die nuwe akademiese jaar by die Universiteit Stellenbosch (US) begin draai het. Die eerste rat was die aankoms van sowat 2 300 nuwelingstudente van regoor die land en selfs van buite die landsgrense by die US se koshuise om hulself gereed te kry vir die volgende fase in hul lewe. Baie van die nuwe Matie-nuwelinge het gesê hulle voel beide opgewonde en op hul senuwees oor die begin van hul nuwe studentelewe.

Jamie Lamprecht (18), van Pinelands in die Kaap, se ouer broer Zac het die nuweling gehelp om by Metanoia in te trek. Jamie, wat Ingenieurswese gaan studeer, het aan Korporatiewe Kommunikasie gesê hy is baie opgewonde, veral omdat sy broer ook 'n Matie-student is.

Volgens dr Celeste Nel, Direkteur: Sentrum vir Toelatings en Koshuisplasings, het die US sowat 34 000 aansoeke van nuweling-eerstejaarstudente ontvang, waarvan 17 700 volledig was en vir die 2019-inname oorweeg kon word.

“Daar is 5 300 plekke en ongeveer 2 300 beddens vir eerstejaarstudente op die Stellenbosch- en Tygerbergkampusse beskikbaar. Die Universiteit werk ook saam met privaat diensverskaffers om bykomende geakkrediteerde privaat verblyf te verskaf," het Nel gesê.

Nog 'n nuwelingstudent, Angel Nkosi, wat saam met haar ma Damali al die pad van Pretoria afgekom het om by Nerina haar intrek te neem, het haar dankbaarheid uitgespreek vir die feit dat sy plek in 'n US-koshuis kon kry.

Liza Brink van die Paarl en haar ma Marianna het douvoordag al hul sportnutsvoertuig vol gelaai en die pad Stellenbosch toe gevat sodat Liza, 'n eerstejaar BCom-student, by Serruria kon intrek. “Ek was al siek van wag vir hierdie dag om aan te breek; ek kan nie wag om die res van die studente in my koshuis te ontmoet en nuwe vriende te maak nie," het Liza gesê. Liza se ma weer sien daarna uit om haar huis vir haarself te hê noudat haar dogter in die koshuis is.

By Irene-koshuis het Nikita en moederlief Esmarelda Daniels van Grassy Park gesê hulle is albei opgewonde oor die nuwe reis. “Ek is besonder trots op my dogter en al haar prestasies. Vandag is 'n gelukkige, dog hartseer dag vir my omdat ek emosioneel voel oor my kind wat uit die huis gaan en weg van my af gaan wees." Maar Nikita het gesê sy is baie opgewonde en sy kan nie wag vir die klasse om te begin nie.

'n Opwindende weeklange verwelkomingsprogram is saamgestel om die nuwe Maties aan die kampuslewe bekend te stel. Van die hoogtepunte op die program sluit die jaarlikse “Venters" in wat Vrydag 1 Februarie gehou word. Al die nodige besonderhede, asook die volledige verwelkomingsprogram vir die nuwelingstudente, is op die Universiteit se webwerf, www.sun.ac.za, beskikbaar. Besoek die webwerf vir meer inligting oor onder meer die registrasieskedule, vervoer, persoonlike veiligheid, die biblioteek, gratis raad oor skryfwerk en ander aspekte van die Universiteit.