
Dringende ingryping vir geestesgesondheid nodig gedurende COVID-19-pandemie
Die COVID-19-pandemie het baie mense se geestestoestand aangetas. As daar nie dadelik opgetree word nie, mag dit dalk moeilik wees om hierdie skade om te keer, skryf prof Soraya Seedat van die Departement Psigiatrie in ʼn meningsartikel vir News24.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Soraya Seedat*
Die COVID-19-pandemie het miljoene mense wêreldwyd siek gemaak en ook baie mense se geestestoestand aangetas. As daar nie dadelik opgetree word nie, mag dit dalk moeilik wees om hierdie skade om te keer. Die pandemie en die meegaande sosiale isolasie sal na verwagting tot nuwe gevalle van geestesongesteldhede by talle Suid-Afrikaners lei, terwyl dit bestaande geestestoestande kan vererger. Dertig maande ná die SARS-uitbreking in 2003 (die eerste groot uitbreking van 'n aansteeklike siekte in die 21ste eeu), het 'n derde van die oorlewendes aan die kriteria vir enige psigiatriese versteuring voldoen, 'n kwart het aan die kriteria vir post-traumatiese stresversteuring (PTSV) voldoen en ongeveer 16% het aan depressiewe siektes gely. Hierdie statistieke beklemtoon die belangrikheid van die opsporing en behandeling van geestesiektes by mense met COVID-19 en hul kontakte.
Ons kan nie die ernstige negatiewe nagevolge van spanning, vrees, groot verlies en hartseer ignoreer nie. Te oordeel na die bewyse van ander lande, sal arm Suid-Afrikaners (meer as 50% van Suid-Afrikaners leef onder die broodlyn) die ergste op fisieke en geestesgesondheidsvlak geraak word en die grootste maatskaplike en ekonomiese gevolge van die siekte dra.
Miljarde mense regoor die wêreld was of verkeer tans heeltemal of gedeeltelik in 'n staat van algehele inperking. Dit kan 'n “reuse-eksperiment" wees, maar die gevolglike fisieke afstandskepping het die oordragsketting ongetwyfeld vertraag. Met dit gesê, het die pandemie en die inperking, onafhanklik en gekombineerd, tot onbedoelde gevolge gelei weens die verbreking van gesinsbande en deur sosiale norme, waardes en rituele te inhibeer. Dit sal waarskynlik 'n ernstige tol op die geestesgesondheid van mense eis – nie net onmiddellik en in die kort termyn nie, maar ook in die toekoms.
Kwarantyn kan tot PTSV-simptome, depressie en alkoholmisbruik en -afhanklikheid lei, terwyl daar bewyse is dat langdurige kwarantyn met verswakte geestesgesondheid, veral PTSV, gepaard gaan. Tydens vorige epidemies van aansteeklike siektes, was algemene stressors wat deur kwarantyn ondersteun is, 'n lang tydperk van kwarantyn, vrees dat die persoon sal aansteek, frustrasie, verveeldheid, tekort aan voorrade, onvoldoende inligting vanaf openbare gesondheidsowerhede, finansiële verlies en stigma. Dit is alles stressors wat in die huidige pandemie ondersteun word.
Navorsing oor die geestesgesondheidsgevolge van ekonomiese krisisse het vir ons meer geleer oor die duidelike verband tussen ernstige ekonomiese resessie en sielkundige nood op bevolkingsvlak, insluitende die voorkoms en verergering van gemoedsversteurings, angs en middelverwante versteurings en selfdood. Sosiale afstandskepping, ekonomiese bekommernisse, verhoogde angs en skuldgevoelens (oor die blootstelling van ander aan die virus of omdat die persoon nie genoeg doen om ander te help nie) is alles risikofaktore vir selfdoodgedrag (dit sluit selfdoodgedagtes, pogings en voltooide selfdood in).
Danny Horesh en Adam Brown voer in 'n onlangse artikel aan dat die COVID-19-pandemie, net soos ander massa-traumatiese gebeure, na verwagting PTSV tot gevolg sal hê, met tipiese kenmerke van hiperversigtigheid (gefokus op beskermingsmaatreëls om infeksie te voorkom), indringergedagtes (verwant aan infeksie, gesondheid, vrees om te sterf), vermyding en negatiewe gemoedstemming en waarneming (rondom vrese oor die wêreld wat verander en dat die toekoms wat bleek lyk) wat subjektief kommerwekkend sal wees en die daaglikse funksionering mettertyd sal beïnvloed.
Te midde van die beperkings en meegaande ekonomiese ontberinge, kan Suid-Afrika se jeug en mense met bestaande geestesiektes veral swaar getref word deur die COVID-19-krisis se moontlike ernstige en langtermyn-uitwerking op geestesgesondheid. Die spanning, vrees en emosionele pyn wat deur die vinnige en aggressiewe verspreiding van infeksies veroorsaak word, asook die omvang van langdurige smart weens die skielike en massiewe lewensverlies, gaan vir 'n lang tyd en deur komende geslagte gevoel word. Soos ander pandemies, word hierdie een ook deur onvoorspelbaarheid, wydverspreide impak op die gemeenskap, massa-sterftes en volharding gekenmerk – soos aangetoon deur die Amerikaanse geleerdes Ginny Sprang en Miriam Silman.
Die COVID-19-pandemie hou ook unieke uitdagings vir die bestuur van pasiënte met geestesiektes binne en buite die hospitaal in. Voor die pandemie was psigiatriese dienste in ons openbare gesondheidstelsel – veral op distriks- en gemeenskapsvlak – reeds onder erge druk met 'n tekort aan hulpbronne soos beskikbare beddens en geestesgesondheidpersoneel. Die ontplooiing van hierdie personeel om met die sifting en bestuur van vermoedelike en bevestigde COVID-19-gevalle in algemene mediese omgewings te help, asook die sluiting van psigiatriese sale weens COVID-19-infeksies, het verder bygedra tot die uitdaging om voldoende psigiatriese sorg te verskaf. Psigiatriese sale in openbare hospitale word tipies deur 'n tekort aan beddens, oorbevolking en die deel van eet- en badkamers en ruimtes vir daaglikse aktiwiteite (byvoorbeeld vir groepaktiwiteite soos arbeidsterapie en groepspsigoterapie) gekenmerk.
Gegewe hul gekompromitteerde en versteurde geestestoestand, deurmekaar optrede, impulsiwiteit, selfsorg wat nie optimaal is nie en belemmerde insig, mag pasiënte met geestesiektes nie in staat wees om aan infeksievoorkoming- en beheermaatreëls te voldoen en hulself teen COVID-19 te beskerm nie. Diegene wat nie sorg by geriewe vir buitepasiënte kan kry nie, sal moontlik na hul eie geestes- en fisieke gesondheid moet omsien, soos Benjamin Druss van die Emory-universiteit onlangs geredeneer het. Bestaande sosiale afstandskepping, eensaamheid, haweloosheid, swakker fisieke gesondheid by pasiënte wat aan ernstige geestesiektes (bv skisofrenie, bipolêre siekte) ly, oorgewig/vetsug, gebrek aan oefening en ander ongesonde leefstylfaktore wat met psigiatriese siektes verband hou, asook die newe-effekte van psigotropiese medikasie skep bykomende risiko's. Weens die hoë koers van die medevoorkoms van liggaamlike siektes (soos diabetes en hartsiektes) – ten minste twee keer hoër as onder die algemene bevolking – het pasiënte met geestesiektes 'n verhoogde vatbaarheid vir COVID-19-longontsteking en ander komplikasies.
Ons geestesgesondheidstelsel moet dringend versterk word deur multisektorale ingrypings wat op geestesgesondheid, welstand en veerkragtigheid vir beide die algemene bevolking en kwesbare groepe fokus. Dit sluit in (maar is nie tot dit beperk nie) gesondheidsorgwerkers, vroue, die jeug, bejaardes en mense met geestesiektes. Hierdie ingryping moet in die algemene mediese sorg wat reeds vir die COVID-19-pandemie verskaf word, ingebed word.
Gegewe die skaal van die pandemie, het ons nou nog meer as ooit tevore betroubare navorsing nodig om meer te wete te kom oor die psigiatriese en neurologiese manifestasies en die uitwerking daarvan op ons algemene bevolking en op kwesbare groepe. Verskeie navorsingstudies word reeds tans by my instelling, die Universiteit Stellenbosch, gedoen, waarvan 'n aantal samewerkende, veellandige inisiatiewe (bv www.coh-fit.com) is. Aangesien dit 'n nuwe, verwoestende virus is, mag dit verstandig wees om die abnormale gevolge vir geestesgesondheid en die hulpbronne wat nodig is, te oorskat. Ons kan die gesondheidsektor se interverbondenheid en die geweldige gekoördineerde reaksie wat COVID-19 genoodsaak het, hiervoor benut.
*Prof Soraya Seedat is die uitvoerende hoof van die departement Psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch.