Dr Ruenda Loots bemagtig studente met ervaringsgerigte onderrig
Hierdie Vrouemaand vier ons akademiese personeellede aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat denke vorm en uitnemendheid deur hulle onderrig inspireer. Hierdie merkwaardige opvoeders bring passie, vernuwing en toewyding na die lesinglokaal en help studente om te floreer en sukses te behaal. Hulle stories weerspieël die impak van vroue in die hart van die US se akademiese gemeenskap.
Met ʼn PhD gefokus op biochemie, mikrobiologie en biomimiek bring dr Ruenda Loots ʼn unieke perspektief na haar werk in volhoubaarheidsonderrig aan die US se Skool vir Publieke Leierskap. Sy skep ervaringsgerigte, boeiende leergeleenthede wat studente bemagtig om veranderingmakers te word. In 2022 het Loots erkenning vir haar bydrae tot Entrepreneurskapsleer en -onderrig in Suid-Afrika se hoëronderwyssektor gekry toe sy met ʼn Entrepreneurskapontwikkeling in Hoër Onderwys-toekenning vereer is en in 2024 het sy ʼn Onderrig-Leer-Assessering-toekenning van die US ontvang.
Vertel ons ʼn bietjie meer oor jou agtergrond.As kind het ek daarvan gedroom om ʼn veearts of natuurbewaarder te word en as tiener het ek gedink ek sou ʼn sielkundige word. Ek is dankbaar dat my loopbaan ʼn minder konvensionele roete ingeslaan het. Nou is ek ʼn voormalige radio-omroeper met biochemiegrade en onderrig ek volhoubare ontwerp in ʼn eko-dorp.Onderwys was nie iets wat ek beplan het nie, maar ek was nog altyd lief vir leer. As kind het ek die meeste van die tyd gelees of buite gespeel, wat my verbeelding en nuuskierigheid laat vlamvat het – en waarskynlik die rede was hoekom ek uiteindelik natuurwetenskappe as studierigting gekies het. Ek moet erken dat ʼn paar biochemie-eksamens my tot trane gedryf het, maar proteïene het my begin fassineer en dit het die koers vir my nagraadse studies bepaal.Ek het tydens my studies gewerk by MFM 92.6, ons kampusradiostasie, wat my passie vir volhoubaarheid weer laat vlamvat en my na die Volhoubaarheidsinstituut in die Lynedoch-ekodorp gelei het, waar ek die projekkoördineerder was. Daar het ek nuwe maniere van onderrig ontdek: leer in die buitelug, met die natuur as vennoot. Dit het my onderrig en leiding in die Diploma in Volhoubare Ontwikkeling gevorm.
Het enige onderwysers of rolmodelle ʼn blywende indruk op jou gemaak?Een van my grootste invloede was my Afrikaans-onderwyser op hoërskool. Hy was mal oor poësie en het ons aangemoedig om te 'skryf net wat jy wil'. Danksy hom het ek honderde gedigte en essays gedurende my hoërskooljare geskryf en ek deel steeds my skryfwerk met hom.Deesdae is ek deel van ʼn toegewyde span wat verbind is tot die skep van koesterende ruimtes vir jongmense:· Mev Rosslyn Abrahams, ons wonderlike programadministrateur.· ʼn Toegewyde span 'prakademici' en akademici wat onderrig met ongelooflike sorg inspireer.· Sielsgenote in my gemeenskap van praktyk wat gefokus is op transformasie in hoër onderwys.Shaun Dunn, wat saam met my die Diploma in Volhoubare Ontwikkeling onderrig, is ook ʼn voortdurende bron van inspirasie. Sy vriendelikheid, wysheid en diep band met die natuur het werklik verander hoe ek onderrig!
Is daar ʼn spesifieke aspek van jou kursus of vakgebied wat jy veral geniet om te onderrig?Die internskapmodule vir ons finalejaarstudente is in baie opsigte die oes van ons kollektiewe werksaamhede in die Diploma. Ek lei hierdie studente terwyl hulle oor hulle vaardighede besin, hulle CV's voorberei en vir internskappe aansoek doen, maar dit is uiteindelik hulle avontuur om te navigeer. Ek is in die agtergrond, soos ʼn ondersteunende rasieleier, terwyl hulle eienaarskap neem van hulle internskapervaring – en uiteindelik van hulle reis ná graduering.Ek sê dit nie vir hulle nie, maar ek raak net so senuweeagtig soos hulle gedurende hulle CV-voorbereiding en skynonderhoude. Dit gaan alles daaroor om hulle sagkens uit die universiteitsnes te stoot en daar is niks beter as om te sien hoe hulle weer opstaan ná ʼn val, mekaar deur die moeilike oomblikke aanmoedig en hulle outentieke self word nie. Een student het hierdie module “Volwassewording 101" gedoop en dit maak my hart bly om te weet ek help hulle om selfvertroue vir die pad vorentoe te bou.
Wat is die grootste beloning van ʼn dosent aan die US?Dit is die studente wat my aan die gang hou. Die beste dae is wanneer die klaskamer met lag gevul is (al is dit net ten koste van my as gevolg van een of ander TikTok-gier). Dis ongelooflik lonend om te sien hoe ʼn skaam student in ʼn selfversekerde spreker ontluik of ʼn rowwe idee in ʼn besigheidsvoorlegging ontwikkel. En wanneer oudstudente kom kuier om oor die ou dae te gesels, word ek daaraan herinner dat hierdie hele reis regtig vir hulle is.Die studente het my gewys hoe om outentiek as my volledige self op te daag: die nuuskierige kind, die biochemikus, die digter, die aktivis en die (uitgeputte) ma. Soos ʼn reël in die gedig “Ulysses" lui: 'Ek is deel van almal wat ek ontmoet het.' Die vreugde van betekenisvolle onderrig is dat ons heelalle ryker is omdat ons tyd in mekaar se wentelbane deurgebring het.
Watter raad sou jy aan jonger vroue gee wat vandag die onderwysberoep betree?Onderwys kan ongelooflik vervullend wees, maar dit is uiteindelik steeds ʼn werk. Ek is mal oor hierdie aanhaling van Henry Thoreau: 'Die prys van enigiets is die hoeveelheid lewe wat jy daarvoor verruil.' Jy moet besluit wat jy van jou loopbaan wil hê en wat jy bereid is om in ruil daarvoor te gee – en daardie formule lyk vir almal anders. Die belangrikste is dat jy nie perfek hoef te wees nie en nie vir alles hoef ja te sê nie. Ek geniet dit baie meer om te onderrig sedert ek onvolmaaktheid en die woord 'nee' leer omarm het.
FOTO: Stefan Els