
Die maatskaplike invloed van landelike gesondheid verken
Navorsers het hulle kennis oor en ervaring van volhoubare landelike gesondheid met mekaar gedeel tydens die jaarlikse navorsingsdae oor Volhoubare Landelike Gesondheid wat in Mei vanjaar op die Universiteit Stellenbosch se Worcester-kampus aangebied is.
Die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het hierdie belangrike byeenkoms vir die sesde agtereenvolgende jaar aangebied.
"Die tema 'Werp lig op die invloed van gesondheid op maatskaplike vernuwing', is versigtig gekies om die klem te plaas op innoverende navorsing oor landelike gesondheid wat ook die vermoë het om maatskaplike verandering teweeg te bring," het dr Guin Lourens, Bestuurder van die Kliniese Opleidingsplatform by die FGGW, gesê.
Ongeveer 150 kongresgangers het die geleentheid bygewoon. Die byeenkoms word moontlik gemaak deur ondersteuning van die Departement van Gesondheid, onderrig- en navorsingsinstellings en nie-regeringsorganisasies. Dit word beskou as die hoeksteen vir navorsing oor gesondheid in landelike dele van die Wes-Kaap
Die byeenkoms, wat twee dae geduur het, het aan navorsers en akademici wat navorsing doen oor kwessies wat met landelike gesondheid verband hou die geleentheid gebied om hulle navorsingsbevindings voor te lê aan ʼn gehoor bestaande uit navorsers, akademici, nie-regeringsorganisasies en bestuurlede van die Departement van Gesondheid.
Daar was vanjaar 21 mondelinge aanbiedings wat gefokus het op gesondheidstelsels, die opleiding van gesondheidspraktisyns, gemeenskapsgesondheid, rehabilitasie en landelike gesondheid.
"Plakkaatvoordragte is vir die eerste maal in die geskiedenis van die navorsingsdae toegelaat en daar was nege aanbiedings oor onderrig in die gesondheidsberoepe en landelike gesondheid," het Lourens gesê.
Sy het bygevoeg dat die byeenkoms aangebied is in samewerkingmet die Anova Gesondheidsinstituut was en dat dit weer volgende jaar gehou sal word.
Die nuwe direkteur van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid, prof Ian Couper, het gesê hy is baie opgewonde oor die geleentheid. "Dit is wonderlik om by die Sentrum aan te sluit en te ontdek daar is so ʼn lewendige gemeenskap wat navorsings doen oor landelike gesondheid. Ek hoop ons kan voortbou op ons vennootskappe, waarvan die sukses duidelik geblyk het by die byeenkoms, om ons navorsingskapasiteit en -uitsette te verhoog en ʼn navorsingskern in Worcester te ontwikkel."
Foto: Die wenners van die beste plakkaatvoordrag in die kategorie vir Landelike Gesondheid was drie finalejaar- mediese studente wat ʼn projek tydens hulle elektief in Malawi voltooi het. Hulle is (van links na regs) Lisa van der Merwe, Rachel Wood en Vanessa Viljoen.