Skip to main content
Die Eenheid vir Bio-etiek lewer navorsing met impak in mediese etiek

Die Eenheid vir Bio-etiek lewer navorsing met impak in mediese etiek

Faculty of Arts and Social Sciences / Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
13 Maart 2023

Die uitdagings in bio-etiek, die ervaring van ʼn ongeneeslike siekte, ondersteunde dood, orgaanhandel, voortplanting en aborsie is slegs enkele van die onderwerpe wat deur die Eenheid vir Bio-etiek nagevors word.

Die Eenheid vir Bio-etiek vorm deel van die Sentrum vir Toegepaste Etiek (STE), wat in 1990 deur prof Anton van Niekerk in die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch gevestig is. Die STE onderneem innoverende navorsing wat fokus op die oplos van etiese uitdagings in geneeskunde, die sakewêreld, die omgewing, die staat en die burgerlike samelewing. Die STE huisves vyf navorsingseenhede, waaronder die Eenheid vir Bio-etiek, ʼn interdissiplinêre navorsings- en adviesliggaam. Die Eenheid fokus op probleme wat spruit uit die toepassing van etiese norme op praktyke en prosedures in die moderne wetenskap, geneeskunde en biotegnologie. 

Dr Malcolm de Roubaix, ʼn navorsingsgenoot by die Eenheid, het onlangs ʼn boek met die titel Responsible Reproductive Choice in the 21st Century: Procreation and Abortion uitgegee. Dit volg op stelselmatige wyse die spoor van die ontwikkeling en belang van vroulike voortplantingsregte, waaronder die reg op die veilige beëindiging van swangerskap (BvS). Dr De Roubaix benader die eindelose pro-lewe/pro-keuse-debat uit ʼn historiese, maatskaplike, emosionele en regsperspektief, met die primêre fokus op Suid-Afrika teen die globale agtergrond.

Volgens dr De Roubaix is die boek nie slegs tot nut vir morele filosowe, teoloë, verskaffers van mediese dienste of studente in hierdie vakgebiede nie. Dit is ook toeganklik vir enigeen wat bereid is om hulle aanvaarde oortuigings of idees te bevraagteken en buite-die-kassie-denke aan te gryp.

“Daar word algemeen geglo dat die wêreld oorbevolk is. Tog leef ons in ʼn verouderende samelewing, en sal die wêreldbevolking binne 60 jaar die hoogtepunt van tussen 10 en 11 biljoen bereik. Die wêrelddemografie sal drasties verander en die proporsie bejaarde mense sal baie groter as nou wees. Dit sal ʼn merkbare invloed op die volhoubaarheid van die samelewing, soos ons dit ken, hê. Met die lae vrugbaarheidskoers, wie sal werk, onderwys gee, versorg (bejaardes en in gesondheidsorg), of invloei voorsien om versekerings- en pensioenskemas aan die gang te hou? Hoe kan ons hierdie spannings versoen? Is dit dus ons plig om voort te plant? Is voortplanting ʼn reg of ʼn voorreg? Wat beteken verantwoordelike voortplanting? Beteken dit dat die armes nie moet voortplant nie? Hierdie en ander vrae word in die boek bespreek."

Akademiese uitnemendheid is nie vir dr De Roubaix vreemd nie. Buiten vir Procreation and Abortion, het dr De Roubaix ook die Afrikaanse boek, Hoop, Heling en Harmonie: Dink Nuut oor Siekte en Genesing, uitgegee, waarvoor hy in 2021 die Andrew Murray-prys vir Teologiese Publikasies ontvang het. Die komende hersiening van hierdie boek sal A Journey into the Human Experience of Incurable Disease: From Hope to Healing genoem word.

From Hope to Healing is ʼn kritiese ondersoek van die unieke menslike ervaring van en reaksie op siekte en behandeling, wat die liggaam, verstand en die kern van die menslike bestaan en identiteit beïnvloed. Dr De Roubaix sê: “Hierdie boek kyk tydig en stelselmatig na die unieke eise van ons tyd, met volop literatuurverwysings en sitate, en daag die leser uit om van nuuts oor die ervaring van siekte te besin."

Dr De Roubaix is meer as ʼn akademikus en navorser; hy is ook in wese ʼn skrywer, met verskeie boeke op pad – Taking ownership of your ageing en Tiny habits to age successfully and live longer – en vir die pret, ʼn bundel kortverhale. In sy vrye tyd is hy besig met die afhandeling van ʼn bloedige Suid-Afrikaanse misdaadroman, genaamd Broken Lives, waarin daar minstens sewe lyke voorkom!

Nog een van die Eenheid vir Bio-etiek se nuwe navorsingsgebaseerde publikasies is Challenges in Medical Ethics: The South African Context, onder redaksie van C Jones, M Kruger, J van den Heever en AA van Niekerk. Die vier lede van die Eenheid wat tot hierdie boek bygedra het, is prof Anton van Niekerk, prof Willem Landman, dr Susan Hall en dr Andrea Palk.

Prof Anton van Niekerk, Direkteur van die Eenheid vir Bio-etiek en die Sentrum vir Toegepaste Etiek, sê: “Ons is besonder trots op Malcolm de Roubaix se jongste werk, die eerbetonings wat dit ontvang het en die toonaangewende uitgewer (Cambridge Scholars). Die afgelope jaar was ʼn goeie een vir ons Eenheid, ook in die lig van die boek wat, met die finansiële steun van die Eenheid, deur Jones, Kruger, Van Heerden en Van Niekerk geredigeer is.

“Hierdie boek (Challenges in Medical Ethics: The South African Context) ondersoek bio-etiese kwessies wat vir Suid-Afrika in die besonder van belang is en wat nog nie in só ʼn omvattende volume deur voorste bio-etici ontwikkel is nie. Hierdie kwessies sluit bio-etiek en die wet, die reg op gesondheidsorg, beëindiging van swangerskap, ondersteunde dood, gender en atletiek, oorplantings, MIV-positiewe skenkers in nieroorplantings, orgaanhandel, geestesgesondheid en multikulturalisme, neuro-etiek, beduidend langer lewensduur, mediese navorsing en mediese tegnologieë in."