
Data van Suid-Afrika bevestig groter risiko van herinfeksie met Omikron
Twee metodes wat deur Suid-Afrikaanse wetenskaplikes ontwikkel is om tekens van immuunontduiking deur variante van kommer (soos Omikron) op bevolkingsvlak op te spoor, sal openbare gesondheidsowerhede se vermoë om betyds op nuwe variante te reageer, daadwerklik verbeter.
In 'n artikel wat vandag in die toonaangewende vaktydskrif Science gepubliseer is, beskryf die wetenskaplikes twee metodes vir die ontleding van herinfeksietendense in roetine- waarnemingsdata van laboratoriums. Op bevolkingsvlak beteken dit dat tekens van immuunontduiking deur 'n potensiële variant van kommer, opgespoor kan word selfs voordat laboratoriumontledings dit bevestig.
Hierdie metodes is gebruik om die risiko van herinfeksie gedurende die tweede, derde en vierde vlae van SARS-CoV-2 in Suid-Afrika te moniteer. In November 2021 het die navorsers die eerste bewyse verskaf van Omikron se vermoë om die natuurlike immuunrespons wat deur vorige infeksie opgebou is, te ontduik. In Desember het hulle 'n voordruk artikel vrygestel waarin die aandag gevestig is op die verhoogde risiko van herinfeksie.
Prof Juliet Pulliam, direkteur van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA) wat by die Universiteit Stellenbosch gesetel is en eerste outeur, sê hulle wou vasstel of daar epidemiologiese bewys vir 'n verhoogde risiko van herinfeksie met die Omikron-variant, in vergelyking met die Beta- en Delta-variante is. Dit is 'n belangrike vraag, aangesien 'n toename in herinfeksies 'n aanduiding sou wees van die feit dat die nuwe variant die vermoë ontwikkel het om natuurlike immuniteit wat met vorige infeksie opgebou is, te ontduik.
Sy sê gedurende die eerste drie vlae van infeksie wat Suid-Afrika getref het, het hulle roetine waarnemingsmonitering 'n lae aantal vermoedelike herinfeksies opgespoor in ooreenstemming met herinfeksies met die “wilde tipe" virus. Die eerste herinfeksies is in Junie 2020 waargeneem, en die aantal vermoedelike herinfeksies het geleidelik toegeneem tot ongeveer 30 duisend – of ongeveer 1% van hulle wat in aanmerking gekom het vir herinfeksies – teen die einde van die derde golf.
Teen die middel van November 2021 het hulle waargeneem dat die tempo van toename in die aantal herinfeksies, vinnig die verwagtinge (gebaseer op wat in vroeëre golwe waargeneem is), oortref het: “Die werklike aantal herinfeksies wat ons in middel November gesien het was laag – 'n gemiddeld van ongeveer 23 per dag – maar as gevolg van die robuuste metodes wat ons ontwikkel het, kon ons vasstel dat dit aansienlik hoër was as wat verwag sou word in die afwesigheid van 'n immuunontwyker-variant (ongeveer tien per dag)," verduidelik sy.
Die tydsberekening van hierdie afwyking in die epidemiologiese data is later geassosieer met die verskyning van die Omikron-variant, wat deur Suid-Afrikaanse wetenskaplikes geïdentifiseer is en op 25 November 2021 openbaar gemaak is.
Terwyl die hoof bevinding van die ewekniebeoordeelde artikel wat vandag in Science gepubliseer is, dieselfde is as in die voordruk artikel, sluit dit data van tot einde Januarie 2022 in. Volgens Prof Pulliam, toon dit dat die herinfeksierisiko klaarblyklik gestabiliseer het by hierdie hoër vlak noudat Omikron die dominante variant is.
Oor die benaderings wat gevolg is, sê sy dat albei twee belangrike faktore verklaar het, wat ander ontledings van herinfeksierisiko bemoeilik het: “Eerstens, dat die aantal mense wat in aanmerking kom vir herinfeksie toeneem oor tyd, en tweedens dat die risiko van herinfeksie – insluitend vir mense wat voorheen geïnfekteer was, verander soos wat die viruslading wat in die bevolking sirkuleer, oor tyd verander.
“Ons benaderings het gesoek na veranderinge in herinfeksies bo en behalwe wat slegs verwag sou word van hierdie twee verskynsels – dit wil sê, op soek na 'n sein dat iets verander het in die manier waarop die virus mense met vorige infeksie, infekteer."
Sy sê die eerste benadering voorspel die aantal verwagte herinfeksies indien die virus hom gedra soos voorheen en dit vergelyk die verwagte aantal met dié wat waargeneem word. Die tweede benadering gebruik 'n meer gedetailleerde model om die onderliggende herinfeksiedinamika te rekonstrueer en skat dan die risiko van herinfeksie oor tyd.
Die data vir hierdie ontledings is ingesamel deur Suid-Afrika se Nasionale Aanmeldbare Mediese Toestand-waarnemingstelsel en saamgestel deur navorsers by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD). Die ontleding is gegrond op 2,942,248 individue met laboratoriumbevestigde positiewe SARS-CoV-2 toetsresultate ten minste 90 dae voor 31 Januarie 2022. Hiervan was 105,323 vermoedelik herinfeksies.
Prof Pulliam sê hulle metodes werk die beste in kontekste met lae inentingsyfers, maar goeie bevolkingwaarnemingsdata. Verdere werk is nodig om die metodes aan te pas vir areas met hoë inentingsyfers. Medianavrae: Whatsapp 079 427 1976 vir medianavrae
Bron: Increased risk of SARS-CoV-2 reinfection associated with emergence of Omicron in South Africa, Science. DOI: 10.1126/science.abn4947