
'Dankie vir jou ondersteuning'
Waardering, ondersteuning, lojaliteit, toewyding en die positiewe verskil wat ons kan maak as ons saamspan. Dit was die algemene tema van 'n geleentheid wat Donderdagmiddag gehou is om personeel van die Universiteit Stellenbosch te vereer wat 'n finansiële bydrae aan die Universiteit lewer.
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het gesê hy is dankbaar vir die geleentheid om persoonlike dankie te sê vir hierdie personeel-skenkers en het ook die impak van individuele skenkings beklemtoon. "Of jy nou al vir jare gee - of net begin het om te gee - ek wil graag dankie sê.
"Dit beteken baie. Selfs al is dit net R50 per maand, dit kom neer op iets. As elke personeellid R50 per maand sou gee, sal ons op R175 000 per maand te staan kom. Dit is meer as genoeg om te sorg vir die volle jaar koste van een student," het prof De Villiers.
Hy het bygevoeg: "Dit is die krag van individuele skenkings - groot of klein, die kollektiewe saamkoms van passie, tesame met hulpbronne, het 'n groot impak om die Universiteit vorentoe te beweeg. As personeellede, is jou finansiële belegging 'n teken dat jy glo in die visie van die US en dat jy verbind is tot sy toekoms. Glo my, dit beteken die wêreld vir my, die wete dat daar kollegas is wat my passie deel vir dit wat ons saam kan bereik."
Prof De Villiers het gesê die instelling het 'n beduidende verantwoordelikheid om gekwalifiseerde graduandi te lewer wat kan voortgaan om 'n betekenisvolle bydrae tot die land se ekonomie te lewer. "Vanjaar ken ons ongeveer 8 000 grade en diplomas toe, en julle het 'n groot rol daarin gespeel. As ons omgee vir hierdie land en sy mense, dan is opvoeding die antwoord. Beslis die beste belegging wat enigeen van ons kan maak," het prof De Villiers aan die skenkers gesê.
Prof Sadulla Karjiker, en me Silke de Lange, van die Regsfakulteit is van die personeellede wat gretig is om 'n verskil te maak. "Dit maak nie saak wat ons menings oor die studente-proteste is nie, dit bly 'n feit dat daar 'n ernstige probleem is wat aangespreek moet word. Hierdie studente het finansiële hulp nodig om 'n opvoeding te kry," het prof Karjiker, bekleër van die Anton Mostert Leerstoel in Intellektuele Goederereg, gesê.
"Ek het toe gedink, hoe kan ek help, al is dit ook in 'n klein mate," het hy bygevoeg.
Prof Karjiker het dus begin met 'n projek om personeel van die Regsfakulteit, studente en alumni bymekaar te kry om in te skryf vir volgende jaar se Argus-fietsrytoer en so geld te maak wat vir beurse aangewend sal word.
"Ek besef nie almal van ons het diep sakke nie, maar ons het tyd en dit is 'n feit dat wanneer mense saamstaan, kan ons 'n groot verskil maak."
Karen Bruns, die US se Senior Direkteur van Ontwikkeling & Alumni, en wie se Afdeling die geleentheid gereël het, het gesê personeel-skenkers se passie vir en toewyding tot die Universiteit Stellenbosch het nie ongesiens verbygegaan nie. "Ons wou graag wys dat ons hulle ondersteuning waardeer want nie net gee hulle hul tyd en talente aan die Universiteit deur die werk wat hulle in hul onderskeie afdelings doen nie, maar gee ook finansiële steun."
- As jy graag deel wil word van prof Karjiker se projek, kontak vir [email protected] of [email protected].
Het jy geweet?
- Die US het al oor die jare 1.6m van personeel-skenkers ontvang.
- Die aantal skenkings deur personeel sedert 1990 is 7 252 in totaal.
- Hoewel die aantal personeel wat sedert 1990 geskenk het 260 is, het die US tans slegs 76 personeel-skenkers. As jy graag 'n skenker wil word, kontak gerus vir Cheryl Benadie by [email protected].
- Click here for photos of Thursday's event.
Photo: At the event, Silke de Lange, Profs Jacques du Plessis, Wim de Villiers and Sadulla Karjiker. (Photographer: Anina Fourie)