Skip to main content
Chad en Cameron laat die water spat in Stellenbosch

Chad en Cameron laat die water spat in Stellenbosch

Pia Nänny
29 Februarie 2016

Swemliefhebbers is die afgelope naweek op Coetzenburg bederf met uitstekende vertonings deur swemmers wat hoop om later vanjaar aan die Olimpiese Spele in Brasilië deel te neem.

Sommige van die hoogtepunte sluit in die nie-amptelike Olimpiese kwalifiserende tye wat deur die Olimpiese kampioen Chad le Clos en Tuks Swem se Tatjana Schoenmaker behaal is, asook 'n nuwe Suid-Afrikaanse rekord deur die 17-jarige Matthew Meyer van KwaZulu-Natal.

Meyer het die Matie en Olimpiese swemmer Heerden Herman se SA ouderdomsgroeprekord verbeter en was net 2 sekondes stadiger as die Olimpiese kwalifiseringstyd.

Met die Olimpiese Spele wat om die draai is, het plaaslike swemmers die vierde en laaste been van die Swem Grand Prix-reeks as voorbereiding gebruik vir die SA Nasionale Akwatiese Kampioenskap wat in April plaasvind. Die nasionale kampioenskap sal as die enigste geleentheid dien om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

Dit was die tweede keer dat die Grand Prix-byeenkoms in Coetzenburg se supermoderne Olimpiese grootte swembad gehou is. Verskeie internasionale swemmers van lande soos Groot Brittanje, Slowakye, Denemarke en Egipte het ook deelgeneem.

Le Clos, wat al vier items waaraan hy deelgeneem het – die 200m-vlinderslag en die 200m-, 100m- en-50m-vryslag – gewen het, het dit geniet om voor die Stellenbosch-skare te swem en het gesê hierdie geleentheid is sy gunsteling van die Grand Prix-reeks.

Hy was baie tevrede met sy vertonings oor die twee dae.

"My tye was op Olimpiese standaard en ek is baie bly daaroor," het hy gesê. "Dankie aan almal wat gekom het om die swemmers te ondersteun. Ek gaan baie hard werk om almal trots te maak by die Olimpiese Spele."

Cameron van der Burgh, wat vir die eerste keer op Stellenbosch deelgeneem het, het die 50m-borsslagitem gewen en tweede gekom ná sy spanmaat Jarred Crous in die 100m-borsslagitem.

"My tye was 'n bietjie stadiger as wat ek gehoop het, maar dis moeilik om vinnig te swem terwyl ek nogal hard oefen. Ons kyk in die groter prentjie na die Olimpiese Spele en doen baie langafstand aerobiese werk. Ek wil my piek eers in Augustus bereik."

Hy het bygevoeg dat dit 'n wonderlike geleentheid was om teen sy kompetisie op hul beste mee te ding en het die Coetzenburg-swembad as een van die beste swembaddens in Suid-Afrika beskryf.

Hy het ook die dorp en die toeskouers geniet.

Die skare het die swemmers se teenwoordigheid waardeer en baie mense het die geleentheid aangegryp om 'n foto saam met die twee swemhelde te neem en 'n handtekening te kry.

Paralimpiese swemmer Kevin Paul het in 'n paar items meegeding en het gesê die fasiliteite is van wêreldgehalte.

"Dit is so veel makliker om op die blokke te kom, goed te swem en 'n goeie tyd te behaal terwyl jy in 'n fasiliteit soos hierdie een is waar mense jou ondersteun," het hy bygevoeg.

Pierre de Roubaix, hoofafrigter van swem en sportbestuurder by die Universiteit Stellenbosch, het gesê dit was 'n eer om hierdie internasionale byeenkoms in samewerking met WP Akwatiese Sport en Swem Suid-Afrika aan te bied.

"Ons is in ons skik dat bekende swemmers soos Chad en Cameron sowel as 'n aantal Olympiese-vlak internasionale spanne deelgeneem het. Dit was 'n rare geleentheid om soveel Olimpiese swemmers en kampioene in Stellenbosch te sien te kry."