Skip to main content
Brandstigting en saakbeskadiging aangemeld na brand by Admin-gebou

Brandstigting en saakbeskadiging aangemeld na brand by Admin-gebou

Corporate Marketing
11 Maart 2016

Die Universiteit bevestig dat ʼn saak van brandstigting en saakbeskadiging by die SAPD aangemeld is na ʼn brand gisteraand (10 Maart) omstreeks 22:00 in ʼn kantoor in die kelderverdieping van die Administrasiegebou B by die Universiteit Stellenbosch gestig is.

Die brandalarm is geaktiveer en sekuriteitspersoneel tesame met die nooddienste wat later gearriveer het, het die vuur geblus. Die kantoor is vernietig, maar niemand is in die voorval beseer nie.

ʼn Motor wat aan ʼn student behoort is ook aan die brand gesteek, maar sekuriteitspersoneel kon daarin slaag om ook dié brand te blus wat dele van die voertuig beskadig het.

Klasse en akademiese aktiwiteite op die kampus gaan voort, maar personeel en studente word versoek om te alle tye waaksaam te wees.

Onbevestigde berigte is dat die brandstigters voormalige werknemers is van maatskappye wat deur die Universiteit gekontrakteer is.

Die Bestuur beskou die insident in ʼn baie ernstige lig. “Hierdie is nie protes nie; dit is kriminele optrede – en is daarom totaal en al onaanvaarbaar. Ons het ʼn verpligting om die Universiteit en sy mense te beskerm en sal nie huiwer om dit te doen nie. Ons sal ook dissiplinêr optree teen universiteitspersoneel en studente wat hul skuldig maak aan hierdie tipe gedrag,” het prof Wim de Villiers, US-rektor en Visekanselier gesê.

“Die polisie stel ondersoek in en sekuriteit by die Administrasiegeboue is uitgebrei. Die veiligheid van ons personeel en studente is van deurslaggewende belang en dit is belangrik om stabiliteit te bring sodat die akademiese projek ongestoord kan voortgaan. Vroeër hierdie week is die Ou Hoofgebou en die GCW Schumann-gebou beset deur voormalige werknemers van maatskappye gekontrakteer deur die Universiteit en deur studente en daar was ontwrigtings in die Neelsie en by die US Woordfees. Universiteitspersoneel en kontrakwerkers is ook geïntimideer – wat betreurenswaardig is.

Prof De Villiers het bygevoeg: “Ons bly verbind tot transformasie en tot oop gesprek met alle belangegroepe. In hierdie opsig het ons die ondersteuning van die oorgrote meerderheid van studente, personeel en ander belanghebbers. Ons kan nie toelaat dat ʼn klein minderheid individue en groepe met ʼn agenda van geweld, vernietiging en ontwrigting in die pad staan van vooruitgang as ʼn universiteit nie.”

Vir die Universiteit se mening oor relevante kwessies, sien:  

Aanvanklike aanduidings is dat die skade aan die gebou en kantoor R300 000 beloop.

Die SAPD ondersoek die insident terwyl sekuriteit by die Administrasiegeboue uitgebrei is. 

Intimidasie

Die Universiteit is bewus van die situasie wat betref eksterne diensverskaffers wie se werkers steeds geïntimideer  word deur klein groepies betogers. In die geval van geïntimideer kontrakwerkers wat verhinder word in die uitvoering van hul pligte, maak die Universiteit kontak met die bestuur van daardie eksterne diensverskaffers om hulle te vra om na die Stellenbosch-kampus te kom en om die veiligheid van hul onderskeie werknemers te verseker.

“Eksterne diensverskaffers gaan in baie moeilike omstandighede voort met hul pligte. Ons is bewus daarvan dat hulle steeds geïntimideer word deur voormalige kontrakwerkers. In sommige gevalle het eksterne diensverskaffers hul werkers huis toe gestuur en het hulle alternatiewe reëlings in plek gestel totdat die situasie stabiel is,” sê prof Tobie de Coning, Hoofdirekteur: Strategiese Inisiatiewe en Menslike Hulpbronne. “Sodra ons bewus gemaak word van enige van die werkers wat geïntimideer word, praat ons met hulle bestuur om die omstandighede te verduidelik en te versoek dat hulle ingryp.”

Personeellede wat gevalle van intimidasie teenoor eksterne diensverskaffers of kontrakwerkers gesien het,  word versoek om dit by die Fasiliteitsbestuur Hulplyn by tel 021 808 411 aan te meld. As dit aangemeld word, kan die Universiteit met die betrokke maatskappy skakel.

Meer inligting volg.