
Boodskap van die Rektor: Voorval by Huis Marais
Beste studente en kollegas,Teen hierdie tyd is julle deeglik bewus van die voorval by Huis Marais wat Sondagoggend vroeg op 'n selfoonvideo vasgevang is. Dit is heeltemal te verstane dat die situasie wye mediadekking ontvang.Die skokkende voorval by Huis Marais is totaal en al onaanvaarbaar en ek veroordeel ten sterkste wat daar gebeur het. Hierdie soort gedrag kan en sal nie geduld word nie. Ek is baie jammer oor die pyn en seer wat hierdeur veroorsaak is.Die Universiteit Stellenbosch (US) se hoofprioriteit is om 'n inklusiewe omgewing daar te stel vir al sy studente en personeel, en om 'n veilige gemeenskap te handhaaf waarin sosiale kohesie bevorder word sodat tersiêre onderrig van gehalte vir almal moontlik is.Die Universiteit heg baie waarde aan respek, deernis, billikheid, verantwoordbaarheid en uitnemendheid in al sy interaksies en optrede. Die US veroordeel enige destruktiewe en diskriminerende gedrag wat inbreuk maak op die regte van enige student of lid van die US-gemeenskap. Menswaardigheid is ononderhandelbaar en moet gerespekteer en bevestig word, maar ook herstel word wanneer daarop inbreuk gemaak is.Ek wil julle graag op hoogte bring oor waar ons nou staan betreffende die voorval:
- Die student wat op die video vasgevang is, is Maandag tydelik uit die Universiteit geskors. Hy woon ook nie meer in die koshuis nie.
- 'n Omvattende ondersoek wat spoedeisende aandag geniet sal die finale uitkoms bepaal. Die Eenheid vir Gelykwaardigheid bestuur die ondersoek, wat tans aan die gang is.
- Die Universiteit is daartoe verbind om die slagoffer ten volle te ondersteun met berading, toerusting en materiaal sodat sy akademiese vordering nie benadeel word nie.