
Boek wys Moslem-opvoeding kan sosiale konflikte help oplos
ʼn Etiese verduideliking van Moslem-opvoeding kan baie eietydse euwels en globale uitdagings soos sosiale en maatskaplike konflikte, diskriminasie, uitsluiting en marginalisering, geweld en die vernedering en ontmensliking van ander mense help oplos.
Dit is een van die kernboodskappe van 'n nuwe boek deur dr Nuraan Davids en prof Yusef Waghid van die Departement Opvoedingsbeleidstudie in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.
Hul boek Ethical Dimensions of Muslim Education is onlangs deur Palgrave MacMillan uitgegee. Dit bestaan uit 12 hoofstukke en fokus op drie hooftemas naamlik etiek, Islam en opvoeding; deelnemers aan Moslem-opvoeding; en voorbeelde van etiese dimensies.
Davids en Waghid sê hulle het die Koran as bron vir hul primêre argumente gebruik omdat elke aspek van menslike gedrag, -strewe, -krag en -kwesbaarheid in dié geskrif se verse, verduidelikings, gelykenisse en stories tot uiting kom.
"Die boek wys hoe belangrike aspekte soos demokratiese burgerskap, globalisering, kosmopolitisme, onreg en uitsluiting vanuit die perspektief van Moslem-opvoeding aangespreek kan word," sê Davids.
Sy sê een van die hoofredes vir die skryf van Ethical Dimensions of Muslim Education was hul groeiende kommer oor spesifieke interpretasies, regverdigings en uitdrukkings van Moslems en Moslem-opvoeding wat teenstrydig en fundamenteel verskillend is van hul eie verstaan van Islam en wat dit poog om te bereik.
Volgens die skrywers is die boek se omvang grootliks bepaal deur die eietydse konteks van ongemak en wantroue waarin Islam en Moslems hulself tans bevind.
Hulle wys daarop dat Islam met onder meer beskrywings van agterlikheid, onverdraagsaamheid, geweld en terrorisme geassosieer word ̶ soos treffend ondersteun deur die vernietiging van New York se tweelingtorings (11 September 2001); bomaanvalle op Londense moltreine (7 Julie 2005); Charlie Hebdo-moorde in Parys weens sommige mense se ontevredenheid met ʼn satiriese uitbeelding van die profeet Mohammed (7 Januarie 2015), sowel as die optrede van Boko Haram en ISIL of ISIS.
Die skrywers sê die boek poog om twee twispunte op te los: die groeiende haat teen Moslem in liberale demokrasieë; en die skynbaar foutiewe interpretasie van die Koran wat aanhou om Islam as ʼn godsdiens van onverdraagsaamheid en agterlikheid uit te beeld.
"Die boek konfronteer die leser met verduidelikings van Moslem-opvoeding wat geweld, mishandeling, terrorisme en dwepery teenstaan."
"Dit help bied ook antwoorde op vrae soos wat Islam is en wat dit nie is; wat dit deur sy fundamentele bronne propageer en kweek; hoe dit tussen reg en regverdigheid aldan nie onderskei, en wat ʼn etiese raamwerk van Islam veronderstel."
Hoewel die boek op Moslem-opvoeding fokus, kyk dit ook na opvattings oor filosofiese interaksie wat klem lê op etiese gedrag en maniere van doen en wees wat veel wyer strek as dié van ʼn spesifieke godsdienstige oortuiging of tradisie.
Die skrywers sê die boek is gerig op beide 'n wetenskaplike en ʼn wyer gehoor in verskillende gemeenskappe omdat dit nie net geleenthede bied vir kritiese interaksie met Islam se grondteks nie, maar ook vir nadenke oor hoe etiese gedrag eietydse sosiale konflikte kan aanspreek.
"Dit poog om die foutiewe teoretiese en praktiese gaping in en oor die verstaan van Moslem-opvoeding met betrekking tot eietydse etiese dilemmas te oorbrug."
- Die elektroniese weergawe van Ethical Dimensions of Muslim Education kan aanlyn gekoop word by http://link.springer.com/book/10.1007/978-3-319-29317-2. Die gedrukte weergawe sal in Augustus beskikbaar wees.