Skip to main content
Bly veilig tydens die winter-reses

Bly veilig tydens die winter-reses

Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
15 Junie 2016

Na afloop van die Junie-eksamen loop die kampus vinnig leeg en is die veiligheidsrisiko's soveel meer. Maak asseblief jou persoonlike veiligheid ʼn prioriteit en beveilig ook jou persoonlike besittings, kantoor en/of kamer gedurende die eksamen sowel as die winter-reses.  Soos in die res van Suid-Afrika, bly ook die Universiteit Stellenbosch se kampusse en omliggende gebiede in misdadigers se visier, selfs al het ons verskeie veiligheidsmaatreëls ingestel. Studente, personeellede en Kampussekuriteit is gesamentlik verantwoordelik vir kampusveiligheid. Bly daarom asseblief te alle tye  waaksaam, gebruik die Voertuigpoel-pendeldiens en Kampussekuriteit-saamstapdiens, en meld dadelik enige verdagte persone of gebeure aan. Pendel- en saamstapdiens   Gedurende die winter-reses sal die saamstapdiens steeds beskikbaar wees. Om die diens op die Stellenbosch-kampus te gebruik, bel 021 808 4666 (of stuur 'n WhatsApp na 082 808 2333); vir die diens op Tygerbergkampus, bel 021 938 9507.  (Gebruik die noodnommer, 021 808 2333, indien bogenoemde nie beskikbaar is nie.) Die Universiteit se pendeldiens sal ook gedurende die reses voortgaan. Die dagpendeldiens (op weeksdae) loop van 07:00 tot 17:30, en die aandpendeldiens al om die uur van 18:00 tot 02:00 van Maandae tot Sondae. Die aandpendeldiens vertrek vanaf die Neelsie-parkeerterrein en sal studente na hulle woonplekke binne ʼn omtrek van 6 km vervoer. Vir meer inligting, besoek die Voertuigpoel-webtuiste.   Let gerus op hierdie algemene veiligheidswenke:

  • Memoriseer Kampussekuriteit se noodnommers of stoor dit op jou selfoon: 021 808 2333 (Stellenbosch-kampus) en 021 938 9507 (Tygerberg- en Bellvillepark-kampus). Die noodnommer vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens is 10111.
  • Hou jou kantoor en/of kamer gesluit as jy uit is, en hou waardevolle items buite sig en weg van vensters (ongeag of vensters toe is of nie).
  • Die deure van akademiese lokale moet so ver moontlik gesluit en die kaartlesers geaktiveer word.
  • Moenie toelaat dat enigiemand saam met jou inglip wanneer jy met jou toegangskaart ʼn gebou binnegaan nie. Dring daarop aan dat die persoon sy of haar eie toegangskaart gebruik.
  • Voertuie wat gedurende die reses op kampus agtergelaat word, moet behoorlik beveilig word. Geen waardevolle items moet onder enige omstandighede in voertuie agterbly nie.
  • Bly saans altyd in groepe op kampus of in die dorp. (Met ʼn stiller kampus gedurende die reses is dit ook raadsaam om nie eens bedags alleen te stap nie – veral in meer verlate dele van die kampus.)
  • Gebruik die veiligste roetes, selfs al is dit nie die kortste nie.
  • Dra jou selfoon altyd onopsigtelik aan jou persoon, en maak seker dat jou rugsak (of enige ander sak wat jy met jou saamdra) behoorlik toegemaak is.
  • Meld dadelik enige verdagte voertuie of persone by Kampussekuriteit aan.

 Klik hier vir verdere wenke: