Skip to main content
Beurs bring gemoedsrus, sê US-student

Beurs bring gemoedsrus, sê US-student

Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
25 Oktober 2016

Gemoedsrus en die vryheid om te fokus op haar studies sonder die bykomende stres van finansies. Dit is hoe Tirelo Mtombeni, 'n tweedejaar student in maatskaplike werk aan die Universiteit Stellenbosch (US), die finansiële ondersteuning beskryf wat sy vir die afgelope twee jaar van die First National Bank-stigting se beursprogram ontvang.

Mtombeni was deel van 'n groep beurshouers wat onlangs die geleentheid gehad het om tyd te spandeer met Thandeka Rantsi, 'n verteenwoordiger van Tshikululu Social Investments, 'n maatskappy wat die beursprogram namens FNB administreer.  Rantsi het die studente wat ondersteuning van hierdie beursprogram ontvang op die Stellenbosch-kampus besoek en hulle verseker van die FNB-stigting se toewyding om 'n verskil te maak deur hoër onderwys in Suid-Afrika te steun. Hierdie studente, almal met gestremdhede, se studierigtings wissel van ingenieurswese tot rekeningkundige en sosiale wetenskappe.

Marcia Lyner-Cleophas, Hoof van die US se Eenheid vir Gestremdhede geleë in die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO), sê haar Eenheid werk al sedert 2014 saam met die FNB-stigting, met positiewe resultate. "In 2014 is die Eenheid vir Gestremdhede genader om kwalifiserende studente met gestremdhede wat finansiële ondersteuning nodig het te vind. Die Stigting het aanvanklik vier studente ondersteun, maar dit is intussen uitgebrei na ses beurse. Nou hoop ons op steun vir die 2017 - 2019 siklus wat ons huidige studente in staat sal stel om hul studies in 2017 te voltooi, sowel as fondse sal bied aan nuwe verdienstelike eerstejaars wat kan baat by hierdie soort finansiële ondersteuning," het sy bygevoeg.

Volgens Lyner-Cleophas, het studente met gestremdhede dikwels meer ondersteuning nodig as die gemiddelde student - dit kan insluit ekstra onderrig, spesiale vervoergelde of fooie vir tegnologieë wat hulle benodig om toegang te verkry tot inligting in die leeromgewings. "Met die First National Bank-stigting, was dit moontlik om studente te voorsien van holistiese befondsing, waar elke deel van hul befondsing bydra tot hul sukses," het sy bygevoeg.

"Hierdie ondersteuning het reeds gelei tot suksesvolle gegradueerdes wat betekenisvolle bydraes tot die universiteitslewe en hul toekoms lewer - onder hulle is Luigia Nicholas (BCom), die nuwe Dis-Maties voorsitter en Bongani Mapumulo (BA Sosiale Dinamika), tans die ondervoorsitter." Dis-Maties is 'n organisasie vir studente met gestremdhede wat daarop gemik is om te verseker dat studente met gestremdhede 'n studentelewe ervaar wat so ryk soos dié van enige ander student is, beide in 'n sosiale en akademiese konteks.

Die US se Eenheid vir Gestremdhede is die beginpunt vir gekoördineerde ondersteuning vir studente met gestremdhede. Die Eenheid fasiliteer dienste vir studente met spesiale leerbehoeftes, byvoorbeeld die teks omskakeling van leesstof, ondersteunende tegnologie vir gehoorgestremde en gesiggestremde studente, leesondersteuning, akademiese konsessies soos ekstra skryftyd en rekenaar gebruik tydens toetse en eksamens.

"Dit gaan alles oor die skep van 'n omgewing wat studente holisties bemagtig om hulle volle potensiaal te verwesenlik," het Lyner-Cleophas gesê.

Foto-onderskrif:  Agter van links is Yumika Stober, Tshikululu se Thandeka Rantsi, Myra Muller, Luigia Nicholas en Tirelo Mtombeni. Voor links is Caleb Steenkamp en Bongani Mapumulo. (Fotograaf: Henk Oets)

Vir meer inligting besoek: