
Bekroonde US Regskliniek bied broodnodige ondersteuning aan die plaaslike gemeenskap
Regsadvies en regshulp is dikwels nie toeganklik vir die arm en gemarginaliseerde gemeenskappe van die groter Boland-gebied nie, wat hulle kwesbaar laat vir skending van hul menseregte, soos deur uitsettings, misbruik en twyfelagtige skuldinvorderingspraktyke.
Dit is hier waar die Universiteit Stellenbosch (US) se Regkliniek intree, nie net om regshulp te bied aan diegene wat daarvoor in aanmerking kom nie, maar ook om die gemeenskap te bemagtig deur opvoeding in basiese finansiële vaardighede en verbruikersregte en verantwoordelikhede.
Deur die US Regskliniek se betrokkenheid is belangrike regsimpaksake, soos moontlike presedentskeppende diskriminasielitigasie en tamponbelastingvoorstelle, word die Kliniek erken as ʼn leier op die verskillende gebiede waarop dit werksaam is.

Die geleentheid, wat deur Legal Week en die Korporatiewe Raadsvereniging van Suid-Afrika aangebied is, het op Vrydag 7 September 2018 by die Wanderers-klub in Johannesburg plaasgevind.
“Die erkenning deur die Korporatiewe Raadsvereniging van Suid-Afrika van ons prestasies behoort as motivering te dien vir dié individue en firmas wat ons doelstellings deel waar ons, as lede van die Afrika-regsgemeenskap, die belang van toeganklikheid van die wet vir almal op die prys stel en ondersteun. Dit help ons ook aansienlik met ons voortgesette strewe om ons visie te verwesenlik, en hiervoor is ons veral dankbaar," het dr Theo Broodryk, bestuurder van die Regskliniek in sy aanvaardingstoespraak gesê.
Die Regskliniek is werksaam as ʼn volledige prokureurskantoor met ʼn instapregsdiens, en bied regsdienste aan die armes en gemarginaliseerdes.
Hulp word vir ʼn groot verskeidenheid siviele sake aangebied, soos familiereg, skuldverligting en egskeidingsake, met ʼn gespesialiseerde fokus op plaasuitsettings, tans een van die belangrikste regskwessies in die Boland-streek. Uitsettings en gevolglike dakloosheid is ʼn werklike bedreiging vir die menseregte van plaaswerkers en hul kinders, aangesien hulle verstotelinge word met min hoop om ʼn heenkome te vind en hul gesinslewe te beskerm.
Interessante feite:
Tussen Januarie en Augustus 2018 het 1 397 mense van die Regskliniek gebruik gemaak. Hiervan was 626 bestaande kliënte. Van die 771 nuwe kliënte het 468 vir regshulp in aanmerking gekom.

- ʼn Betoog aan die Nasionale Tesourie oor die bestaande lys van BTW-vrye items om sanitêre produkte vir vroue in te sluit. Die gebrek aan toegang tot higiëneprodukte vir vroue weens die hoë pryse van hierdie produkte wat as ‘luukse’ items beskou word, is ʼn groot probleem vir arm, kwesbare en gemarginaliseerde vroue en meisies in Suid-Afrika.
- ʼn Betoog aan die Regsvereniging van Suid-Afrika om die monetêre jurisdiksie van howe vir klein eise te vergroot in ʼn poging om hierdie howe meer toeganklik en bekostigbaar vir almal te maak.
- Die instelling van geregtelike stappe, in vennootskap met Summit en tien ander aansoekers, teen 49 respondente in die Wes-Kaapse Hooggeregshof vir geregtelike intervensie rakende sekere skuldinvorderingspraktyke waarvolgens krediteurs en invorderingsagentskappe koste, insluitende regsfooie, by debiteurs se rekeninge sowel voor as ná uitsprake kan voeg.
- Verteenwoordiging van Hendri Herbst, Suid-Afrikaanse Paralimpiese swemmer, in ʼn moontlike baanbrekersaak rakende onbillike diskriminasie toe hy toegang tot ʼn restaurant geweier is omdat sy gidshond hom vergesel het. Daar word gehoop dat hierdie saak die aandag sal vestig op diskriminasie teen mense met gestremdhede, veral teen diegene wat nie toegang tot hulpbronne het nie en dit nie kan bekostig om ʼn regsgeding aanhangig te maak nie.