
Aspirant-GR's van US presteer ondanks Covid-beproewings
Ondanks die uitdagings van die Covid-19-pandemie het 'n kohort kandidate van die Universiteit Stellenbosch (US) uitstekend presteer in die aanvanklike bevoegdheidstoets (ABT) van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR).
Die ABT is die eerste van twee professionele kwalifiserende eksamens wat aspirant-geoktrooieerde rekenmeesters moet slaag op hulle pad om die GR(SA)-titel te kan gebruik. Daar is twee eksamengeleenthede per jaar en toets kandidate se vermoë om tegniese vaardighede wat hulle gedurende die SAIGR-geakkrediteerde akademiese program aangeleer het, toe te pas. Die program bestaan uit 'n voorgraadse en nagraadse program. Die uitslae is onlangs bekendgemaak.
Altesame 266 Honneurs BRekeningkunde- (HonsBRek-) en Nagraadse Diploma in Rekeningkunde (NGDip (Rekeningkunde)) kandidate van die Universiteit se Skool vir Rekeningkunde (SvR) het die ABT-eksamen in Januarie vanjaar afgelê. Dit was die grootste groep van al 15 SAIGR-geakkrediteerde residensiële universiteite en private verskaffers (die Universiteit van Johannesburg (UJ) was tweede met 227 kandidate).
Die kohort het 'n 97%-slaagsyfer behaal teenoor 'n nasionale slaagsyfer van 78%. Dit plaas die US derde onder die 15 residensiële verskaffers landwyd.
Die Universiteit het ook verreweg die meeste kandidate landwyd van alle verskaffers gehad wat die eksamen geslaag het (UJ was tweede met 172 kandidate wat geslaag het).
Alumna Lauren Tsafandakis het die eerste plek op die ABT-lys behaal, met nog vier US-kandidate wat onder die top tien geëindig het. Dit sluit in Caleigh Robson (derde plek); Petra Laubscher (2022 akademiese kwekeling, sesde plek); Dillon Ribeiro (sewende plek) en Robert Searle (gesamentlik negende). Hulle het almal die eksamen met lof geslaag (75% of hoër).
“Hierdie SAIGR-uitslae bewys net weer dat die Universiteit Stellenbosch besig is om sy visie te verwesenlik om een van Afrika se voorste hoëronderwysinstellings te wees wat gegradueerdes oplewer wat na uitmuntendheid strewe. Ons Skool vir Rekeningkunde het ondanks die pandemie uithaler-rekeningkundiges aan die sektor gelewer," het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, in reaksie gesê.
“Ek wil ons alumni en toegewyde personeel wat die kandidate op hul pad na sukses bygestaan het, gelukwens. Suid-Afrika se finansiële sektor is nou beter daaraan toe danksy hul harde werk en deursettingsvermoë."
Prof Pieter von Wielligh, Direkteur en Vise-dekaan: Leer en Onderrig by die Skool vir Rekeningkunde (SvR) in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het die volgende gesê: “Die uitstekende prestasie van die SvR se HonsBRek- en NGDip-studente in die ABT bevestig nie net op 'n baie konkrete en sigbare manier die hoë-gehalte onderrig by die SvR nie, maar ook die gehalte van studente wat die SvR lok en hoe hulle hulself aanwend om holisties te ontwikkel deur die instaatstellende omgewing wat die SvR en die Universiteit vir hulle skep.
“Die SvR is ongelooflik trots op die uitmuntende prestasie van sy klas van 2021, wat nou die plaaslike en internasionale toekomstige sakeleiers is en waarde tot die sakegemeenskap én die breër gemeenskap sal toevoeg. Hulle het dit boonop te midde van al die uitdagings en beproewings gedoen wat personeel, huidige studente en alumni sedert Maart 2020 beleef het weens die Covid-19-pandemie. In die lig hiervan is dit voorwaar 'n merkwaardige prestasie."