
Ankerinstellings in Stellenbosch vat hande vir inklusiewe ontwikkeling
Ankerinstellings in Stellenbosch moet saamwerk om ontwikkeling tot voordeel van alle inwoners van dié dorp te bevorder.
Só het deelnemers aan ʼn gespreksessie by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing Dinsdag (26 September 2017) besluit. Dié vergadering is deur die Universiteit Stellenbosch (US) byeengeroep, en is ook bygewoon deur die Munisipaliteit en sewe groot plaaslike werkgewers – Capitec, Investec, Mediclinic, PSG, PwC, Remgro en Steinhoff.
“Ons het vername uitdagings in hierdie universiteitsdorp, maar ook ʼn unieke geleentheid om oplossings te vind. Al die bestanddele wat benodig word, is tot ons beskikking," het prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, gesê.
Onder die knelpunte wat bespreek is, was misdaad en veiligheid, verkeer en vervoer, water en elektrisiteit, werkskepping en vaardigheidsontwikkeling, asook entrepreneurskap en innovasie.
“Ons moet realisties wees en erken daar is probleme. Maar struikelblokke kan oorkom word," het prof Stan du Plessis, aangewese bedryfshoof van die US, gesê.
Prof Hester Klopper, die US se viserektor vir strategie en internasionalisering, het uitgewys daar is talle suksesverhale wêreldwyd van samewerking tussen ʼn universiteit en ander “ankerinstellings" in die gemeenskap.
In Cambridge, Engeland, het ʼn kennisstreek tot stand gekom waar tegnologiese innovasie blom, en op ʼn plek soos Cleveland, Ohio, is stedelike verval gestuit en omgekeer. Vierledige samewerking tussen universiteit, staat, die privaatsektor en die burgerlike samelewing blyk van deurslaggewende belang te wees.
Adv Gesie van Deventer, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, het gesê as armoede is ʼn wesenlike probleem wat dringend aangespreek moet word. Daar is ʼn groot behoefte aan opleiding in basiese sakevaardighede vir entrepreneurs wat klein ondernemings bedryf.
Die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) se Kleinsakeakademie (Small Business Academy, of te wel SBA) kan hiermee help, het prof Du Plessis aangebied.
“Daar is groot behoeftes in ons land. As ons modelle wat werk vir bepaalde uitdagings kan ontwikkel, kan dit ook in ander gemeenskappe toegepas word. Mense sal so iets steun," het mnr Danie van der Merwe van Steinhoff gesê.
“Maatskappye wil graag betrokke raak, maar ons weet nie altyd wat om te doen nie. Hier het ons nou ʼn geleentheid om by mekaar te leer," het mnr Wimpie Aucamp van Mediclinic gesê.
“Ons moet slim wees, en positief. Ons het vars idees nodig," het mnr Jannie Mouton van PSG gesê.
Hy het aangevoer dat swart ekonomiese bemagtiging deur maatskappye nie tot die bevordering van ʼn klein groep individue beperk moet word nie, maar dat dit direk aangewend moet word om hele gemeenskappe op die weg van sosio-ekonomiese bemagtiging te plaas.
“As ons saamwerk, kan ons hierdie dorp vorentoe vat. Daar is geen rede waarom ons dit nie kan regkry nie. Om die waarheid te sê, dis ons verantwoordelikheid," het mnr Kobus du Plessis van Remgro gesê.
ONDERSKRIF:
Van links, mnre Hein Doman van PwC en Wimpie Aucamp van Mediclinic, prof Nico Koopman van die US, mnr Danie van den Berg van Capitec, prof Hester Klopper van die US, mnr Kobus du Plessis van Remgro, proff Wim de Villiers en Stan du Plessis van die US, mnr Tabiso Mfeya van die Stellenbosch Munisipaliteit, mnr Danie van der Merwe van Steinhoff, dr Jerome Slamat van die US, mnr Hugo van der Ahee van Investec en mnr Jannie Mouton van PSG by die gespreksessie.