
Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer US kundiges
Akademici verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) is oudergewoonte deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hul bydraes tot die wetenskap en kunste vereer.
ʼn Bekroningsplegtigheid is Vrydagaand (7 Oktober 2016) in Stellenbosch gehou.
Die ontvangers is prof Stephanus Muller van die Departement Musiek, prof Louise Viljoen en dr Willem Anker van die Departement Afrikaans en Nederlands, prof Michael Samways van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, prof Adriaan Reinecke en prof Sophie Reinecke van die Departement Plant- en Dierkunde en ʼn oudstudent van die Universiteit, me Mia van Wyk.

Volgens Muller is die toekenning in hierdie eeufeesjaar van die komponis Arnold van Wyk, ʼn erkenning van die belang van Van Wyk se werk as bydrae tot die Suid-Afrikaanse musikale erfenis. "Ek het daarom besluit om die prysgeld van die Eugène Maraisprys te voeg by my outeurstantieme uit verkope van my boek, om ʼn fonds te stig vir die publikasie, uitvoering en opneem van Arnold van Wyk se musiek. Die fonds, wat bekend sal staan as die Arnold van Wyk Eeufeesfonds, sal geadministreer word binne die instituut Africa Open in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die US."


Die Goue Akademie-medalje is aan Samways, uitgelese professor in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, toegeken.

Samways sê die toekenning is ʼn viering van die ongelooflike kulturele, topografiese en biologiese diversiteit in Suid-Afrika. "Hierdie land met al sy wonderlike landskappe, diere en plante, is een van die rykstes in die wêreld. Dis is ʼn voorreg om bewaringsnavorsing oor hierdie ryk tapisserie van biodiversiteit te doen."
Die Douw Greeff-prys is vanjaar toegeken aan Reinecke (Adriaan) en Reinecke (Sophie) en Van Wyk vir hul artikel Kan die gevoeligheid van grondlewende organismes bydra om die volhoubaarheid van landbewerking van olieraffinadery afval te beoordeel? Die artikel is in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, vol. 34, no. 1 (2015) gepubliseer.
Adriaan Reinecke sê die prys beteken vir hulle baie omdat dit "eweknie-erkenning deur vakgenote" is en dus "ʼn veer in ons hoed en ʼn riem onder die hart".
"Dit is ook ʼn bewys dat die insentiewe en ruimte wat die Universiteit skep vir afgetredenes om steeds by navorsing betrokke te wees, vrugte afwerp. Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor die rol van die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, prof Eugene Cloete, en die Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, prof Louise Warnich, vir hul ondersteuning in dié verband.
Calitz, emeritus professor, het die Stalsprys vir Ekonomie ontvang. In sy akademiese loopbaan het hy ʼn buitengewone bydrae tot die wetenskapsbeoefening van Ekonomie as vakgebied gemaak en het die land in die besonder op die gebied van die ekonomie gedien, lui die verklaring deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy word veral vereer vir sy bydrae in die Owerheidsekonomie en -finansies, asook die wyse waarop hy sy akademiese kennis in diens van Suid-Afrika aanwend.
Calitz sê die toekenning bied ʼn "baie spesiale geleentheid om dankbare erkenning te gee aan talle mense wat gedurende my beroepslewe gewaag het om vir my geleenthede te gee en wat meegedoen het aan my ontwikkeling as ekonoom".
"Ek was bevoorreg om oor my hele lewe as student aan baie goeie leermeesters blootgestel te wees en om met baie knap kollegas by verskillende instellings saam te werk. Dis ʼn toekenning wat ek namens almal wil ontvang wat my help vorm het. Ek is baie dank verskuldig aan verskeie staatsinstellings en die Nasionale Tesourie wat my toegelaat het om my vakkennis in die beleidmakingsproses aan te wend. Verskeie universiteite het my doseringsgeleenthede gebied, wat dikwels baie vrugbare teelaardes vir navorsingsidees was. My aanvanklike en uiteindelike akademiese tuiste, die Department Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, het my die ruimte gebied om my praktiese ervaring met veral fiskale beleidvoering in my dosering in te ploeg. En ek was en is bevoorreg om beleidsverwante ekonomiese en fiskale navorsing saam met verskeie baie kreatiewe en inspirerende kollegas te onderneem."
Ook onder die ontvangers is prof Ernst Stals, navorsingsgenoot aan die US Geskiedenisdepartement wat die Stalsprys vir Geskiedwetenskappe ontvang.
Die prys word toegeken vir sy omvattende en volgehoue intensiewe navorsing oor aspekte van die geskiedenis van Suidwes-Afrika/Namibië, sy spesialiteitsnavorsingrigting oor die afgelope meer as ʼn halwe eeu. 'n Groot aantal publikasies van besondere histories-wetenskaplike gehalte en multi-dimensionele aard, het uit sy navorsing voortgevloei wat hom vandag 'n gesaghebbende historikus oor die geskiedenis van Suidwes-Afrika/Namibië maak, veral betreffende die Duitse koloniale tydperk. Stals word veral vereer vir sy kultuurhistoriese studie Môrewind oor die Karasberge: 'n Kultuurhistoriese verkenning van die laat negentiende eeu wat ʼn hoogtepunt van Stals se geskiedskrywing is.
Onder die ander ontvangers tel alumni van die Universiteit Stellenbosch.
Hooffoto: van links is prof Stephanus Muller, Louise Viljoen; Michael Samways en dr Willem Anker. (Foto's deur Anton Jordaan)
Foto 1: Prof Stephanus Muller; Foto 2: Dr Willem Anker; Foto 3: Prof Louise Viljoen en Foto 4: Prof Michael Samways (Foto's deur Anton Jordaan)