Agter die lens: Dan deel sy talent en passie vir fotografie
As jy deur die Krugerwildtuin of enige ander park ry, sien jy hierdie ouens met hul spogkameras en lang lense langs die watergate uitkamp. Jy dink aan hulle as mense met enorme geduld, toewyding en uithouvermoë terwyl hulle wag vir die perfekte tyd om die knoppie te druk.
Dan Prata, Direkteur Fasiliteitsdienste by Fasiliteitsbestuur, is een van hulle. Sy foto's is eerder kunswerke as fotos – heeltemal in 'n klas van hul eie.
Sy liefde vir fotografie dateer terug toe hy nog sy pa se 35 mm-kamera moes leen. "Jy sal 24 foto's neem, en as jy gelukkig is, sal een die perfekte skoot wees," sê Dan, wat nou die wêreld van digitale fotografie ten volle benut met die nuutste fotografie-toerusting wat hy op sy reise na nasionale parke regoor die land neem. “Dit is duurder as om gholf te speel," sê Dan oor die feit dat hy sy swaarverdiende spaargeld vir fotografietoerusting moet (of is dit wil?) opoffer.
“Photography is the only language that can be understood anywhere in the world." - Bruno Barbey
Met sy teruggekeer van sy eerste besoek aan die Krugerwildtuin, het Dan besef dat hy beter toerusting nodig het om beter fotos te neem. En sedertdien het hy 'n manjifieke portefeulje van natuurlewe, watersport, motor- en fietsrenne opgebou. Noem dit, en Dan het foto's daarvan. Doen jouself asseblief 'n guns en kyk na sy google skakel hier en sien self. By die huis het Dan meer as 180 DVD's vol foto's, as 'n paar aanlynstrome waar hy foto's deel.
Hoewel hy al voorheen 'n fotokompetisie gewen het (met die foto van die renosters), is hy nie lus om mee te ding nie. “Ek neem foto's om dit met mense te deel," sê Dan, wat twee Facebook-bladsye begin het waar hy van sy foto's stroom. Die een is om bewusmaking van renosters te kweek, Rhino Diary (https://www.facebook.com/groups/238460009649781) en die ander is 'n voëlkyk-werf, Intaka Photographers (https://www.facebook.com/groups/294800758121275 ).
In die negentigerjare het hy begin foto's neem van sy maats wat golfski nadat hy sy elmboog by 'n kompetisie beseer het en hy nie meer professioneel kon deelneem nie. Dit was hier op die duine dat hy sy talent begin ontwikkel het. "Ek het 'n nuwe kamera gekoop, en toe begin alles."
Dan sê Ralph Hattersley het gesê: “We make photographs to understand what our lives mean to us." Dit is iets wat Dan altyd in sy agterkop hou en is sy inspirasie om die perfekte foto te neem.
So, elke jaar pak Dan en sy vrou Ronel hul kar en ry Kruger toe. Hier word hulle vroeg wakker, pak die piekniek- en fotografietoerusting in die kar en ry na 'n watergat. Hulle bring die grootste deel van die dag daar deur, neem foto's en dink oor die lewe. “Ons waardeer stiltetyd en besin oor die lewe," sê Dan. Gedurende die res van die jaar soek Dan en Ronel enige geleenthede om sport of ander fotografie te doen en beplan ook kort fotografiese paduitstappies.
Soos die spreekwoord lui: 'n foto vertel 'n miljoen stories, so ook vertel 'n miljoen foto's ons veel meer van Dan as die persoon wat jy bel om 'n probleem op die kampus op te los. Hy is 'n man met baie verborge talente, en fotografie is net een daarvan.