Skip to main content
African Food Dialogue oor voedselpryse: Trae groei by kinders gebeur nie oornag nie; hul honger is chronies

African Food Dialogue oor voedselpryse: Trae groei by kinders gebeur nie oornag nie; hul honger is chronies

Engela Duvenage
18 Mei 2022

Dit kos minstens R800 per maand om seker te maak 'n kind eet genoeg voedsame kos om voldoende te groei en te ontwikkel. Ongelukkig is Suid-Afrika se kindertoelaag slegs R480 – geld wat versorgers ook vir ander uitgawes moet gebruik. Dis daarom geensins verbasend dat 'n land waarvan meer as 50% van burgers nie genoeg kos kan bekostig nie, die statistieke “aaklig" is in terme van stygende nie-aanmeldbare siektes en kinders wat weens wanvoeding sterf of trae groei toon.

So het mnr. Mervyn Abrahams, 'n programkoördineerder van die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity projek (PMBEJD), gesê toe hy die African Food Dialogue openbare lesingsreeks op Stellenbosch toegespreek het. Dit is aangebied deur die Southern African Food Lab in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Die PMBEJD publiseer 'n maandelikse Huishoudelike Bekostigbaarheidsindeks wat kospryse vergelyk.

Abrahams sê volgens die nasionale Departement van Gesondheid se statistieke het 191 Suid-Afrikaanse kinders weens wanvoeding in die eerste twee maande van 2022 gesterf.

“Ons weet almal dat honger en wanvoeding 'n weggesteekte siekte uit die openbare oog is. Ons kan dus aanneem dat hierdie sterftesyfer eintlik meer kan wees.

“Dit gebeur nie oornag dat kinders nie na wense groei of sogenaamde 'child stunting' ervaar nie. Dis 'n chroniese, langtermyn toestand."

Abrahams reken 'n gebrek aan kos is 'n rede vir die land se lae produktiwiteitskoers en swak skooluitslae. Dit het polities-ekonomiese gevolge.

“Enige ekonomie wat wil groei het gesonde werkers nodig.

“Al is kinders nie noodwendig honger nie, beteken dit nie dat hulle voedsame kos eet nie. Daarsonder is ons werksmag vir 'n nuwe ekonomie verlore."

In die proses verdiep die siektelas in die land, asook armoede tussen generasies heen.

“Die kind wat trae groei toon raak groot in 'n huis waarin die ouers nie voedsame kos kan bekostig nie. Die kanse is dat in 20 jaar, daardie einste kind ook 'n handearbeider sal wees wat 'n nasionale minimumsalaris verdien, en ook nie sy of haar kinders voldoende kan voed nie. En so hou die siklus aan. En op die ou einde het ons 'n lae ekonomiese groeikoers."

Onbekostigbare kos

Meer as 50% van Suid-Afrikaanse huishoudings geniet nie voedselsekuriteit nie, omdat kos vir sovele onbekostigbaar geraak het. 

“Bekostigbaarheid in sy eenvoudigste vorm is die verhouding tussen hoeveel produkte en dienste kos wat ek wil aanskaf, en wat ek het om daarvoor te betaal.

“'n Gebrek aan voedselsekuriteit is nie 'n kwessie van die beskikbaarheid van kos nie, want Suid-Afrika voer R6 miljard se kos uit per jaar."

Suid-Afrikaners koop omtrent 95% van hul kos in winkels. Voedselvermorsing is hoog in die korporatiewe landbousisteem, en kos word dikwels geproduseer ver weg van waar dit op die ou einde geniet word.

Abrahams sê dat uiters hoë voedselpryse nie 'n nuwe fenomeen is wat skielik veroorsaak is deur die Oekraïniese oorlog (soos gesien in hoë pryse van brandstof, kunsmis, graan en sonneblomolie) of klimaatsverandering (bv. in terme van pryse van sojabone en raapsaad) nie.

“Die meeste Suid-Afrikaners het reeds voor Covid kos onbekostigbaar gevind."

Weens “massiewe stygings" in energie- en vervoerkostes het reeds benarde huishoudelike begrotings steeds verder gekrimp, sonder dat salarisse daarmee tred hou.

“Uiters hoë vlakke van werkloosheid, gepaard met 'n trajek van uiters lae lone dra alles by tot die skep van 'n sogenaamde 'perfect storm," verduidelik hy.

“Kos is eintlik die enigste ding waaroor huishoudings beheer het. Wanneer hulle iewers moet sny, sny hulle op kos. Hulle kan nie sny op petrol nie, want mense moet by die werk kom om 'n salaris te verdien. En hulle kan elektrisiteit inperk nie, want hulle moet kos kan gaarmaak."

Pietermaritzburg Huishoudelike Bekostigbaarheidsindeks

Volgens die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se prysindeks is kospryse wêreldwyd die hoogste ooit. Statistiek Suid-Afrika sê voedselpryse stoot die Verbruikersprysindeks toenemend hoër.

Hierdie tendens word ook gesien in die April 2022 data van die Pietermaritzburg Huishoudelike Bekostigbaarheidsindek. Dit hou sedert Junie 2018 'n ogie op hoeveel 44 basiese kossoorte (soos brood, rys, meel, kerriepoeier, sop, aartappels, uie en sardyne) kos wat in Johannesburg, Durban, Kaapstad, Pietermaritzburg en Springbok gekoop word.

Oor die produkte op die lys sê Abrahams: “Dis die soorte kos en hoeveelhede daarvan wat vroue in lae ekonomiese en arm huishoudings sê hulle graag per maand wil koop, sou hulle die geld hê, vir 'n familie van sewe mense."

In April 2022 het dié mandjie R4542,93 gekos, wat R92,84 of 2,1% meer was as in Maart 2022. Jaar op jaar het dit R344 (of 8,2%) meer gekos. Daarby het huishoudelike en persoonlike skoonmaakmiddels (soos tandepasta, seep en vroueprodukte) met 3,5% tussen Maart en April gestyg.

“Dit klink miskien nie baie nie, maar dis wesenlik gegewe 'n gebrek aan salarisaanpassings en die baie mense wat moet oorleef op 'n basiese nasionale minimumloon rondom R3600."

Die Indeks volg dieselfde stygende trajek as Statistiek Suid-Afrika se voedselprys inflasiekoers van 6,7%. Dié twee verskil egter van mekaar, omdat die Pietermaritzburg Huishoudelike Bekostigbaarheidsindeks data spesifiek insamel onder lae inkomste huishoudings wat tipies minder, meer gefokusde produkte aanskaf.

Abrahams reken daarom dat Suid-Afrika neig na 'n siklus van “goedkoop kos" waarin voedingswaarde van mindere belang is.

Kossoorte soos suikerboontjies, koekmeel, rys, mieliemeel, gevriesde hoenderstukke, kerriepoeier, uie, brood, stampmielies, kookolie, sout, tee, sop en blokkies aftreksel is die eerste items wat mense deesdae aankoop.

“As hierdie kernprodukte bo vlakke van bekostigbaarheid skuif, is dit vars vrugte en groente wat eerste uit die mandjie val. Dit gebeur met basies enigiets wat voedsaam is en mense se liggame opbou. Huishoudings bly oor met stysels, olie en suiker om te eet."

Dit alles dra by tot 'n geweldige toename in nie-aanmeldbare siektes (soos hartsiektes en diabetes) en gebrekkige groei onder Suid-Afrikaanse kinders.  

Begrotings onder druk

Tipies kos vervoer vir 'n werknemer in 'n metropolitaanse gebied rondom R1152 'n maand, en R731 vir elektrisiteit. Van dit wat oor is moet huishoudings kos, skoonmaakprodukte en alles anders koop.

Slegs 14,5 miljoen van die Suid-Afrikaanse populasie van 60,1 miljoen mense het werk.

“Dit beteken dat 4.1 mense op een salaris moet klaarkom.

“Huishoudelike inkomste bly redelik laag in terme van stygende voedselpryse en die mees basiese lewensuitgawes.

“Dis waar die kwessie van voedselbekostigbaarheid 'n sosiale en 'n morele kwessie word.

“Moet ons ekonomie, in sy heel basiese, nie minstens net toegang tot voedsame en voldoende kos kan verseker nie?"

Abrahams sê dat die reg tot lewe en kos inherent is tot die Suid-Afrikaanse grondwet.

“Ongelukkig het ons 'n voedselsisteem wat op vele vlakke ongelykheid repliseer. Ons regering faal in sy grondwetlike verpligting om te sorg dat alle Suid-Afrikaners die reg tot kos geniet."

Boere ly

Hy sê daar is 'n sogenaamde oorlog tussen handelaars in die lae-inkomste sektor, wat toenemend goedkoper kos probeer verskaf sonder om die voedingswaarde van dié produkte te oorweeg.

Hulle plaas boere as prysnemers, en daarom ook hul werknemers, onder druk. In die proses kan boere nie hul eie werknemers na wense betaal nie. Die gevolge hiervan spiraal afwaarts.

“As ons na die voedselsisteem as 'n piramide kyk, sien ons dat die plaaswerker die las daarvan dra. Die een wat die piramide dra, is ook die mees weerlose en armste.

Sosiale geregtigheid

“Die voedselsisteem moet transformeer sodat dit beter in die behoeftes van ons bevolking kan sorg. Daardeur bedoel ek nie dat ons moet aanhou om die goedkoopste kos in winkels te verkoop nie, want dan sal die boer en die plaaswerker net hierdie las toenemend dra. Ons kort kos wat redelik geprys is. Ons het 'n ekonomie nodig wat ordentlike werk aanbied en 'n salaris wat 'n “living wage" van R10 000 kan bied.

“Hierdie 'living wage' behoort nie te gevra wees nie. Op die ou einde is dit geld wat weer in die ekonomie bestee kan word, en dit kan toelaat om te groei. Dit kan egter nie gebeur nie, want daar is nie genoeg aanvraag nie. Daarvoor het ons meer geld in ons sakke nodig."

Hy sê 'n werkbare alternatief moet voorgestaan word wat sosiale geregtigheid en “common good" inbed in plaaslike voedselsisteme en die politieke ekonomie.

Van hierdie verantwoordelikheid lê by die handelsektor met sy geweldige koopkrag.

“Hulle het die mag om die sisteem te verander deur hul aankoopbeleid. Hulle kan aktief gaan soek vir kleinskaalse boere wat hul insette nodig het, en vir hulle kan lewer.

“Die handelsektor kan agente van verandering raak wat daarop aandring om kos van genoegsame voedingswaarde te verkoop. Hulle kan korporatiewe burgers wees wat bydra tot die gesondheid van ons nasie."