
Afdeling se internasionale akkreditasie 'n hupstoot vir nefrologie in Afrika
Die Afdeling Nefrologie het akkreditasie van die Internasionale Vereniging vir Nefrologie (International Society of Nephrology, oftwel, die ISN) ontvang as 'n Streeks- opleidingsentrum (Regional Training Centre, oftwel RTC).
Die Afdeling Nefrologie, verbonde aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US), het vir 'n tydperk van vyf jaar erkenning ontvang van die ISN. Daar sal moontlik 'n geleentheid wees om weer aansoek te doen om die bogenoemde status te verleng ná hersiening deur die ISN.
"Hierdie akkreditasie sal beide die afdeling self asook die Tygerberg-hospitaal verder help om 'n leidende rol te speel in die ontwikkeling van nefrologie in Afrika," sê professor Razeen Davids, hoof van die Afdeling Nefrologie.
Hierdie afdeling behandel pasiënte uit die openbare sektor met niersiektes, wat afkomstig is van gebied wat die helfte van die Wes-Kaap beslaan. Dit sluit pasiënte in wat die volgende niersiektes en -toestande het:
- akute of chroniese niersiekte;
- elektroliet- en suurbasis-afwykings;
- ernstige hipertensie;
- vergiftiging wat dialise behandeling verg.
Die afdeling bestuur die behandeling van ongeveer 150 oorplantingspasiënte en om en by 140 pasiënte wat chroniese dialise ondergaan. Dit bied ook dialise aan pasiënte met akute nierbeserings in verskeie van Tygerberg-hospitaal se sale en eenhede. Die afdeling doen jaarliks ongeveer 6 000 akute en chroniese dialise-prosedures en om en by 160-180 nierbiopsies.
Die afdeling se oogmerk is om toegang tot niervervangingsterapie en dialise vir pasiënte binne die staatsektor te verbeter, en het ook openbare-private inisiatiewe tot stand gebring om dit te bewerkstellig.
Die opleiding van nefroloë, binne Suid-Afrika en in Afrika as geheel, bly 'n hoë prioriteit vir die afdeling, wat hulle ook toespits op voortgaande navorsing en die publikasie van hierdie navorsing op die gebied van niergesondheid.
Davids noem dat daar in ander Afrikalande dikwels geen formele opleidingsprogramme bestaan vir dokters wat in nefrologie wil spesialiseer nie.
"Ons studente spog met 'n hoë sukseskoers in die Sertifikaat vir Nefrologie-eksamens van die Suid-Afrikaanse Kolleges vir Geneeskunde," sê Davids. "Verskeie studente van die afdeling staan nou aan die hoof van nier-registers in hul eie lande, soos byvoorbeeld Vincent Boima (Ghana), Jonathan Wala (Kenia) en Kenneth Kapembwa (Zambië)."
Die doelstellings van die ISN met die verlening van hierdie akkreditasie
Die ISN is daarop gemik om die studie van nefrologie in lande met lae- en middel-inkomste te bevorder, en hoop dat die US se Afdeling Nefrologie sal voortgaan om ISN-aktiwiteite te bevorder, asook om 'n nog groter middelpunt van opleiding en navorsing in verband met niergesondheid binne Afrika sal word.
"Daar is geen direkte befondsing van die ISN aan die Afdeling Nefrologie nie, maar studente van ander Afrikalande wat in nefrologie wil spesialiseer, word dikwels deur die ISN befonds," sê Davids.
In ruil vir hierdie akkreditasie vra die ISN dat die Afdeling Nefrologie die volgende sal doen:
- Studie-genote sal huisves (die ISN bied tot een jaar finansiële ondersteuning aan genote);
- Opvoedkundige vergaderings hou en werkswinkels aanbied oor streeks-relevante onderwerpe;
- Kennis en kundigheid deel via die ISN se Onderrig-ambassadeurs of voortgesette mediese opleidingsprogramme;
- Ondersteuning bied aan nuwe sentrums uit lae-hulpbron-gebiede deur middel van die Sister Centres-programme;
- Bydraes lewer tot die ISN Akademie – hetsy deur middel van die ontwikkeling van opvoedkundige materiaal of deur bydraes tot webinare;
- Betrokkenheid handhaaf en voorspraak doen vir niergesondheid binne die konteks van plaaslike- en streeksowerhede.
"Hierdie akkreditasie is eintlik net 'n formele erkenning deur die ISN van die bydrae wat ons afdeling tot dusver tot niersorg in Afrika gelewer het, en ons hoop om voort te gaan om dit in die toekoms te lewer," sê Davids.