
Afdeling Kardiologie gaan van krag tot krag
Danksy die versiendheid van die kardioloë werksaam in die Afdeling Kardiologie, spog die Universiteit Stellenbosch (US) vandag met 'n sentrum van uitnemendheid wat plaaslik sowel as in die buiteland hoog geag word.
Die Afdeling Kardiologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het in 2014 'n reusehupstoot gekry met die totstandkoming van SUNHEART. Te midde van 'n groot tekort aan hoofstroombefondsing, het dié sentrum se unieke privaatbefondsingsmodel die weg gebaan vir veel groter toegang tot kardiologiedienste en -opleiding in die Wes-Kaap.
Die hele afdeling het sedertdien 'n gedaanteverwisseling ondergaan, terwyl die aantal opleidingsposte meer as verdubbel het en verskeie uitreikfasiliteite reeds tot stand gebring is.
Ander instansies landwyd kyk tans na hierdie model en oorweeg dit om aspekte daarvan na te volg, sê emeritus professor Anton Doubell, wat 25 jaar lank hoof van die Afdeling Kardiologie was. Hy het einde Desember verlede jaar afgetree, maar is steeds by die afdeling betrokke in 'n deeltydse aanstelling wat deur SUNHEART befonds word.
Mens kan tereg trots wees op die gehalte van diegene wat by die Afdeling Kardiologie werk, sê Doubell. “Ons het 'n sentrum vir uitnemendheid geword vir navorsing in kardiale beelding, klepsiekte en perikardiale siekte – navorsingsvelde waarin ons internasionaal gereken word."
Doubell, wat tot met sy aftrede direkteur van SUNHEART was, en dr Alfonso Pecoraro, SUNHEART se voorsitter, het 'n leidende rol gespeel in die skepping en bedryf van dié sentrum.
Daar is eers gekyk na ander modelle, soos om 'n entiteit buite die US te skep, maar na deeglike navorsing was daar konsensus dat SUNHEART 'n sentrum van die US moet wees, verduidelik Pecoraro, wat in 2013 as konsultant by die afdeling ingeval het. 'n Organisasie sonder winsbejag is gevolglik gestig, wat die privaat sektor vir finansiële ondersteuning sou nader.
Dit was uit die staanspoor 'n suksesresep, met plaaslike sowel as oorsese skenkers wat geld bewillig het. “Die oorkoepelende fokus was op toegang vir kollegas wat kardiologie wou studeer, maar daarmee saam ook verbeterde toegang vir pasiënte tot kardiologiedienste," sê Pecoraro. Kardiologie in Suid-Afrika was, totdat SUNHEART op die toneel gekom het, merendeels beperk tot die groot sentrums, benadruk hy.
SUNHEART se sakeplan het daarop berus om eerstens te belê in infrastruktuur met die doel om toegang tot kardiologie-dienste te verbeter en meer geleenthede vir opleiding in kardiologie te skep. In die eerste jaar is die oorgrote meerderheid van die meer as R10 miljoen wat bekom is, dus in infrastruktuur belê. Daarna het die fokus verskuif na menslikehulpbron-ontwikkeling, die verbetering van die navorsingsuitset en die vestiging van 'n kardiologie-uitreikprogram.
Volgens Pecoraro is die hele Afdeling Kardiologie basies herontwerp. “By buitepasiënte was daar nie genoeg plek om pasiënte te sien of studente op te lei nie. Mure is platgeslaan en die hele buitepasiënte-afdeling is herbou."
Ten einde meer pasiënte goedkoper te kan help, is die eerste radiale suite in Afrika in die afdeling tot stand gebring. Toegang tot die bloedvatstelsel by die polsgewrig (radiale arterie) maak dit nou moontlik om hartkateterisasie veiliger uit te voer en as 'n buitepasiëntdiens aan te bied via die radiale suite. “Voorheen moes pasiënte twee aande in die hospitaal oorbly om stents te kry. Nou gaan hulle dieselfde dag huis toe."
'n Moderne lesinglokaal is ook in die hospitaal ingerig om opleiding te fasiliteer. Hier kan tutoriale met die hulp van optimale digitale fasiliteite aangebied word aan voor- en nagraadse studente en terselfdertyd gebeeldsend word na aanlyn gehore.
Volgende aan die beurt was die bou van 'n navorsingsentrum in samewerking met die Britse Genootskap vir Eggokardiografie. Hierdie sentrum was die kern van een van SUNHEART se vlagskipprojekte, Eggo in Afrika. Deur hierdie projek is duisende kinders reeds deur die navorsingsentrum geneem en vir hartsiektes getoets. Die totstandkoming van die navorsingsentrum, gekoppel aan die groter aantal nagraadse studente – veral PhD-studente wat deur SUNHEART-beurse bemiddel is – het die navorsingsuitset aansienlike momentum gegee. Dit dra grootliks by tot die afdeling se status as 'n sentrum van uitnemendheid.
Die laaste infrastruktuur-pilaar behels die totstandkoming van mini-kardiologiesentrums ingevolge die naaf-en-speek-model by Tygerberg se verwysingshospitale.
'n Groot hoeveelheid pasiënte wat andersins Tygerberg toe sou moes gekom het, kan nou by uitreikfasiliteite in onderskeidelik Khayelitsha, die Paarl, Worcester, Somerset-Wes (Helderberg-hospitaal), Bellville (Karl Bremer-hospitaal) en Eersterivier behandel word. “Hierdie sisteem is tot voordeel van beide die pasiënte en die gesondheidstelsel. Pasiënte kan in die gerief van 'n nabygeleë hospitaal behandel word, vervoerkoste word bespaar en ook die vlak van sorg by hierdie hospitale verbeter," sê Pecoraro.
Wat menslike hulpbronne betref, is die groot probleem dat daar nie genoeg kardioloë in Suid-Afrika is nie en dat opleidingsmoontlikhede beperk is, benadruk Pecoraro.
Toe Doubell 25 jaar gelede hoof van die afdeling geword het, was hy een van net twee kardioloë in die afdeling, terwyl daar net een opleidingspos was. Tans is daar vier voltydse en drie deeltydse kardioloë asook agt jong kollegas in opleiding. Nie minder nie as vyf addisionele opleidingsgeleenthede vir kardioloë het regstreeks deur SUNHEART se toedoen tot stand gekom.
Boonop beskik die US en Tygerberg-hospitaal nou danksy SUNHEART oor ʼn elektrofisiologiediens en -opleidingsprogram, wat lank in die openbare sektor net tot Groote Schuur-hospitaal beperk was. “Die persoon wat ons hiervoor geïdentifiseer het asook 'n tegnikus wat opgelei moes word, is vir ses maande oorsee vir opleiding," vertel Pecoraro. Buiten dat albei nog deurentyd deur SUNHEART befonds word, is R5 miljoen se bykomende elektrofisiologietoerusting ook aangeskaf.
Wat die PhD-program en die befondsing van PhD-studente betref, het een SUNHEART-beurshouer reeds sy doktorsgraad verwerf en is vier tans besig daarmee. Die verwagting is dat 'n verdere twee vanjaar sal promoveer.
Die uitreikprogram spreek vanself, voeg Pecoraro by. “Deur kardiologiedienste te desentraliseer, het ons 'n unieke model geskep wat nie net opleiding betref nie, maar ook toegang tot gevorderde dienste vir die gewone man. Ons het nou al die sesde uitreikfasiliteit op die been gebring. Jaarliks maak meer as 500 pasiënte regstreeks van die uitreikstelsel gebruik en tot 3 000 indirek van die een of ander komponent daarvan. Die toegewyde personeel by die uitreikfasiliteite, wat deur middel van die uitreikprogram addisionele kennis en vaardighede bekom het, speel nou 'n belangrike rol om gevorderde kardiologiesorg by hierdie fasiliteite te bied. Dis een van ons grootste suksesse."
Die SUNHEART-inisiatief het die Afdeling Kardiologie bemagtig om sy regmatige plek in te neem as 'n sentrum van uitnemendheid op die kontinent van Afrika, gelykstaande aan kardiologiesentra van uitnemendheid wêreldwyd, beklemtoon Doubell.