
2019 Die Vlakte-beurswenners aangekondig
Nóg vyf studente het baatgevind by die Universiteit Stellenbosch (US) se Die Vlakte-beursfonds, met die bekendmaking van die 2019-ontvangers van die studiebeurse vandeesweek. Dit bring die totale waarde van Die Vlakte beurse wat die afgelope vier aan studente toegeken is, op R1,4 miljoen te staan.
Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het Maandag by die oorhandigingsgeleentheid gesê die beursfonds is 'n vorm van vergoeding en regstelling vir afstammelinge van inwoners van Die Vlakte wat gely het toe hulle in die sestiger- en sewentigerjare van die grond afgesit is.
Vanjaar se begunstigdes van die fonds is Michelle Kannemeyer, 'n tweedejaar BRek-student, Danielle Smith, tweedejaar BA (Ontwikkeling en Omgewing), Gianni Pasquallie, eerstejaar MBChB, Mohamed Braaf, eerstejaar BCom (Finansiële Rekeningkunde) en Jaydon Rose, eerstejaar MBChB.
In sy openingsrede het De Villiers gesê die Die Vlakte-beursfonds was vir hom een van die hoogtepunte in sy termyn as Rektor en Visekanselier van die US.
“Ek het vandag presies vier jaar gelede my pos as Rektor en Visekanselier opgeneem. Een van die eerste aankondigings wat ek gemaak het, was dat die Universiteit 'n beursfonds sou skep vir voormalige inwoners en hul afstammelinge. Hoekom was dit nodig? Om 'n verkeerde daad wat in die 1960's gepleeg is, reg te stel."
Die Rektor het bygevoeg dat die Universiteit baie hard werk om meer inklusief te wees. “Ons studente- en personeelkorps word al hoe meer divers. Ons reik ook uit na die gemeenskap om die gaping tussen ons te verklein.
“In Oktober verlede jaar het ons hulde gebring aan die mense van Die Vlakte toe ons die gebou wat tans die Universiteit se Africa Open Instituut (AOI) vir Musiek huisves, na die man wat oorspronklik dit as 'n tuiste vir sy gesin gebou het, Pieter Okkers, vernoem het.
Michelle Kannemeyer van Kuilsrivier het gesê sy voel bevoorreg om 'n studiebeurs van die Universiteit te ontvang, al is haar aansoek verlede jaar, toe sy by die US begin studeer het, afgekeur. Michelle se pa, Jason Kannemeyer, het gesê: “Die beurs bied groot finansiële verligting aan my en my gesin, want hulle betaal R52 000 van my dogter se studiegelde. Dit is baie geld en ons is baie dankbaar, maar die Universiteit kon beter as dit gedoen het, was die beurs dek nie handboeke, kos en vervoer nie."
Danielle Smith van Idasvallei het gesê dit voel ongelooflik om die beurs te ontvang en dit is n wonderlike manier om hulle te help om hul doelwitte te bereik.
Mohamed Hishaam Braaf het gesê sy hele familie was in die wolke toe hulle gehoor het dat hy een van die beurswenners is. “Ons het Donderdag gehoor en het 'n klein feesviering gehou. Dit is hartseer dat my grootouers van hul grond afgesit is weens 'n wet, maar ons vier vandag en die verligting wat hierdie beurs vir my familie sal bring."
Vir Jaydon Rose is dit bittersoet om die beurs te ontvang – soet omdat dit verligting bring, maar bitter omdat hul familie al hul grond verloor het.
Giovanne Pasquallie het gesê sy sien nie die beurs as 'n aalmoes nie, maar eerder as 'n manier om haar voorvaders wat 'n baie groot onreg aangedoen is, te veer. “Ons is dankbaar omdat dit vir ons die geleentheid gee om suksesvol te wees en ons doelwitte te bereik."
- Die Vlakte was 'n woonbuurt naby die middedorp van Stellenbosch in die gebied tussen Muller-, Bird- en Joubertstraat en Merrimanlaan. Hoofsaaklik bruin mense het hier gewoon, maar in die 1960's is hulle ingevolge die Groepsgebiedewet verskuif. Die Universiteit het destyds nie as instelling protes aangeteken nie, en ook later op onteiende grond gebou.
'n Maksimum van vyf Die Vlakte-studiebeurse word per jaar aan persone wat self in hierdie buurt gewoon het, asook aan hul kinders en kleinkinders toegeken. Huidige en voornemende studente wat vir 'n voorgraadse of 'n eerste nagraadse program wil registreer, kan vir die beurs aansoek doen. Dit dek basiese klasgeld vir die minimum duur van die student se program. Suksesvolle akademiese vordering is ʼn voorvereiste vir voortsetting van die beurs.