
10% Afslag vir personeel - Loopbaanadviesdienste (Graad 9, 11 en 12 leerders)
LOOPBAANADVIESDIENS
Voornemende studente word gekonfronteer met 'n wye verskeidenheid program- en loopbaanopsies – beslis 'n voorreg, maar soms ook 'n dilemma wat tot heelwat kopkrap kan aanleiding gee. Die Universiteit Stellenbosch stel dit as ʼn prioriteit om voornemende studente te ondersteun om realistiese program- en loopbaankeuses te maak.
Daarom bied ons 'n professionele loopbaanadviesdiens aan.
Hierdie diens word aangebied vir graad 11- en 12-leerders. Dit sluit in 'n 4 uur psigometriese assessering van persoonlikheid, aanleg en belangstellings, ʼn 1 uur individuele gespreksessie, asook 'n geskrewe verslag van die resultate en aanbevelings. Aanbevelings word gemaak op grond van die kliënt se unieke profiel en kan dus programme aan 'n verskeidenheid van hoër onderwysinstellings insluit. Hierdie geleentheid word dus aangebied vir alle voornemende studente, en nie slegs vir diegene wat aan die Universiteit Stellenbosch wil studeer nie.
GRAAD 9 VAKKEUSEVOORLIGTING
Daar is verskeie faktore wat 'n rol speel in die aanloop tot 'n suksesvolle beroepskeuse. Een van die eerste oorwegings is 'n realistiese en weldeurdagte vakkeuse vir graad 10 tot 12. Leerders se vakkeuses kan ʼn groot implikasie hê in terme van ʼn toekomstige loopbaan. Daar is dikwels ook baie onkunde rondom die oorwegings wat bydra tot die regte vakkeuse. Om leerders te ondersteun in hul vakkeuse proses bied die US se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies professionele vakkeuse-voorligting aan vir graad 9-leerders.
Hierdie diens behels 'n 4 uur psigometriese assessering van persoonlikheid, aanleg en belangstellings, ʼn 1 uur individuele gespreksessie, asook 'n geskrewe verslag van die resultate en aanbevelings. Hierdie aanbevelings word objektief, onpartydig en met inagneming van die leerder se profiel, asook sy/haar skool se vakkeusepakket, gemaak. Die leerder word ook bewus gemaak van die invloed wat sy/haar keuses op 'n naskoolse studieprogram en/of loopbaan kan hê.
ALGEMENE INLIGTING OOR ONS DIENS:
- Die koste beloop R2250 per kliënt (R2025 vir US personeel)
- Ons is oop tydens skoolvakansies
- Assessering word slegs gedoen met besprekings
- Ander dienste (bv. loopbaanvoorligting in skole, spesiale projekte en/of werkswinkels) kan ook gelewer word. Koste word bepaal deur die aard van die projek.
KONTAK ONS:
Algemene navrae en besprekings: 021 808 4709 / [email protected]