Skip to main content
Agt kwalifikasies tussen US-egpaar

Agt kwalifikasies tussen US-egpaar

Sue Segar
08 April 2022

Die egpaar Bryan Bergsteedt en Nicola Bruns, personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US), het albei hul vierde US-graad op dieselfde gradeplegtigheid ontvang.

Bergsteedt het met ʼn Nagraadse Diploma in Leierskapsontwikkeling (cum laude) en Bruns met ʼn Nagraadse Diploma in Toekomsstudies gegradueer. Bergsteedt is ʼn lektor in kliniese anatomie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en Bruns ʼn gaslektor in die B.Phil Hons in Joernalistiek-program.  

Hulle het albei in 2012 begin studeer en Bergsteedt het in 2014 ʼn BSc in Menslike Lewenswetenskappe verwerf, asook ʼn BSc Hons in Menslike Anatomie (2015) en ʼn MSc in Menslike Anatomie (2018). Bruns​ het haar BA-graad in Drama en Teaterstudies in 2014 behaal, asook ʼn BPhil Hons in Joernalistiek (2015) en ʼn MPhil in Joernalistiek (2018).    

Prestasies

Bergsteedt is die voorsitter van die US se Institusionele Forum, een van die statutêre liggame wat alle beleide hersien wat deur die Universiteit kom en wat aan die US se Raad rapporteer. Bergsteedt​, ʼn eerstegenerasie-student wat van Johannesburg kom, en Bruns, van die Paarl, het gesê hulle was in hul noppies om saam te gradueer.“Dis merkwaardig. Ek is mal daaroor dat ons hierdie prestasies langs die pad deel," het Bryan gesê.

Die paartjie het in 2015 in ongewone omstandighede ontmoet. “Ek was die adjunk-forumvoorsitter van die nagraadse koshuis, Huis Russel Botman, en Bryan was besig met sy honneurs in anatomie. Ek het ʼn klomp e-posse van die inwoners van die koshuis ontvang oor die aaklige reuke op die eerste vloer en dat ek dringend iets daaromtrent moes doen," het Bruns vertel.  

“Ek het aan Bryan se deur geklop en toe hy oopmaak het ek gevra: 'Wat gaan hier aan?' Hy het verduidelik hy werk aan ʼn forensiese saak van die polisie en die reuke van sy ondersoek kleef aan sy oorpak, al het hy dit reeds drie keer gewas. Ek het hom gedwing om die oorpak weg te gooi. Dit was aaklig!  

“Daarna het ek gedink hierdie ou is óf baie vreemd óf baie slim. Die res is geskiedenis!"

Mededingend

Gevra hoe dit gebeur het dat hulle tegelykertyd vir hul vierde graad gestudeer het, het Bergsteedt gesê hulle is albei “baie mededigend".

“Einde 2020 het Nicola vir my gesê sy het ʼn kursus gevind waarin sy belang stel – die Nagraadse Diploma in Toekomsstudies. Sy is onmiddellik aanvaar. Ek het ʼn bietjie daaroor nagedink en besluit dit sal werklik nie lekker wees as sy meer grade as ek het nie. Toe skryf ek vir die Nagraadse Diploma in Leierskapsontwikkeling in.

“Dit het baie sin gemaak. Ek is toe pas tot voorsitter van die Institusionele Forum verkies. Ek het gedink dit is ʼn groot stap wat my ontwikkeling betref. My grade was grootliks op navorsing gebaseer en as ʼn lektor het ek ook op navorsing gefokus. Hierdie kursus het my uit my gemaksone gedwing. Dit was ʼn groot geleentheid om myself te verstaan en het my uitgedaag om oor my omstandighede en agtergrond na te dink en hoe ek dit kon gebruik om my leierskapstyl in die akademiese ruimte te vorm."

Bruns het gesê sy het op die Nagraadse Diploma in Toekomsstudies van een jaar besluit toe sy saam met John Maytham as vervaardiger van CapeTalk se Afternoon Drive Show gewerk het. “Ek het besef dat ons in die nuuswêreld altyd oor die nóú berig – of dit nou die Zondo-kommissie, Eskom of wat ook al is. Dis altyd die storie van vandag. Ons stop nie om te dink aan die moontlike scenario's wat kan uitspeel nie. Die stadium waarin ek destyds was, wat met persoonlike verandering, beoogde loopbaanverandering en my vrees vir verandering gepaard gegaan het, het my laat besef ek wil realisties na die toekoms kyk en ek wil ʼn gereedskapstel ontwikkel om dit te doen.

“Die kursus was ongelooflik en het die manier verander waarop ek na die toekoms kyk. Ek haat verandering, maar die kursus het my na moontlike toekomstige scenario's laat kyk en hoe om dit aan te pak. Dit het so ʼn positiewe impak op my lewe gehad."​