Skip to main content
US betreur heengaan van prof Adam Small

US betreur heengaan van prof Adam Small

Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
25 Junie 2016

Die Universiteit Stellenbosch het met leedwese verneem van die afsterwe van prof Adam Small, veelbekroonde digter en dramaturg.

Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie en tans waarnemende Rektor en Visekanselier, het gesê dat Suid-Afrika nie net ʼn groot gees in die letterkunde verloor het nie, maar ook een van die mees poëtiese stemme teen apartheid.

Dr Michael le Cordeur, Hoof van die US se Departement Kurrikulumstudie, het Small as die "ewige gentleman" beskryf en gesê: "Hy was ʼn baanbreker wat sy mense, die bruin mense, taalkundig bemagtig het deur nie net in Kaaps te skryf en te dig nie, maar danksy hom is die taal van bruin mense via sy werke in skole en universiteite bestudeer." Hy het bygevoeg dat dit Small was wat Kaaps tot ʼn letterkundetaal verhef het." (Sien artikels hierby aangeheg).

Die Universiteit het ʼn eredoktorsgraad in die lettere in Desember verlede jaar aan Small toegeken vir  sy "verruiming van die Suid-Afrikaanse letterkunde, sy verryking van Afrikaans, en sy gevoelige dog  gesaghebbende verwoording van eens verbode onderwerpe om sodoende as 'n stem vir menige stemlose te dien."

Met die toekenning van die eregraad het die Universiteit Small beskryf as ʼn geliefde en veelbekroonde digter en dramaturg wat hom as morele gewete in die wese van die Suid-Afrikaanse nasie 'ingeskryf' en treffend kommentaar gelewer het op die vernietigende apartheidsbestel.

  • Kliek hier vir 'n artikel deur dr Michael le Cordeur (geskryf 25 Junie 2016)
  • Kliek hier vir 'n video van die 2015-seremonie (oorhandiging en toespraak)
  • Kliek hier vir die toespraak deur dr Michael le Cordeur.