
#USVROUE: Navorsing help gee rigting aan beleide wat vroue se behoeftes ernstig opneem
Beleide en beleidsvorming beïnvloed vroue se behoeftes en dit is iets wat die staat in ag moet neem indien dit geslagsblinde beleidsontwikkeling wil voorkom. Só sê prof Amanda Gouws, bekleër van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief (SARChI) in Genderpolitiek in die departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US).
As deel van Suid-Afrika se Vrouemaand-vieringe, vertel sy ons meer oor hoe haar werk rigting gee aan beleide wat vroue se behoeftes aanspreek.
Vertel ons meer oor jou navorsing
Ek spesialiseer in feministiese teorie en genderpolitiek. My navorsing is die teoretisering van vrouekwessies in die Suid-Afrikaanse konteks wat ek met empiriese navorsing kombineer. My SARChI-navorsingsleerstoel strek oor drie programme en ek werk aktief in al drie programme. My boek oor feministiese institusionalisme word binnekort deur Rowman & Littlefield uitgegee. Die boek handel oor hoe die regering gendergelykheid bevorder en dit fokus spesifiek op die Kommissie vir Geslagsgelykheid waarvan ek van 2012 tot 2014 'n kommissaris was. Ek het ook 'n projek oor vroue se aktivisme rondom geslagsgebaseerde geweld en een oor vroue in plaaslike regering.
Waarom of hoe het jy in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin belangstel?
Genderpolitiek was een van my hoofvakke vir my doktorsgraad wat ek aan die Universiteit van Illinois in Urbana- Champaign in die VSA behaal het. Politieke wetenskap word as vakgebied deur mans oorheers en genderpolitiek het my laat besef daar is ander maniere om die wêreld te verstaan. Ek het wonderlike vroulike mentors gehad. Dit was die begin van 'n loopbaan wat in 'n feministiese praktyk (uitlewing van my feministiese beskouings) en empiriese navorsing oor gendergelykheid gesetel is.
Waarom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsgebied vir Suid-Afrikaanse vroue?
My navorsing handel oor vroue se verteenwoordiging in die regering, vroue-aktivisme en -bewegings en beleidskwessies. My navorsing gee dus rigting aan beleide – byvoorbeeld oor geslagsgebaseerde geweld of maatskaplike probleme soos maatskaplike welsyn wat ek uit die hoek van 'n feministiese etiek van sorg ondersoek. Tensy ons verstaan hoe beleide en beleidsvorming vroue se behoeftes beïnvloed, sal die staat voortgaan om genderblinde beleide te formuleer. Daar is nou meer genderkundiges as toe ek met my loopbaan begin het, maar ons het nog baie meer nodig. Daarom mentor en lei ek ook nagraadse studente op om die belangrikheid van genderbewuste navorsing en beleidsvorming te verstaan.
Die pandemie het ons manier van doen en lewe verander. Hoe bly jy gemotiveerd in hierdie tye?
Ek was op studieverlof, so dit het vir my tyd gegee om baie van my navorsing neer te pen en om artikels wat reeds lankal klaar moes gewees het, te voltooi. Ek was ook saam met my kollega in die departement Ekonomie, me Olivia Ezeobi, mederedakteur van 'n boek oor die pandemie. Ons het 'n versoek uitgestuur vir bydraes en het 35 essays ontvang waarin vroue beskryf wat gedurende die staat van inperking met hulle gebeur het – die uitgebreide sorglas, tuisskoling, 18-uur lange dae van aanlyn klasgee. Sommige het oor hul eensaamheid en kwessies met geestesgesondheid geskryf, en ander oor hul stryd met COVID en kanker en oor armoede. Maar daar was ook opbeurende verhale wat lesers sal laat lag.
Die boek, getiteld COVID Diaries: Women's Experience of the Pandemic, is pas deur Imbali Press uitgegee. Ek en Olivia is baie trots op die boek. Dit lewer 'n baie belangrik bydrae om op te teken wat in 'n krisis soos hierdie gebeur waar niemand op die gevolge voorbereid is nie. Die boek het my regtig aan die gang gehou, net soos my vriendskappe met ander vroue. Ons het as 'n ondersteuningsgroep vir mekaar opgetree en toe ons weer ons huise kon verlaat, het ons elke Sondag gaan stap en gesels oor die uitdagings en oorwinnings van die pandemie.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat min mense sal verwag.
Ek maak wyn op 'n klein skaal as stokperdjie.
Wat is jou boodskap aan die volgende geslag vrouenavorsers?
Wees jouself, reik na die sterre, maar jy hoef nie 'n supervrou te wees nie. Handhaaf 'n gesonde balans tussen jou werk en jou lewe (iets wat baie moeilik is om te doen in die pandemie) en vorm 'n ondersteuningsgroep saam met ander vroue. Daag patriargie op jou eie manier uit.