Skip to main content
US vereer Novartis-voorsitter; wêreldleier in olie- en gassektor

US vereer Novartis-voorsitter; wêreldleier in olie- en gassektor

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
06 April 2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) het eredoktorsgrade aan die voorsitter van die Novartis-stigting in die Verenigde State, dr Patrice Matchaba, en Andries Calitz, ʼn wêreldleier in die olie- en gassektor, verleen.

Hulle het hul grade Dinsdag (5 April 2022) by die Universiteit se April-gradeplegtigheid by twee afsonderlike kontakgradeplegtigheidseremonies vir studente in die Fakulteite Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en Ingenieurswese ontvang. Beide geleenthede is by die Coetzenburg-sentrum gehou.

Matchaba is met die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa, vereer vir sy voortreflike bydraes tot die farmakologie en kliniese wetenskap, sy leiersrol om ongelykhede in gesondheidsorg en navorsingsvermoë wêreldwyd reg te stel, en vir die toepassing van sy kennis om mense oor die wêreld heen beter mediese behandeling en hoër lewensgehalte te bied.

 
  • ​Selfoongebruikers klik hier vir video.

Matchaba het in sy aanvaardingstoespraak die US bedank vir die eregraad en gesê hy is diep geraak deur hierdie erkenning.

“Toe die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, my oor die Universiteit se besluit ingelig het, het ek hom gevra om my eers 'n oomblik te gee omdat ek emosioneel was. Ek was emosioneel omdat 'n erkenning wat van die huis af kom 'n persoonlike verskil maak."

Hy het die Universiteit gelukgewens dat dit in 'n ware Suid-Afrikaanse universiteit verander het. “Ons is almal trots op wat julle bereik het." Matchaba het gesê die Covid-19-pandemie het die instelling die ideale geleentheid gebied om leiding te neem in onder meer wetenskap en tegnologie en boodskapper-RNA-navorsing in Afrika.

“Ek doen 'n ernstige beroep op julle – neem die leiding op akademiese gebied in Afrika."

Matchaba het bygevoeg dat hy daarna uitsien om saam met die nuwe dekaan van die FGGW te werk.

Meer oor Matchaba

Dr Patrice Matchaba is die voorsitter van die Novartis-stigting in die Verenigde State, 'n organisasie wat daarna streef om die gesondheid van lae-inkomstebevolkings deur verskeie innoverende programme te verbeter.

Hy is in 2000 as mediese direkteur en wetenskaphoof by Novartis in Suid-Afrika aangestel, en het twee jaar later na dié farmaseutiese korporasie se kantoor in Amerika verskuif. Sedertdien het hy bekendheid verwerf in die bedryf en het in verskeie leiersrolle by Novartis uitgeblink. Hy het die suksesvolle ontwikkeling, registrasie en bekendstelling van 'n nuwe, innoverende hartversakingsmiddel (Entresto) gelei en die opening van nuwe middelveiligheid- en risiko-opsporingsentrums in Indië, Argentinië, Ierland en China bestuur.

As 'n passievolle kampvegter vir korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid, is Matchaba ook aan die voorpunt van Novartis se inisiatiewe om ongelykheid in gesondheidsorg wêreldwyd reg te stel. Nuwe malariamedisyne is onder sy leiding ontwikkel, en hy het Novartis se Afrikasekelselsiekteprogram in Afrika suid van die Sahara aangevoor. Daarbenewens het hy 'n nuwe Novartis-organisasie vir Afrika suid van die Sahara bekend gestel wat 47 lande insluit en beoog om toegang tot medisyne te verhoog en gesondheidstelsels in Afrika te versterk.

Sy sterk steun vir die Universiteit Stellenbosch het boonop al tot beduidende finansieringsbydraes tot die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se opleiding- en navorsingsinisiatiewe gelei.

Andries Calitz

Calitz het die graad, Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa, ontvang vir sy bydrae tot die ontwikkeling van die wêreldwye energievoorsieningsektor, en sy visionêre leierskap en merkwaardige prestasies op energiegebied.

Calitz het die US en spesifiek die Fakulteit Ingenieurswese bedank vir die eerbewys. Hy het die nuwe ingenieursgraduati gelukgewens en die waarde van hul kwalifikasies beklemtoon.

 
  • Selfoongebruikers klik hier vir video.

“Ek het die kritieke rol gesien wat ingenieurs van alle dissiplines speel om ekonomieë van die wêreld aan te dryf, veral deur produksie- en diensfasiliteite te skep. Ek het die belangrike rol gesien wat ingenieurs speel in die skep van infrastruktuur, in innovasie, in vervoer, in mediese dienste, in finansiële dienste, en in elke vorm van dít wat die samelewing nodig het."

“Ek kan julle vandag verseker dat wanneer julle hier weggaan en nadat julle met trots gegradueer het, dit die regte besluit was omdat die wêreld ingenieurs en mense soos julle nodig het."

Calitz het bygevoeg dat die nuwe gegradueerdes ideaal geplaas is om 'n sleutelrol in die oorgang na hernubare energie en in volhoubare ontwikkeling te speel.

Meer oor Calitz

Van Asië en Kanada tot Suid-Afrika het Andries (Andy) Calitz 'n kernrol in die wêreldwye energievoorsieningsektor vervul. Dié voormalige hoof van LNG Canada en bekleër van verskeie senior bestuursposte by die energiekorporasies Shell en Eskom is tans die sekretaris-generaal van die Internasionale Gasunie en uitvoerende hoof van FutureEnergy.

Calitz, wat in 1981 sy graad in Elektriese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, het sy loopbaan by Eskom begin. Hier vervul hy etlike bestuurs- en uitvoerende rolle op die terrein van elektrisiteitsproduksiebeplanning, -prysbepaling, -sektorherstrukturering en -transmissie. Hy was gedurende sy tyd by Eskom verantwoordelik vir die bedryf van Suid-Afrika se hoëspanningsnetwerk, en leier van die geïntegreerde beplanningsproses vir die land se elektrisiteitsbedryf.

Nadat hy hom in 1996 by Shell aansluit, het hy by internasionale baanbreker-energieprojekte betrokke geraak. Hy het 'n onbesproke geskiedenis in die bestuur van internasionale energiemegaprojekte, veral in die konteks van gesamentlike ondernemings. Hy was al by energiebeleggings ter waarde van $100 miljard betrokke en het tot bedryfsontwikkeling in lande wêreldwyd bygedra.

Calitz het ook kwalifikasies in die handel, bestuur en sake-administrasie aan die Harvard-bestuurskool, die universiteite van die Witwatersrand en Suid-Afrika sowel as INSEAD verwerf.

  • ​Foto: Dr Patrice Matchaba en Andries Calitz by die gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els​