
'Daar is geen hysers na sukses, ek moes die trappe klim' sê gehoorgestremde gegradueerde
Toe sy opstaan om haar meestersgraad in fisioterapie te ontvang, het Celize Louw, ʼn gehoorgestremde student, die lang en somtyds swaar pad van afstandsonderrig vir eers afgesluit.
Vir Louw (43), is hierdie prestasie bewyse dat harde werk beloon word en dat “daar oral goeie mense is wat bereid is om te help. Jy moet net vra."
Louw woon in Port Elizabeth, is die moeder van ʼn agt- en tien-jarige, en werk al vir die afgelope 15 jaar as fisioterapeut van haar huis af. Die jong atlete met wie sy werk het haar laat besluit om verder te studeer – en dus het sy by die Universiteit Stellenbosch geregistreer vir ʼn meestersgraad.
Haar tesis, getiteld Self-Reported Prevalence, Type, Severity and Management of Musculoskeletal Injuries among High School Rugby Players in the Nelson Mandela Bay Metropole, het die ontwikkeling van ʼn self-verslagdoenende vraelys behels wat kyk na beserings by rugbyspelers by top rugbyskole in die Nelson Mandelabaai metropool.
Die reis tot haar meestersgraad was ʼn tog van “skryf en herskryf" en ʼn paar “baie spanningsvolle mondelinge met eksaminators via Skype" – alles in die konteks van ʼn gehoorgebrek.
“Daar is geen hysers na sukses nie – ek moes toe trappe klim," sê Louw.
Tydens ʼn onderhoud het sy haar sukses toegeskryf aan harde werk en het ook hulde gebring aan haar man, Jeffery, haar ouers, en dr Linzette Morris, senior-dosent en nagraadse koördineerder by die Afdeling Fisioterapie, wie, volgens haar, bo en behalwe haar plig gedoen het om haar te help.
Louw was op drie-jarige ouderdom gediagnoseer met erge sensorineurale gehoorverlies in albei ore. Sy het op kragtige gehoortoestelle en liplees staatgemaak om te kommunikeer.
Met behulp van die Carel du Toit-sentrum in Tygerberg, wat gehoorgestremde kinders help om gesproke taal te leer, het Louw hoofstroomskole bygewoon en by McLachlan Hoërskool gematrikuleer, waar sy ook haar Graad 8 Unisa klaviereksamen voltooi het.
Sy het later haar BSc-graad in Fisioterapie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, en in 1999 as ʼn fisioterapeut begin werk.
In haar praktyk het Louw gereeld te doen gekry met hoërskoolkinders met sportbeserings – veral rugbybeserings.
“Dit het my nuuskierig gemaak oor die voorkoms, tipes, graad van erns, en bestuur van hierdie beserings in die Nelson Mandelabaai hoërskool-bevolking. Ek wou hierdie vrae ondersoek met formele studies. My man het die Universiteit Stellenbosch geskakel, en hulle het voorgestel dat ek ʼn meestersgraad doen."
In 2016, terwyl sy aan die struktuur van haar tesis gewerk het, het Louw se gehoor skielik agteruit gegaan. “Ek kon nie hoor as my man of kinders met my praat nie. Die gedagte dat ek dalk nooi weer hulle soet stemme sou hoor nie, het my verpletter."
Na verskeie toetse is sy goedgekeur vir ʼn linker kogleêre inplanting, wat sy toe later in 2016 ontvang het. “Toe het die lang en vermoeiende pad na herstel begin. Die nuwe klank het geen sin gemaak nie ... selfs my pa het soos R2D2 geklink! Dit was moeilik om by hierdie nuwe omgewing aan te pas."
Haar onvermoë om musiek ordentlik te hoor was ʼn groot bron van angs vir Louw, aangesien die familie baie lief was om saam te sing en ʼn verskeie instrumente tussen hulle speel.
Dit was tydens hierdie moeilike tyd wat Morris ʼn steunpilaar vir Louw geword het.
Morris het die potgooie van lesings laat transkribeer en onderskrifte by die potgooi videos gevoeg. Louw kon toegang kry tot die potgooi-videos met onderskrifte via die internet.
Sy het ook gereeld telefonies met Louw gekommunikeer deur haar man en sekretaresse.
“Ek het vir ure en weke lank die potgooie bestudeer en notas gemaak van elkeen," sê Louw.
“Elke keer as ek Tygerberg-hospitaal toe gegaan het vir ʼn ondersoek vir my kogleêre inplanting, het ek en dr Morris ontmoet, en sou sy my help met die struktuur en ander aspekte van my meesters."
Louw se ouers het haar in Kaapstand rondgery terwyl haar man die huishouding aan die gang gehou het in PE.
Haar studies het ook finansiële implikasies gehad: “Ek moes minder pasiënte bespreek sodat ek tyd gehad het om te skryf. My man het my ondersteun ... en dr Morris het my gehelp om ʼn klein beurs te kry om my te help."
Terwyl sy studeer het, was Louw ook steeds die “ma" van die huis – sy moes kosblikke pak, skooluniforms nagaan en haar kinders buitemuurse aktiwiteite toe neem. Sy het gereeld in die middernagtelikte ure opgestaan om ongesteurd aan haar meesters te werk.
“Na baie skryf en herskryf, en baie raad van dr Morris, het ek uiteindelik ʼn tesis aanmekaar gesit. In die doodsnikke van die tesis moes ek ʼn mondeling met eksaminators via Skype doen. Dit was baie spannend, want selfs met die video-beeld, sukkel ek steeds om ordentlik te liplees. Gelukkig het my man langs my gesit en het hy geduldig elke vraag herhaal wat hulle gevra het."
Louw is opgetoë met hierdie prestasie en sal graag haar studies wil uitbrei.
Louw se man en ouers het haar gradeplegtigheid bygewoon terwyl haar kinders dit langsaan op die grootskerm gekyk het. “Ek is ewig dankbaar vir hulle, asook vir dr Morris, vir die onselfsugtige manier waarop hulle my gehelp het. Ek het nooit ʼn klagte van enigeen van hulle gehoor nie."
Vir nou wil Louw fokus op haar fisio-praktyk. Sy is ʼn langafstandatleet – aangespoor deur Jeffrey, ʼn ysterman-atleet – saam met wie sy al ʼn vol ysterman gedoen het in 2007, en sy hoop om binnekort weer ʼn maraton te doen.
Morris sê toe sy aanvanklik deur Louw se aansoek om meesters gegaan het, het sy nooit haar gehoorgebrek as ʼn hindernis gesien nie, slegs ʼn uitdaging.
“Celize het bewys dat jy enigiets kan bereik – ongeag jou gestremdheid. Sy het deursettingsvermoë, en was bereid om afstandsonderrig aan te pak, ten spyte van haar gebrekkige gehoor. Sy het nooit gesê 'ek kan dit nie doen nie'. Ek het baie bewondering vir haar.
“Ek is besonders trots om te sien hoe Celize haar graad ontvang, wetend waar deur sy is. Sy is ʼn ware inspirasie."