Nagraads
Ons Departement huisves ’n lewendige en diverse nagraadse kohort, met lede uit talle Afrikalande en soms van selfs verder weg. Ons is trots op ons aanbod van uitnemende honneursopleiding en MA- en PhD-studieleiding in ’n ondersteunende omgewing. Ons nagraadse studente vorm die kern van die navorsingskultuur wat ons in die Departement koester en ons bied talle geleenthede vir betrokkenheid en deelname. Elke Donderdag tussen 12:00 en 13:00 is daar navorsingseminare, strategiese skryfwerksessies vir akademiese skryfwerk en die publikasie van artikels, en verskeie leesgroepe waarby studente vrywillig kan aansluit.
Daarbenewens bied die honneurstudente hulle lang navorsingsreferate aan die begin van die tweede semester by ’n klein konferensie aan, ons MA-studente bied hulle navorsingsprojekte by ’n voorstelwerksessie aan, en ons PhD’s word aangemoedig om ’n nagraadse konferensie te reël, waar elke student ’n referaat aanbied, gevolg deur ’n oop vraesessie. Hierdie forums was tot dusver baie nuttig deurdat dit studente help om hulle argumente te fokus en vertroue in hulle redenaarsvaardighede op te bou. Ons moedig ook deelname aan plaaslike letterkundige geleenthede aan en reël gereeld kaartjies en vervoer na die Franschhoek Letterkundefees en die Ope Boekfees in Kaapstad. Ons het ook gevestigde bande met die ander universiteite in die Wes-Kaap en elders in die land en ons moedig ons nagraadse studente aan om aan konferensies en simposiums wat deur ander instellings aangebied word, deel te neem.
Dokument
Honneurs Prospektus 2026 (927.3 KB)
Vir meer inligting oor ons nagraadse programme, kontak gerus die volgende:
HONNEURS: Dr Megan Jones: [email protected]
MA: Dr Nwabisa Bangeni: [email protected]
PhD: Prof Sally-Ann Murray: [email protected]
PhD in Engels
PhD-koördineerder: Professor Sally-Ann Murray: [email protected]
Doktorale studies in die Departement Engels oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe in die letterkunde en kultuurstudies, en ook in kreatiewe skryfwerk, is moontlik. Die PhD verg toegewyde, onafhanklike navorsing en studieleiers werk nou met studente saam deur al die fases van die studie heen. Die Departement bied gestruktureerde ondersteuning aan studente, veral in die aanvangsfase wanneer die voorstel opgestel word. Vir meer oor ons navorsingskundigheid, besoek die personeelprofiele op ons webwerf hier. Ons beskik oor goed gevestigde navorsingskundigheid in, byvoorbeeld: Afrika-letterkunde, Suid-Afrikaanse en Oos-Afrikaanse letterkundestudies in die besonder; studies in negentiende-eeuse letterkunde en die herverbeelding daarvan; kulturele, oseaniese en ekokritiese studies; filmstudies en draaiboekskryf; kontemporêre kreatiewe niefiksie en letterkundige joernalistiek; digkuns; lewenskryfwerk; studies van trans-Atlantiese swart skryfwerk en netwerke; kreatiewe skryfwerk; vertalingstudies; postkoloniale letterkunde en teorie; queerletterkunde en -kultuur; Engelse letterkunde en pedagogiek; en narratiewe teorie.
Die Departement bied twee vorms van die PhD aan:
1. ’n Volproefskrif-PhD (Engels)
’n Akademiese proefskrif van 80 000 woorde
2. ’n PhD (Engels) met die fokus op kreatiewe skryfwerk of letterkundige vertaling
Die PhD het twee komponente: ’n oorspronklike stuk kreatiewe skryfwerk of letterkundige vertaling in ’n spesifieke genre of mengsel van genres, en ’n besinnende, kritiese kommentaar wat met die kreatiewe werk/vertaling verband hou. Die omvang, vorm en gewig van elke komponent word in besprekings tussen die studieleier(s) en die student bepaal.
Toelatingsvereistes:
’n Minimum van 65% vir die MA in Engels, of ’n verwante dissipline word vereis. Vir die PhD met kreatiewe skryfwerk/vertaling, word bykomende bewyse van prestasie op die voorgestelde gebied benodig. Ons verkies dat ons studente voltydse inwonende studente moet wees, waar moontlik.
Hoe om aansoek te doen:
As jy daarin belangstel om ’n PhD by die Departement Engels aan die Universiteit Stellenbosch te doen, moet jy twee goed doen:
- Stuur ’n e-pos aan die koördineerder met ’n kort oorsig van jou beoogde onderwerp, ’n paragraaf oor jou MA-navorsing en ’n afskrif van jou CV en MA-transkrip; EN
- Vul ’n aanlyn aansoekvorm hier in via sentrale Administrasie.
Onvolledige aansoeke sal nie oorweeg word nie.
Finansiering:
Die Departement Engels is ongelukkig nie in ’n posisie om studente vir doktorale studie te finansier nie.
Beurse wat deur die Universiteit Stellenbosch geadministreer word, is vir sekere studente beskikbaar. Raadpleeg die webwerf van die nagraadse kantoor: www.sun.ac.za/pgo/funding vir meer inligting. Ons wil ook van hierdie geleentheid gebruik maak om alle belangstellende studente aan te moedig om voor die interne sluitingsdatum(s) soos op die webwerf van die nagraadse kantoor geadverteer vir finansiering deur die Nasionale Navorsingstigting (www.nrf.ac.za) aansoek te doen.
Belangrike skakels en hulpbronne
Formaat van PhD-voorstel:
Fakulteitsbeleiddokumente en vorms (vir hoërgraadstudente en studieleiers):
Institusionele navorsingsverwante beleidsdokumente, met inbegrip van verantwoordelike navorsingsgedrag en plagiaat:
/research-innovation/Research-Development/policies-guidelines
Inligting wat verband hou met etiese goedkeuring, datums van vergaderings en aanlyn aansoeke:
/research-innovation/Research-Development/integrity-ethics/human-research-(humanities)-ethics
Inligting wat verband hou met die indien van tesisse of proefskrifte op SUNScholar: http://library.sun.ac.za/en-za/Help/Pages/online-thesis-submission.aspx
Hierdie weergawe: 4 Junie 2020
Magister in Engels
Magister-koördineerder: Dr Nwabisa Bangeni - [email protected]
Die gewone woordtellings vir magistertesisse word hier onder verskaf. Die woordtelling sluit inteksverwysings en voetnotas in, maar sluit die stof vooraf (‘abstract’ en opsomming, verklaring, erkennings, inhoudstabel ens.), bibliografie en aanhangsels uit.
- Magistertesis (180 krediete): 35 000 tot 45 000 woorde
- Magistertesis (120 krediete): 27 000 tot 33 000 woorde
- Magistertesis (90 krediete): 18 000 tot 22 000 woorde
(Hierdie weergawe: Augustus 2024)