Skip to main content
Photo by Dr Megan Jones

About

By die Departement Engels gaan ons om met tekste wat plaaslike en globale landskappe deurreis en bied keusekursusse in die letterkunde, film en kultuurstudies, asook kreatiewe skryfwerk.

Die Kaap dien al meer as drie eeue lank as ’n kruispad waar oos en wes ontmoet, en noord en suid ontmoet – ’n sameloop van tyd en plek wat direk vorm verleen aan ons doelwitte aan die Universiteit Stellenbosch. Ons onderrig en navorsing ondersoek die uiteenlopende maniere waarop lees, uitbeelding en tekstualiteit oor verskillende geskiedenisse, geografieë en gemeenskappe heen gevorm word.

Ons beskou die vakgebied van Engels as ’n ruimte van transformerende ontmoetings – tussen wêrelde, tussen woorde – ’n deurlopende proses van lees, debatteer, verbeel en skryf. Hierdie ontmoetings verbreed nie slegs ons studente se begrip van die vakgebied nie, maar rus hulle ook toe om krities met Stellenbosch self, ’n plek waar ekonomiese en rasse-ongelykhede diep ingegrif bly, om te gaan. Tekste soos die romans van Akwaeke Emezi, Abdulrazak Gurnah se fiksie, Karibiese digkuns, of Njabulo S Ndebele se essays herverbeel identiteite wat deur ras, kultuur en gender gevorm is. Terselfdertyd daag werke deur Olive Schreiner of Walt Whitman die konvensionele manier waarop die interseksies van identiteit, ideologie en lokaliteit beskou word, uit. Ons navorsing strek oor diverse vakgebiede heen – queerteorie, diasporastudies, ekokritiek, visuele aktivisme, Neo-Victoriaanse fiksie, en kontemporêre digkuns – wat alles ons begrip van die letterkunde as ’n instrument vir denke, uitdrukking en aksie verdiep.

Ons graduandi gaan hier weg met konseptuele en samestellende hulpmiddels wat op loopbane in die media, die onderwys, NRO’s (nieregeringsorganisasies), die staatsdiens en die reg toegepas kan word. Meer grondliggend glo ons dat die vaardighede wat deur kritiese denke gekoester word, noodsaaklik is vir die aankweek van demokrasie, transformasie en ’n regverdige samelewing.

Die Departement huisves ’n kollegiale en inklusiewe navorsingsgemeenskap – een waarbinne personeel, studente, nagraadse studente, besoekende genote en emeritus professors saamkom om oorspronklike en innoverende akademieskap op te lewer. Ons geleentheidsprogram sluit in navorsingseminare met streeks- en internasionale vakkundiges, werksessies oor die skryf van ’n voorstel, navorsingsmetodologieë en kreatiewe skryfwerk, asook ’n verskeidenheid aktiewe lees- en skryfgroepe, waaronder die Nature Critical: Environmental Humanities-leesgroep.

Ons voorgraadse kernkursusse is ontwerp om studente op ’n reis oor tydperke, genres en geografieë heen te neem. Saam met die tradisionele gebiede van letterkundige studie, beklemtoon ons ook postkoloniale en kultuurstudies, met kleingroepseminare in die derde jaar wat studente in staat stel om hulle studies volgens hulle passies saam te stel. Hibridiese leerinisiatiewe op derdejaars- en honneursvlak bied geleenthede om met studente uit Indië en die VK mee te werk, wat globale dialoog en diverse perspektiewe aanmoedig.

Die honneursprogram bou voort op die voorgraadse fondament met ’n verpligte kursus in twintigste-eeuse teorie en ’n navorsingsessay wat studente vir studie op magistervlak voorberei. Studente verken ’n groot verskeidenheid onderwerpe, van Oos-Afrikaanse letterkunde tot ekokritiek, van liefde in die globale suide tot narratiewe teorie, met personeel wat op hulle eie kundigheidsgebied klasgee.

Op nagraadse vlak het ons ’n lewendige gemeenskap van magister- en doktorale studente van regoor die wêreld byeengebring, wat met studieleidingspanne saamwerk en aktief aan ons seminare, leesgroepe en interdissiplinêre werksessies, soos dié wat deur die Afrika Doktorale Akademie aangebied word, deelneem. Medewerkende projekte, soos ons vennootskap (deur die Nasionale Instituut vir die Geesteswetenskappe en Sosiale Wetenskappe, of NIHSS, gefinansier) met universiteite in Mumbai (South-South Feminisms) het ons navorsingsomgewing verder verryk deur die skep van dinamiese transnasionale uitruilings en die verbreding van ons begrip van globale letterkundes.

Die Departement bestaan uit vyftien voltydse personeellede en ’n span gekwalifiseerde eerste- en tweedejaarstutors, van wie talle self nagraadse studente is. Saam koester ons ’n ruimte waar kritiese denke en verbeelding floreer – ’n omgewing wat verbind is tot streng akademieskap, kreatiwiteit en onderlinge ondersteuning. Ons mik daarna om nie slegs ons studente akademies te verryk nie, maar om ’n plek te bied waar intellektuele en persoonlike groei kan floreer, terwyl Stellenbosch voortgaan om homself te herverbeel.