Intreeredes: Professors Bernard Bekker and Arnold Rix
Kontakbesonderhede
Prof Wikus van Niekerk, Dekaan van Ingenieurswese, nooi u hartlik uit om dié mylpaal in die merkwaardige akademiese reis van Professor Bernard Bekker en Professor Arnold Rix saam te vier.
Professor Bernard Bekker
Titel: ‘Dit hang af’: die gebruik van modelle om Suid-Afrika se toekomstige elektrisiteitstelsel te ondersteun
Professor Arnold Rix
Titel: Skep stabiliteit deur ontwrigting met hernubare energie: van uitdagings tot geleenthede
Datum: Donderdag 6 November 2025
Tyd: 17:30–20:00
Plek: Siviele Ingenieurswese-gebou, Kamer S4025
RSVP: Klik hier om te RSVP
Prof Bernard Bekker
‘Dit hang af’: die gebruik van modelle om Suid-Afrika se toekomstige elektrisiteitstelsel te ondersteun
Elektrisiteit is ’n hoeksteen van die moderne beskawing en sal voortgaan om ’n kernrol te speel in die skep van ’n skoner energietoekoms.
Betroubare en bekostigbare elektrisiteit gebeur egter nie toevallig nie: Dit verg sorgvuldige beplanning om byvoorbeeld te bepaal wanneer, waar en watter tipes nuwe kragstasies gebou moet word. Indien beplanning vertraag word of op swak inligting berus, kan dit ernstige gevolge hê. Dít blyk duidelik uit Suid-Afrika se onlangse ervarings met beurtkrag en stygende elektrisiteitskoste.
Beplanning vir ’n onseker toekoms is inherent uitdagend. Dit word selfs ingewikkelder namate elektrisiteitsnetwerke wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, al hoe meer batterystoorkapasiteit en ’n verskeidenheid hernubare energiebronne soos wind- en sonkrag begin insluit. Die liberalisering van elektrisiteitsmarkte voeg verdere onsekerheid by.
Prof Bernard Bekker verken in sy intreerede hoe modelle gebruik word om beplanning vir Suid-Afrika se toekomstige elektrisiteitstelsel te rig. In die proses ondersoek hy sekere relevante vrae, waaronder: Sal beurtkrag terugkeer? Kan beurtkrag bloot deur stelsel-ineenstortings vervang word namate wind- en sonkrag in die netwerk toeneem? En word jou dakgemonteerde sonkragstelsel deur die res van ons gesubsidieer?
Modelle op sigself verbeter egter nie beplanningsuitkomste nie, en die akademie maak nie die besluite wat Suid-Afrika se elektrisiteitstoekoms bepaal nie. Daarom besin prof Bekker ook oor hoe modelleringsinsigte doeltreffend gekommunikeer en gebruik kan word om verstandige besluitneming te ondersteun. Laastens bespreek hy die rol wat die akademie kan speel om te sorg dat elektrisiteitsbeplanningsbesluite ingelig, deursigtig en in die openbare belang is.
Prof Bernard Bekker het hom as ’n elektroniese ingenieur bekwaam, daarna in die bankwese as stelsels- en netwerkontleder gewerk, en uiteindelik sy loopbaan in ’n ander rigting gestuur om twee van sy passies – groenbou en hernubare energie – na te jaag. Nadat hy verskeie rolle in die fotovoltaïese-sonkrag- en kragelektronikabedrywe beklee het, sluit hy hom in 2017 by die Universiteit Stellenbosch se Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan.
Hy spits hom toe op elektriese kragstelselbeplanning en -bedryf onder onsekerheid, veral in soverre dit met die toenemende voorkoms van netwerkgekoppelde verspreide kragstoor- en kragopwekkingskapasiteit verband hou. Een van sy primêre aktiwiteite by die Universiteit is vermoëbou deur middel van nagraadse studieleiding, die ontwikkeling en aanbieding van bedryfsgerigte kortkursusse, en leiding aan ’n kontraknavorsingspan. Prof Bekker beklee die NNS SARChI Leerstoel in Kragstelselsimulasie en is by die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) as ’n professionele ingenieur geregistreer.
Prof Arnold Rix
Skep stabiliteit deur ontwrigting met hernubare energie: van uitdagings tot geleenthede
Suid-Afrika se energieverhaal is een van ontwrigting – van die oorheersing van steenkoolgedrewe kragopwekking en snelle industrialisasie, tot beurtkrag wat die nasie se uithouvermoë vir bykans twee dekades op die proef gestel het. Nietemin lê daar in elke ontwrigting ook ’n saadjie van innovasie opgesluit. Prof Arnold Rix ondersoek in sy intreerede hoe Suid-Afrika se energie-uitdagings die rigting van sy loopbaan sowel as die evolusie van hernubare energie in die land beïnvloed het.
Sy fassinasie met elektriese stelsels as kind laat hom uiteindelik Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer. Toe die land se uitdagings met energie-onsekerheid begin, bevind hy hom by ’n kruispad van krisis en geleentheid. In sy destydse bedryfspos help ontwerp en ontwikkel hy meer as 250 MW se son- en windkragprojekte op nutskaal en dra hy so tot die vroeë grondslag vir hernubare-energieopwekking in Suid-Afrika by.
Ná sy terugkeer na die US spits prof Rix hom daarop toe om sy bedryfservaring in akademiese en navorsingsimpak te omskep. As die bekleër van die Scatec Leerstoel in Hernubare Stelsels, bring hy ’n navorsingsgroep tot stand wat hernubare-energiemodellering, batterystoorkapasiteit en aandrywingsmoontlikhede vir elektriese voertuie bestudeer, en verken hoe tegnologie stabiliteit uit onstabiliteit kan skep. In samewerking met die regering en die bedryf verdiep die groep se werk ons begrip van sonkragvoorspelling, netwerk-integrasie en energiestoorstrategieë.
Prof Rix vertel van sy reis van persoonlike mylpale tot nasionale energie-oorgange en besin in die proses oor hoe ontwrigting, wanneer dit innoverend en doelgerig benader word, nie net stabiliteit kan skep nie, maar ook betekenisvolle persoonlike en samelewingsvooruitgang kan teweegbring.
Arnold Rix is ’n professor en die bekleër van die Scatec Leerstoel in Hernubare Stelsels in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), waar hy sy akademiese loopbaan in 2015 begin het. Sy loopbaan kombineer akademiese leierskap met bedryfservaring. As voormalige projekontwikkelingsbestuurder by Gestamp Solar en I-WEC, het hy meer as 250 MW se son- en windkragprojekte op nutskaal help ontwikkel.
By die US het prof Rix ’n selfstandige navorsingsgroep tot stand gebring wat fotovoltaïese sonkrag en die netwerk-integrasie van hernubare energie bestudeer. Hy het al meer as 70 ewekniebeoordeelde artikels die lig laat sien, en etlike PhD- en meesterstudente het reeds onder sy studieleiding gegradueer.
Sy navorsing handel oor hernubare-energiemodellering, batterystoorkapasiteit, die interaksie tussen hernubare energie en die kragnetwerk, en aandrywingsopsies vir elektriese voertuie. Sodoende help bevorder hy tegnologieë wat die oorgang na skoner en doeltreffender energiestelsels ondersteun. Deur sy werk op die kruispunt van die akademie en die praktyk dra prof Rix aktief by tot die soeke na oplossings vir Suid-Afrika se hernubare-energieuitdagings.