Skip to main content

Intreerede: Professor Riaan den Haan

Datum: 26 Mei 2026 17:30 - 26 Mei 2026 19:30
Gehoor:
Gebeurtenistipe:
Vergaderplek:
STIAS

Kontakbesonderhede

Institutional Events
Prof Riaan den Haan

 

Sluit by ons aan vir prof Riaan den Haan se professorale intreerede – Meer as fermentasie: die ontwikkeling van gis vir ’n volhoubare toekoms, aangebied deur die Fakulteit Natuurwetenskappe.

Professor Riaan den Haan
Departement Mikrobiologie
Fakulteit Natuurwetenskappe
Titel: Meer as fermentasie: die ontwikkeling van gis vir ’n volhoubare toekoms

Besonderhede:
Datum: Dinsdag 26 Mei 2026
Tyd: 17:30 SAST
Plek: STIAS, Wallenberg Navorsingsentrum, Maraisstraat 10, Stellenbosch
Formaat: Hibriede geleentheid

Klik hier om vir in-persoon-bywoning te RSVP.
Klik hier om vir aanlyn bewoning te RSVP.


Meer as fermentasie: die ontwikkeling van gis vir ’n volhoubare toekoms

Prof Riaan den Haan besin in sy intreerede oor die ontwikkelende rol van gis – van tradisionele gebruik in fermentasie tot ontluikende potensiaal as ’n platform vir volhoubare biovervaardiging. Op grond van sy navorsing oor gismolekulêre biologie en industriële biotegnologie verken prof Den Haan hoe spesiaal ontwerpte stamme van die gis Saccharomyces cerevisiae ontwikkel kan word om plantafval in brandstowwe en waardevolle chemikalieë te omskep.

Die intreerede konsentreer op die konsep van gekonsolideerde bioverwerking, waar ’n enkele organisme ontwerp word om komplekse biomassa af te breek én die gevolglike suikers te fermenteer – in een, geïntegreerde proses. Prof Den Haan bespreek die kernuitdagings verbonde aan hierdie benadering, soos om die gis in staat te stel om tot lignosellulosiese substrate toegang te verkry, gemengde suikers doeltreffend te benut en die spanninge van industriële omgewings te weerstaan. Hy vertel ook van sy navorsingsgroep se deurbrake in die verbetering van ensiemproduksie, die uitbreiding van substraatbenutting, en die verhoging van stamrobuustheid.

In die algemener konteks van die wêreldwye oorgang na ’n sirkulêre bio-ekonomie ondersoek die intreerede hoe sulke tegnologieë tot meer volhoubare produksiestelsels kan bydra deur afhanklikheid van fossielhulpbronne te verminder en afvalstrome in waardevolle produkte te omskep. In dié opsig hou die navorsing dus met volhoubaarheidsprioriteite soos skoon energie, industriële innovasie en verantwoordelike verbruik verband. Tussendeur hierdie wetenskaplike narratief dink prof Den Haan na oor sy akademiese reis en samewerkings, en toon hy hoe dít sy navorsingsrigting en sy benadering tot mentorskap en leierskap beïnvloed het. Die intreerede kom tot die slotsom dat ontwerpte gis ’n kragtige instrument is vir ’n nuwe vorm van fermentasie wat volhoubare oplossings bied vir afvalbenutting en hernubare biovervaardiging in ’n hulpbronbeperkte wêreld.

 

Biografie

Riaan den Haan is ’n professor in die Departement Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), waarheen hy in 2026 teurggekeer het om sy werk op die gebied van gismolekulêre biologie en industriële biotegnologie voort te sit. Hy verwerf in 2003 sy PhD in Mikrobiologie aan die US en werk daarna as nadoktorale genoot en senior navorser in dieselfde departement. In dié tyd konsentreer hy op die ontwikkeling van gisstamme vir die omskakeling van plantbiomassa in bio-etanol in samewerking met internasionale akademiese en bedryfsvennote in Finland en die Verenigde State. Hy sluit hom in 2014 by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) aan, waar hy ’n navorsingsgroep oor gisbiotegnologie tot stand bring. Later dien hy as hoof van die UWK se Departement Biotegnologie en dra hy tot akademiese leierskap, navorsingsontwikkeling en kurrikulumvernuwing by.

Prof Den Haan se navorsing handel oor die ontwerp van robuuste gisstamme vir nuwegenerasie-bioraffinaderye, met ’n bepaalde klem op gekonsolideerde bioverwerking, verhoogde heteroloë proteïenafskeiding, en die doeltreffende benutting van lignosellulosiese substrate. Met sy werk beoog hy om die omskakeling van landboureste in biobrandstowwe en waardevolle chemikalieë moontlik te maak en sodoende die ontwikkeling van ’n sirkulêre bio-ekonomie te ondersteun.

Hy is die medeskrywer van meer as 60 ewekniebeoordeelde publikasies, beskik oor verskeie patente, en het ’n C1-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang. Twintig PhD- en magisterstudente het al onder sy leiding gegradueer, en hy handhaaf sterk internasionale samewerkingsbande, waaronder vennootskappe met instellings in China en ’n jare lange samewerking met Kobe-universiteit in Japan. Prof Den Haan dien in die eindredaksie van die Journal of Chemical Technology & Biotechnology en is ’n aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mikrobiologie, waar hy vir drie termyne as raadsekretaris gedien het. Deur sy navorsing en mentorskap gaan hy voort om volhoubare biotegnologie en biovervaardiging te bevorder.