Skip to main content

Intreerede: Prof Ashenafi Beyene Fanta

Datum: 07 Mei 2026 17:30 - 07 Mei 2026 20:00
Voeg by jou kalender: Google | Apple | Outlook
Gehoor:
Gebeurtenistipe:
Vergaderplek:
Protea (2058) | Honeybush (2059)

Kontakbesonderhede

Institutional Events
Prof Fanta
Image by: Stellenbosch University

 

Prof Reza C. Daniels, Dekaan van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, nooi u hartlik uit om dié mylpaal in die merkwaardige akademiese reis van prof Ashenafi Beyene Fanta saam te vier.

Prof Ashenafi Beyene Fanta
Stellenbosch Bestuurskool
Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Titel: Dink nuut oor KMO-finansiering: wat werk, wat nié werk nie, en waarom dit saak maak

Besonderhede:
Datum: Donderdag 7 Mei 2026
Tyd: 17:30 SAST
Plek: Stellenbosch Bestuurskool, Protea (2058) en Honeybush (2059), Bellvillepark-kampus
Formaat: Hibriede geleentheid

Klik hier om vir in-personoon-bywoning te RSVP.
Klink hier om vir aanlyn bewoning te RSVP.


Dink nuut oor KMO-finansiering: wat werk, wat nié werk nie, en waarom dit saak maak

Klein en medium-ondernemings (KMO’s) dra by tot ekonomiese ontwikkeling deur nasionale uitsette te verhoog, werk te skep en inkomste-ongelykheid en armoede te verminder. KMO’s dien ook as werktuie vir entrepreneurskap, wat ekonomiese groei bevorder. Daarbenewens kan hierdie ondernemings volhoubare ontwikkeling aanmoedig indien hulle met gemeenskapsontwikkeling geïntegreer is. Nietemin misluk die meeste KMO’s: In die Verenigde State oorleef slegs 20% van KMO’s byvoorbeeld die eerste jaar, en is ’n skrale 3% nog na die eerste vyf jaar in bedryf. In ontwikkelende lande, en veral in sub-Sahara-Afrika, is die mislukkingsyfer selfs hoër.

Hoewel verskeie faktore tot KMO’s se laer oorlewingsyfer bydra, staan finansiering uit as ’n aansienlike hindernis vir oorlewing en groei. Finansieringstekorte lê die ontwikkeling van die KMO-sektor erg aan bande en word dikwels deur sowel tradisionele finansieringsversperrings as eksterne beperkings veroorsaak. In baie gevalle word ondernemings van formele lenings uitgesluit as gevolg van hoë kollaterale sekuriteitsvereistes, veral in lande waar eienaars onvoldoende bates het om as sekuriteit aan te bied. Selfs waar kollaterale sekuriteit beskikbaar is, is lenings onaanloklik vanweë hoë rentekoerse en bykomende leningskoste, en moet KMO’s noodgedwonge op persoonlike spaargeld of informele bronne staatmaak. Hierdie uitdagings word vererger deur die kwessie van inligtingsassimetrie, wat die waargenome risiko vir banke verhoog en hulle minder bereid maak om lenings toe te staan weens baie KMO’s se gebrek aan behoorlike finansiële rekords. Benewens hierdie direkte finansieringshindernisse, word KMO-groei verder geknou deur eksterne beperkings soos swak finansiële infrastruktuur, ondoeltreffende regstelsels en onderontwikkelde kapitaalmarkte, wat alles sistemiese versperrings vir krediettoegang skep.  
Belowende benaderings tot KMO-finansiering kombineer tegnologiese innovasie, alternatiewe finansieringskanale en ondersteunende beleidshervorming. Finansiële tegnologie-oplossings soos eweknielenings, skarefinansiering en datagedrewe kredietassesserings verlaag transaksiekoste en brei toegang tot kapitaal uit, veral vir KMO’s wat formele rekords kortkom. Aanvullende nie-bank-finansieringsopsies, waaronder waagkapitaal en verhuring, bied buigsamer voorwaardes, terwyl mobiele bankdienste en digitale betalings likiditeit en toeganklikheid verhoog. Op beleidsvlak blyk maatreëls soos die digitalisering van bedryfsprosesse, kredietwaarborgskemas en belastingaansporings doeltreffend te werk om sistemiese hindernisse uit die weg te ruim, en skep dit gesamentlik groter finansiële insluiting, KMO-groei en breër ekonomiese ontwikkeling.

Nogtans bly tradisionele bankpraktyke ’n groot hindernis vir KMO’s omdat rigiede leningskriteria, hoë koste en inligtingsleemtes voortgaan om baie ondernemings van krediettoegang uit te sluit. Hoë kollaterale sekuriteitsvereistes, gestandaardiseerde assesserings en omvattende papierwerk diskwalifiseer dikwels KMO’s sonder formele rekords, en uiters hoë rentekoerse en diensfooie maak lenings finansieel onvolhoubaar. Risikovermyding deur banke as gevolg van inligtingsassimetrie en onbetroubare kredietgeskiedenisse beperk leningsgeleenthede verder, wat die kringloop van uitsluiting en finansiële kwesbaarheid vir KMO’s voortsit.

Beleidstekortkominge sowel as uitdagings in die ingebruikneming van finansiële tegnologie is ’n verdere struikelblok vir KMO-finansiering. Oormatige regulering, korrupsie en verouderde raamwerke ontmoedig KMO’s om formele finansiering te probeer bekom, en die beperkte ondersteuning deur die staat slaag nie daarin om voldoende infrastruktuur, kredietwaarborge of aansporings vir kredietverskaffers te voorsien nie. Hoewel finansiële tegnologie belowende alternatiewe bied, word die doeltreffendheid daarvan beperk deur lae tegnologie-ingebruikneming, beperkte digitale geletterdheid en onseker regulering in baie ontwikkelende streke. Hierdie faktore verhoed dat KMO’s volle voordeel put uit innoverende finansieringsoplossings en skep hardnekkige leemtes in toegang tot kapitaal en groeigeleenthede.

Om KMO-finansiering te verbeter, moet die openbare sektor hom verbind tot die uitbreiding van digitale infrastruktuur sowel as kredietwaarborgskemas wat uitleenrisiko’s vir banke verminder. Die versterking van reguleringsraamwerke is ewe belangrik, veral in die aanpassing by finansiële tegnologie-innovasies, want beter regulering verseker beleggersbeskerming en skep ’n bevorderlike omgewing vir finansiële insluiting en innovasie. Finansiële instellings moet hierdie pogings aanvul deur KMO-spesifieke finansiële produkte met laer kollaterale sekuriteitsvereistes en buigsame terugbetalingsvoorwaardes te ontwikkel. Die integrasie van kredietassesserings en data-analitika wat op finansiële tegnologie berus, kan inligtingsassimetrie help oorbrug, wat tot akkurater risikobeoordelings en laer wanbetalingskoerse sal lei.
 

Biografie

Ashenafi Beyene Fanta is ’n professor by Stellenbosch Bestuurskool, waar hy aan die stuur staan van die MPhil-program in Ontwikkelingsfinansiering, en klas gee en navorsing doen oor finansiële ontwikkeling, die finansiering van klein en medium-ondernemings (KMO’s) en finansiële insluiting. Sy loopbaan weerspieël ’n volgehoue verbintenis tot die begrip van hoe finansiële stelsels ekonomiese uitkomste in lande, ondernemings en huishoudings beïnvloed.

Hy het ’n PhD in Korporatiewe Finansiering aan die Johannes Kepler Universiteit Linz in Oostenryk verwerf. Oor die jare het hy ’n internasionale loopbaan in die akademie en op die terrein van beleidsontwikkeling gebou met werk in lande soos Ethiopië, Suid-Afrika en Colombia sowel as groter wêreldwye samewerkingsprojekte.

Prof Fanta se navorsing val op die terrein van finansiële ekonomie, met ’n bepaalde klem op die rol van finansiering op sowel makro- as mikro-ekonomiese vlak. Sy vroeë werk het tot die jare lange debat oor finansiering en ekonomiese groei bygedra deur ernstige metingstekortkominge in die literatuur te oorbrug. ’n Noemenswaardige bydrae was sy bekendstelling van die rol van effektemarkte in die assessering van finansiële ontwikkeling deur die belang van dié markte vir die kanalisering van langtermynkapitaal na die privaat sektor uit te wys. Hierdie werk het op publikasies in toonaangewende vaktydskrifte en aanbiedings by groot internasionale konferensies uitgeloop.

Later sluit hy meer beleidsrelevante en datagedrewe studies op ondernemings- en huishoudelike vlak by sy navorsingsagenda in. Op ondernemingsvlak ondersoek hy hoe finansiële toegang die prestasie van ondernemings, veral KMO’s, beïnvloed. Sy werk oor verhoudingsgegronde lenings en die beperkings van kollaterale sekuriteit vir KMO-finansiering het ’n toekenning vir beste navorsingsartikel van Taylor & Francis ontvang. Hy bestudeer ook die rol van formele en informele finansiering om ondernemingsgroei in Afrika-ekonomieë te ondersteun.

Op huishoudelike vlak verken hy die verband tussen finansiële insluiting en welsynsuitkomste, waaronder armoede, kwesbaarheid en subjektiewe welstand. Sy bydraes op dié gebied word internasionaal erken en is rigtinggewend vir sowel akademiese debatte as beleidsgesprekke.

Prof Fanta het meer onlangs ook begin met navorsing oor infrastruktuurfinansiering – ’n kernfaktor in ekonomiese ontwikkeling en armoedevermindering. Op dié gebied help skryf hy boekhoofstukke, dien hy as studieleier vir nagraadse navorsing, en neem hy ook direk aan beleids- en advieswerk deel. Instellings soos die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika het al van sy kundigheid gebruik gemaak, en hy het ook tot ’n Wêreldbank-inisiatief oor die ontwikkeling van ekonomiese korridors bygedra. As ’n navorsingsgenoot van die Kiel Instituut vir die Wêreldekonomie, het hy saamgewerk aan ’n studie oor die risikoprysbepaling van Chinese lenings aan Afrikalande.

Benewens sy navorsing, is prof Fanta ’n aktiewe akademiese leier en mentor. Werk in dié verband sluit in die bestuur van PhD-programme, studieleiding vir etlike meesters- en doktorale studente, die verkryging van mededingende navorsingsfinansiering, en aansienlike bydraes tot akademiese ewekniebeoordeling en redaksionele prosesse. 
Deur sy akademieskap, onderrig en beleidswerk gaan prof Fanta voort om ons te help verstaan hoe finansiële stelsels sterker steun kan bied vir inklusiewe groei, ondernemingsontwikkeling en beter welsynsuitkomste, veral in Afrikaverband.