
US help om heel eerste stel riglyne in die wêreld ontwikkel om brandrisiko in informele nedersettings te verminder
Verwoestende brande kom gereeld in baie van Suid-Afrika se meer as 4 000 informele nedersettings en in agterplaaswonings voor, wat duisende mense dakloos laat en tot talle sterftes lei, sê professor Richard Walls, hoof van die navorsingseenheid vir brandingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US).
In 2022 het nie minder nie as 190 mense net in informele nedersettingsbrande in Kaapstad gesterf, terwyl nog honderde ontheem is. Soortgelyke syfers kom oral in die land voor, aangesien verdigting die risiko verhoog dat 'n brand deur informele nedersettings en in agterplase versprei waar vlambare materiale gebruik word om strukture te bou, sê Walls. Hoewel hierdie brande verreikende gevolge het, bied owerhede bitter min oplossings om 'n herhaling hiervan te voorkom.
“Ná groot brande kom daar dikwels entrepreneurs na vore wat kitsoplossingsoplossings aan politici bemark om gemeenskappe te help beskerm. Watter wetenskaplike grondslag is daar egter vir die evaluering van brandveiligheidsoplossings vir informele nedersettings, en wat kan gedoen word om hulle te beskerm?" vra Walls.
Die US en die Wes-Kaapse regering het in reaksie op die gebrek aan wetenskaplike oplossings kragte saamgesnoer om 'n gids met brandingenieursriglyne vir informele nedersettings, getiteld Fire safety engineering guidline for informal settlements – 'n eerste in die wêreld, te ontwikkel. Die gids, wat onlangs vrygestel is en verwante brosjures, plakkate en opleidingsvideo's insluit, is op jare se uitgebreide toetsing en navorsing oor brandveiligheid in informele nedersettings deur die US en vennote gegrond, sê Walls.
Kindling, 'n internasionale nieregeringsorganisasie (NRO) vir die bevordering van brandveiligheid in lae-inkomstelande, het saam met die Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering (RADAR) wat by die US gesetel is, met die werk gehelp. Verder was die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste deur middel van die Milnerton-brandweerstasie betrokke. Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur (voorheen menslike nedersettings) het gehelp om die werk te finansier.
Die reeks opleidingsmateriale, wat vrylik beskikbaar is, bestaan uit 'n boek van bykans 140 bladsye wat gedetailleerde riglyne bied oor onderwerpe wat van brandveiligheidstrategieë tot oorwegings vir die gebruik van rookverklikkers wissel. 'n Reeks opleidingsvideo's wat deur die bekende videograaf Justin Sullivan vervaardig is, maak die tegniese inhoud meer toeganklik vir die publiek, verduidelik Walls.
NRO's kan die brosjures, wat in verskeie tale beskikbaar is, gebruik om moontlike oplossings en strategieë te identifiseer om die impak van brandrampe te verminder. “Wat belangrik is, is dat hierdie handleiding nie 'n brandveiligheidshandboek is nie. Dit is op proewe, ontledings en konsultasies met geaffekteerde gemeenskappe gegrond vir praktisyns, NRO's en burgerlike groepe geskryf," sê Walls.
Die werk beklemtoon die belangrikheid daarvan om te besef dat dit 'n ingewikkelde probleem is wat slegs deur 'n multisektorale reaksie verbeter kan word. Dit moet kwessies soos die vermindering van die risiko van ontbranding, die verskaffing van vroeë waarskuwingstelsels, gemeenskapsbetrokkenheid, goed toegeruste en goed voorbereide brandweerdienste, die vermindering van die vlambare aard van huise en ander soortgelyke faktore aanspreek, voeg Walls by. “Daar is geen kitsoplossings nie. Hoewel informele nedersettings én brande in informele nedersettings hier is om te bly, kan die navorsing en riglyne wat gelewer word, help om te verseker dat ons ingrypings die grootste invloed teen die laagste koste het. Ons kan ook nou 'oplossings' vinniger identifiseer wat nie eintlik werk nie."
Dr Robyn Pharoah, 'n sosiale wetenskaplike van RADAR by die US, beklemtoon dat brandveiligheidsintervensies sosiaal geskik moet wees. “Wanneer 'n onvanpaste toestel op 'n gemeenskap sonder hul betrokkenheid afgedwing word, is dit onwaarskynlik dat dit die gewenste uitwerking sal hê."
Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse provinsiale minister van infrastruktuur, het die volgende oor die uitwerking van gereelde brande te sê: “Brandveiligheid in informele nedersettings is 'n groot bron van kommer vir die hele Wes-Kaapse regering aangesien daar jaarliks gemiddeld 1 260 brandvoorvalle aangemeld word." Simmers sê die provinsiale regering verwelkom die inisiatief aangesien dit 'n onderneming toon om nie net brandveiligheid nie, maar ook die gesondheid en waardigheid van mense wat in informele huise woon, te verbeter.
“Veiligheid is een van die Wes-Kaapse regering se prioriteite en daarom ondersteun ons programme vir voorspraak en verbruikersopvoeding oor brandveiligheid ten volle. Ons streek is geneig om gedurende die somer verwoestende brande in informele nedersettings en veldbrande te ondervind. Hierdie materiaal kon dus nie op 'n beter tyd bekendgestel geword het nie."
Mark Smith, 'n brandbestryder van Milnerton wat al op talle brande in die Dunoon informele nedersettings gereageer het en 'n medeskrywer van die Fire safety engineering guidline for informal settlements is, stem saam oor die belangrikheid daarvan om die probleem saam met die betrokke gemeenskappe aan te spreek. “Hierdie brande is uiters moeilik om te blus. Huise wat dig op mekaar gebou is, lei tot brande wat baie vinnig versprei. Smal strate en stegies, mense wat ontruim, laaghangende brande en gebrek aan water maak ook ons werk baie moeilik. As die plaaslike gemeenskap ons egter help, kan dit 'n groot invloed hê."
Danielle Antonellis, die stigter van Kindling, stem saam en sê dat om riglyne wat op navorsing gegrond is, en nie net kitsoplossingsoplossings nie, te hê, sal mense bemagtig om hulle eie veiligheid en vinnige reaksie op noodgevalle te verseker. “Dit gaan oor mense se reg om veilig te wees en veilig in hulle huise te voel, ongeag of hulle in 'n informele nedersetting of elders woon. Sosiotegniese benaderings is broodnodig om gemeenskappe te sentreer en institusionele hulpbronne en ondersteuning te bring." Kindling, 'n niewinsgewende organisasie wat in die VSA gebaseer is, is in 2020 gestig om brandveiligheid in kwesbare gemeenskappe regoor die wêreld te ondersteun en aan te moedig. “Oplossings gaan nie net oor die vermindering van risiko nie; dit moet gemeenskappe help om maniere te vind om hulleself te beveilig."
Werk aan die gids is deur die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur in samewerking met die Lloyd's Registerstigting (LRS) in die Verenigde Koninkryk geborg. “Brande in informele nedersettings het verwoestende gevolge, maar dit kan ook voorkom word," sê Tim Slingsby, Direkteur: Vaardighede en Opvoeding by LRS. “Totdat daar genoeg bekwame ingenieurs is wat informele nedersettings meer brandbestand kan maak en kwesbare gemeenskappe kan beskerm, is hulpbronne soos dié wat deur ons vennote by die US en die Wes-Kaapse regering verskaf word, noodsaaklik om plaaslike kapasiteit te help bou en te help om mense veilig te hou."
Foto: Justin Sullivan