Kode 2040
Die Universiteit Stellenbosch se Kode 2040 is in November 2022 deur die Raad goedgekeur en verteenwoordig die gekombineerde insette van verskeie rolspelers uit die geledere van studente en personeel. Die doel van die Kode is om organisatoriese integriteit en etiese kultuur by die US te lei en te bestuur, en om etiese gedrag met belanghebbendes te bevorder.
Kode 2040 stem ooreen met Visie 2040 en Strategiese Raamwerk. Dit is ’n geïntegreerde etiese kode wat poog om die US se institusionele waardes oor te sit in ’n stel hoëvlakriglyne wat gedrag by die US beheer.
Kode 2040 is saamgestel met verwysing na die oorsigbestuursbeginsels wat in die US se Statuut uiteengesit word, en met erkenning van die feit dat goeie oorsigbestuur nie allereers uit wetlike imperatiewe ontstaan nie, maar uit ’n etiese verbintenis. Dit word ondersteun deur die US se sterk institusionele waardes van uitnemendheid, respek, billikheid, deernis en verantwoordbaarheid.
Kode 2040 gee uiting aan ons institusionele nalatenskap om kennis in diens van die samelewing eties te bevorder.