Breadcrumb
Verken ons fasiliteite en kampusse
Ervaar die Universiteit Stellenbosch se wêreldklasfasiliteite – waar tradisie en innovasie ontmoet en elke ruimte ontwerp is om sukses te inspireer.
Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI)
Hierdie fasiliteit is die grootste en mees gesofistikeerde navorsingskompleks van sy soort op die vasteland van Afrika en in die Suidelike Halfrond. Die fasiliteit is op ons Tygerberg-kampus geleë en huisves meer as 500 biomediese navorsers en studente, insluitende van die wêreld se voorste wetenskaplikes op die gebied van bioinformatika, tuberkulose, neurowetenskap en urologie. Dit huisves ook die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI), 'n leier in genomiese volgordebepaling vir entstofontwikkeling en -evaluering in Suid-Afrika, sowel as die Biobank-eenheid, 'n moderne fasiliteit wat veilige, kostedoeltreffende langtermynmonsterberging bied. Laasgenoemde word moontlik gemaak deur die Hamilton BiOS L5, die eerste ten volle outomatiese biobewaarstelsel in die suidelike halfrond. Die BMNI het ook 'n vierster-gradering van die Groenbouraad van Suid-Afrika ontvang.


Jan Mouton Leersentrum
Hierdie sentrum – wat as 'n maatstaf vir toekomstige kampusontwikkeling dien – is 'n kontemporêre, multifunksionele fasiliteit wat ontwerp is om moderne, interaktiewe en hibridiese leerpedagogieë te ondersteun. Dit is sentraal op die Stellenbosch-kampus geleë en beskik oor gevorderde tegnologiese infrastruktuur vir lesings, stroomuitsendings, konferensies en samewerkende klasse. Die sentrum prioritiseer volhoubaarheid met 'n lae koolstofvoetspoor, gryswaterstelsel en plaaslike verkoeleraanleg vir lugverkoeling, met voorsiening vir toekomstige fotovoltaïese sonkraginstallasies.
Universiteit Stellenbosch Biblioteek
Die Universiteit Stellenbosch Biblioteek is opgeknap om n wye verskeidenheid hipermoderne ruimtes en tegnologieë te bied wat die biblioteek se missie weerspieël om doeltreffende kennisontdekking en -skepping te fasiliteer. Die opknapping strook met die Universiteit se verbintenis tot innoverende en wêreldklas navorsing en onderwys. Die biblioteek se Makerspace bevorder 'n omgewing van innovasie en samewerking wat 'n reeks aktiwiteite moontlik maak, van 3D-skandering tot klein robotika-ontwikkeling.


Sportgeriewe
Maties Sport is verder verbeter met 'n multimiljoenrand-opgradering van die Coetzenburg-atletiekbaan, insluitende 'n nuwe A-graad baan en moderne beligting, wat sy status as 'n internasionale atletiekbaan herbevestig.
STIAS
Die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS), wat in 1999 gestig is, bied 'n kreatiewe ruimte vir hoëvlak interdissiplinêre navorsing. Die Wallenberg Navorsingsentrum, wat in 2007 geopen is, is 'n moderne fasiliteit wat vir gevorderde navorsing ontwerp is, met individuele en gemeenskaplike werkruimtes en 'n veeldoelige konferensieafdeling.
