Skip to main content
Pandemie het negatiewe impak op werk van vrouewetenskaplikes

Pandemie het negatiewe impak op werk van vrouewetenskaplikes

Nox Makunga
19 Augustus 2021

Die pandemie het 'n disproporsionele impak op vrouewetenskaplikes gehad. Hulle is gedwing om minder tyd aan navorsing te bestee, het minder artikels gepubliseer, en kon nie dieselfde aantal navorsingsprojekte as hul manlike eweknieë begin nie. Só meen prof Nox Makunga van die departement Plant- en Dierkunde in ʼn Vrouemaand-meningsartikel vir Timeslive (18 Augustus).

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Nox Makunga*

Die pandemie het ons wêreld op sy kop gekeer, ons lewenswyse versteur, en elke sfeer van die samelewing geraak. Dit het ook 'n disproporsionele impak op vroue in die Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde (oftewel STEM) gehad. Studies sedert die aanvang van die pandemie het getoon dat hulle gedwing was om minder tyd aan navorsing te bestee ('n afname van 5% of meer). Dit het gelei tot minder publikasies en nog minder voorafdrukke wat vir ewekniebeoordeling bestem was. Hulle kon ook nie dieselfde aantal navorsingsprojekte as hul manlike eweknieë begin nie, namate verskillende dele van die wêreld op Covid-19-verwante beperkings begin reageer het.

Hierdie beperkings was veral moeilik vir vroeë loopbaan-vrouewetenskaplikes wat skielik tuis moes werk sonder toegang tot laboratoriums, veldterreine en ander infrastruktuur en hulpbronne wat nodig is vir hul produktiwiteit. Sommige moes ook werk, tuisonderrig en kindersorg gelyktydig behartig, wat 'n negatiewe uitwerking op hul navorsingsuitsette gehad het. Dit is dus geen verrassing nie dat ons verskeie studies gesien het oor die invloed van die pandemie op geslagsverwante kwessies.

Waarom moet ons bekommerd wees oor die negatiewe impak van die pandemie op vrouewetenskaplikes?

Ons moet bekommerd wees omdat dit die swaargewonne suksesse wat tot dusver in die vernouing van die globale geslagsgaping in STEM-velde bereik is ongedaan kan maak. Dit kan ook verreikende toekomstige gevolge hê vir pogings om 'n uiteenlopende groep wetenskaplikes te vestig en te behou met geslagsgelykheid as 'n agenda om wetenskaplike en tegnologiese innovasies te versnel.

Verder, nader aan die huis, het die 2020 Global Gender Gap-verslag aangedui dat hoewel die geslagsgaping in Afrika suid van die Sahara met 68,2% toegemaak is, huidige beramings toon dat ons meer as 95 jaar nodig sal hê om geslagsgelykheid in hierdie streek te bereik. Laat dit vir 'n oomblik insink. Dit beteken dat ons nie in ons leeftyd geslagsgelykheid sal sien nie. Dit is nogal verstommend en ontnugterend om die minste te sê. Gedurende Vrouemaand en ook daarna behoort ons regtig ernstig te begin kyk na maniere om geslagsgelykheid te bereik.

Lees hier verder wat prof Nox Makunga van die departement Plant- en Dierkunde oor hierdie kwessie te sê het.