Skip to main content
Nuwe Afrika Sentrum-dosente bring fokus en kundigheid

Nuwe Afrika Sentrum-dosente bring fokus en kundigheid

Lemonade Hub
14 April 2023

​Die afgelope twee dekades het die Afrika Sentrum vir MIV/Vigs-bestuur, wat deel vorm van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, byna 5 000 studente toegerus om MIV en vigs in die werkplek te bestuur. Soos nuwe syfers en kennis bykom, ontwikkel die pandemie en ontstaan ander gesondheids-, omgewings-, makro-ekonomiese en sosio-ekonomiese uitdagings. In die lig daarvan moet die sentrum hulle akademiese aanbod voortdurend hersien en uitbrei om te verseker dat dit relevant bly.

Hierdie skuif in fokusareas en prioriteite sluit in die aanstelling van spesialiste uit toepaslike gebiede. Die Afrika Sentrum is dus verheug om in April twee nuwe dosente by die span te verwelkom. Die wyd-gepubliseerde en bedrewe navorser dr. Chioma Ohajunwa sal 'n beduidende impak op die sentrum se navorsingsuitset hê, terwyl me Veranyuh Ngah van onskatbare waarde sal wees met haar blootstelling aan die bedryf as 'n verpleegkundige.

Plaaslike konteks en ervaring verseker relevansie 

Terwyl die Afrika Sentrum oor die jare studente van regoor die wêreld gehad het, beteken die unieke uitdagings waarmee Afrika gekonfronteer word dat die vasteland 'n fokusgebied bly in die stryd teen MIV en vigs. In hierdie opsig is Chioma se deeglike veldwerk en navorsing in die Suid-Afrikaanse en breër Afrika-konteks van onskatbare waarde. Sy dien ook in die direksies van verskeie netwerke en gemeenskappe in Afrika wat fokus op gesondheid, welsyn en volhoubare ontwikkeling, en het bygedra tot verskeie boeke (as redakteur of skrywer) oor kennis van en perspektiewe op gesondheid en volhoubaarheid in Afrika-gemeenskappe.

Chioma het voorheen as 'n dosent, kursusleier en aanlyn fasiliteerder by die universiteit se Sentrum vir Gestremdheid- en Rehabilitasiestudies gewerk, waar sy die meesters- en nagraadse diplomakursus oor gestremdheidbeleidsontleding tydens haar postdoktorale genootskap gekoördineer het. 

Gehaltenavorsing as die grondslag van verandering 

As 'n ervare navorser sal Chioma 'n kritieke rol speel in die verbetering van studente se navorsingsvaardighede en -uitsette. "Chioma sal ons PgDip-, MPhil- en PhD-studente ondersteun met kwalitatiewe navorsingsvaardighede en opleiding," verduidelik dr. Munya Saruchera, waarnemende direkteur by die Afrika Sentrum. "Daarbenewens is sy meelewend en empaties, en sy bring die kundigheid van wye internasionale blootstelling en ervaring."

Haar rol as lektor sal studieleiding van PhD- en MPhil-studente insluit, iets wat sy reeds suksesvol gedoen het, wat die sentrum se kapasiteit op dié terrein aansienlik sal verbeter. Munya is ook opgewonde oor die positiewe impak van Chioma se omvangryke netwerk en verskeidenheid nasionale en internasionale navorsingsprojekte op die sentrum se navorsing- en publikasieprofiel. 

Sterk bande tussen spiritualiteit en welstand in Afrika 

Chioma se navorsingsgebiede - wat welstand en spiritualiteit, inklusiewe beleid, transkulturaliteit en inheemse kennisstelsels insluit - is nou verweef met hoe MIV en vigs in Afrika beskou, bespreek, behandel en bestuur word. Sy verduidelik dat, wanneer dit kom by inheemse Afrika-gemeenskappe se begrip van gesondheid en welstand, dit belangrik is om in ag te neem dat daar nie 'n homogene konteks nie. Spiritualiteit is die één sentrale konsep.

"Die Afrika-konsep van gesondheid en welstand word baie beïnvloed deur die idee van ons geleefde spiritualiteit, wat verskil van die biomediese benadering tot gesondheid in ander wêrelddele," sê Chioma.

Alle gesondheidstoestande, waaronder MIV en vigs, verteenwoordig dus 'n interseksionele, veelvlakkige ervaring wat 'n toepaslike benadering vereis. Hierdie kompleksiteit is een van die uitdagings wat krities is wanneer doeltreffende beleide ontwikkel en geïmplementeer word. 

Sosio-ekonomiese en kulturele faktore is vervleg met mediese uitkomste 

Die noodsaak vir hierdie veelvlakkige benadering is ook sentraal tot die lens waardeur Vera die doeltreffendheid van gesondheidsorg beskou. Ná haar MSc in verpleging (waartydens sy as vroedvrou gewerk het), het sy 'n pos as 'n navorsingsverpleegkundige by die Longinstituut van die Universiteit van Kaapstad aanvaar, gevolg deur 'n kwalifikasie in openbare gesondheid. Hierdie kombinasie van navorsingsvaardighede en blootstelling aan gemeenskapsgebaseerde pasiëntversorging het haar aandag gevestig op al die faktore buite die gesondheidsorgstelsel wat pasiënte se welstand en toegang tot basiese gesondheidsorg beïnvloed, byvoorbeeld stigma, armoede, opvoedingsvlak en 'n tekort aan familie-ondersteuning.

"Pasiënte sou vir gereelde ondersoeke opdaag, maar ons het nie geweet of hulle werklik hulle medikasie gebruik nie," verduidelik Vera. "Gebrek aan kos en ondersteuning, stigma sowel as alkohol- en dwelmgebruik is sommige van die redes hoekom mense nie hulle medikasie gebruik nie, wat tot nuwe infeksies kan lei." Sy glo dat die bestuur van hierdie faktore op 'n manier wat gedragsverandering teweegbring krities is as ons MIV- en vigsteikens in Afrika en globaal wil bereik. "Ek hoop om by te dra tot 'n generasie gesondheidsorgverskaffers wat hulle pasiënte sien en behandel as deel van 'n gemeenskap met kwessies wat holistiese sorg benodig."

Voordat sy as junior lektor by die Afrika Sentrum aangesluit het, het Vera as navorsingskoördineerder by die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se afdeling vir Epidemiologie en Biostatistiek gewerk. 

Gesamentlik gefokus op holistiese beleidsimplementering 

Afrika Sentrum-dosente word sorgvuldig gekies op grond van hulle kundigheid. In die gevalle van Chioma en Vera, en die vaardigheid waaroor hulle beskik, is daar ook 'n strategiese element van belyning met die sentrum se toekomstige trajek en visie. Soos Munya sê, sal hulle betrokkenheid “beduidend bydra tot die kwessie van inklusiewe gesondheidsbeleid ─ wat verder as slegs die bestuur van MIV en vigs strek ─ waarop die sentrum waarskynlik vorentoe sal fokus." 

Vir meer inligting oor die Afrika Sentrum se akademiese programme, besoek [email protected] of stuur e-pos aan [email protected] of [email protected].