
Slaggereed vir 2016 Paralimpiese Spele
Die 2016 Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro begin vandag en 45 ligaamlik en visueel benadeelde atlete gaan Suid-Afrika in 10 verskillende sportkodes verteenwoordig.
Ál 45 atlete sal waarskynlik nie met medaljes terugkeer nie, maar elkeen van hulle verdien een in ag genome al die uitdagings wat hulle te bowe moes kom net om op daardie vlak mee te ding.
Bo en behalwe hul gestremdhede belemmer talle liggaamlike uitdagings hul vordering en prestasies. Ses Paralimpiese atlete van die Maties-atletiekklub vertel hul stories.
Die Paralimpiese naellopers Fanie van der Merwe, Charl du Toit, Arnu Fourie en Dyan Buis oefen by die Coetzenburg-atletiekstadion ter voorbereiding op die 2016 Paralimpiese Spele.
Visueel benadeelde atlete
Die 100 m- en 400 m-naelloper Ilse Hayes oefen onder die wakende oog van haar afrigter, Nico Koutakis. Hayes het ʼn degeneratiewe oogtoestand bekend as Stargardt se siekte, wat die sentrale visie aantas. Sy het tans tussen 5% en 10% visie.
Visueel benadeelde atlete kan dit moeilik vind om nuwe tegnieke aan te leer. "Gewoonlik wys jy net vir iemand wat om te doen, maar as hulle jou nie kan sien nie, moet jy ʼn ander manier vind om dit te doen. Jy kan hulle óf help om hul liggame na die regte posisie te beweeg óf jy kan die posisie inneem terwyl hulle voel wat jy doen," sê dr. Lara Grobler, ʼn nagraadse genoot by die Instituut vir Sport- en Oefeninggeneeskunde (ISOG) aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.
Skaduwees is nog ʼn ongewone hindernis vir visueel benadeelde atlete. Hulle kan dikwels net in skakerings van lig en donker sien. ʼn Skaduwee kan soos ʼn voorwerp lyk wat in hul rigting beweeg, wat kan meebring dat hulle uit die pad spring. "Dit kan ʼn invloed op hul prestasie hê of ongelukke op die baan veroorsaak," verduidelik prof. Wayne Derman, direkteur van die ISOG en spandokter van Maties se Paralimpiese span.
Amputasie
Prosteses kan gebruik word om asimmetrieë te korrigeer wat deur amputasies veroorsaak is. Die 200 m- en 400 m- Paralimpiese atleet Anrune Liebenberg hardloop byvoorbeeld met ʼn swaarder prostese om die gebrek aan ʼn linkervoorarm uit te balanseer. Hier oefen sy terwyl die spandokter, Derman, toekyk.
"Jou hand en voorarm maak sowat 2% van jou liggaamsgewig uit en as dit aan die een kant ontbreek, is jy van balans af. Die asimmetrie neem trouens toe met die verhoging in draaimoment, derhalwe is dit erger wanneer jy hardloop – veral teen die spoed wat hierdie atlete hardloop," sê Grobler.
Liebenberg se prostese korrigeer die wanbalans in die gewig van haar twee arms en help haar om energie te spaar terwyl sy hardloop, wat haar spoed verhoog.
"ʼn Mens moet ʼn manier vind om vir die asimmetrieë te vergoed, maar ook met die atleet se natuurlike vermoë werk," sê Grobler.
Die 200 m- Paralimpiese naelloper Arnu Fourie trek sy hardloop-lem aan gedurende ʼn oefensessie by die Coetzenburg-atletiekstadion in Stellenbosch.
"Lemnaelery" bied talle uitdagings. Die verbindingspunt tussen ʼn atleet se been en die prostese skep ʼn soort "gewrig" waar daar nie veronderstel is om een te wees nie, sê Derman. As hulle hardloop, is die krag wat op daardie area uitgeoefen word, vier tot ses keer die atleet se liggaamsgewig en die area is gevolglik vir beserings kwesbaar.
ʼn Silikoonvoering word oor die stompie geplaas om die vel te beskerm en beter adhesie tussen die been en die prostese te skep. Wanneer die atlete oefen, versamel sweet onder die voering. Dit moet telkens tydens ʼn oefensessie verwyder, skoongemaak en drooggemaak word om irritasie en infeksie in daardie area te voorkom.
"Oor lang afstande sal die opbou van sweet en wrywing veroorsaak dat die prostese heeltemal loskom en die atleet laat val," sê Grobler.
Die keuse van die regte prostetiese lem is ʼn reuse-uitdaging en verg veel meer "wetenskap" as bloot grootte en gemak. Sommige prosteses sal die aksie van die normale been na-aap, terwyl ander die normale been uitdaag. "Jy moet iets vind wat die beste vertoning gaan ontlok. As jy byvoorbeeld ʼn prostese kies wat te styf is, sal die atleet dalk beter presteer, maar dit kan sleg vir hul rug wees," verduidelik Grobler.
Atlete gebruik verskillende prosteses vir verskillende aktiwiteite. Hulle gebruik byvoorbeeld die lem om op die baan te oefen, maar het dalk ʼn ander "been" vir die gimnasium en nog ʼn ander een vir daaglikse gebruik.
Serebrale verlamming (SV)
Dyan Buis, Fanie van der Merwe en Charl du Toit is Paralimpiese naellopers met serebrale verlamming (SV) in die 100 m- en 200 m-nommers. Du Toit neem ook aan die 400 m-naelloop deel.
SV is ʼn brein-toestand wat liggaamsbeweging, spierkoördinasie en balans raak en kan spiertonus veroorsaak wat óf te styf óf te pap is, asook spastisiteit of ʼn sleepvoet. Atlete met SV word ooreenkomstig die erns van hul toestand gekategoriseer. Hoe hoër die klassifikasiesyfer, hoe beter is hul funksionaliteit. Buis is byvoorbeeld as ʼn T38 geklassifiseer, terwyl Van der Merwe en Du Toit albei ʼn T37 is. Atlete met ʼn klassifikasie van tussen T31 en T34 is gewoonlik in rolstoele.
Die ISOG-navorser en -biokinetikus dr. Phoebe Runciman het die verhouding tussen SV en oefening uitvoerig bestudeer. Haar navorsing het getoon atlete met SV presteer op die vlak van die kant wat die meeste deur die SV-hemiplegie (verlamming van een kant van die liggaam) geraak word. Atlete moet hulle derhalwe op die versterking van die swakker deel van hul liggaam toespits om hul prestasie te verbeter, soos Du Toit hierbo doen.
Runciman se navorsing dui voorts daarop dat gereelde oefening van jongs af voordelig vir mense met SV is en hul krag, balans, beweeglikheid en ander funksies sal verbeter.
"Histories is mense met SV in institute geplaas en van die gemeenskap geskei. Daardie standpunt het verander, maar "speelgebaseerde terapie" of stap is die enigste oefening waaraan kinders met SV gewoonlik blootgestel word," verduidelik Runciman.
"In baie van ons navorsing bevel ons aan dat ouers hul kinders met serebrale verlamming aan hoë vlakke van oefening blootstel.
"Hierdie ouens het van baie jongs af nie-gestremde sport beoefen. Hul ouers het hulle nie beperk omdat hulle ligaamlik benadeel was nie. Hulle is aangemoedig om sportsoorte soos sokker, krieket en rugby saam met hul nie-gestremde eweknieë te speel. En vandag is hulle elite atlete," sê Runciman.
Fanie van der Merwe hou die 200 m-wêreldrekord in sy klas.
"Dit is so dat hierdie atlete minimaal geraak is, maar jy kan iemand in ʼn rolstoel aan ʼn behoorlike oefenroetine by ʼn plaaslike oefenfasiliteit or selfs by die skool betrokke kry, pleks van op die kantlyn te sit. Dit sal daardie individu in staat stel om ʼn funksionele lewenstyl te lei met minder spierswakheid, minder sametrekkings en minder spastisiteit in alle areas."
"As jy gestrem is, is die beste vorm van bemagtiging om jou liggaam en die vermoë om na jouself om te sien, te verbeter," sê Runciman.
Foto's: WIL PUNT – PEARTREE FOTOGRAFIE