
Leefstylveranderinge ʼn hupstoot vir manlike vrugbaarheid
Leefstylveranderinge kan help om manlike vrugbaarheid ʼn hupstoot te gee deur die getal vrye radikale ̶ molekules wat gesonde selle kan beskadig ̶ in semen te verminder.
Dit was een van die gevolgtrekkings van prof Stefan du Plessis van die Afdeling Mediese Fisiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) in sy intreerede op Dinsdag (23 Augustus 2016).
Du Plessis het gesê hoewel onvrugbaarheid by mans weens verskeie faktore kan ontstaan, blyk vrye radikale in semen ʼn belangrike oorsaak te wees. Hy het bygevoeg dat hoë vlakke van hierdie molekules dalk ook die rede is vir ʼn klomp onverklaarbare gevalle van manlike onvrugbaarheid.
Met verwysing na vorige studies, het Du Plessis het gesê hoë vlakke van vrye radikale is teenwoordig "in die semen van 25-40% van onvrugbare mans, terwyl vrugbare mans se semen nie ʼn waarneembare vlak hiervan bevat nie. Hierdie onvrugbare pasiënte vertoon ook lae vlakke van anti-oksidante in hul seminale plasma."
Hy het daarop gewys dat vrye radikale in semen afkomstig is van, onder meer, witbloedselle, onvolwasse spermselle, die vergroting van are in die skrotum, oormatige rook, alkoholgebruik, en die blootstelling aan gifstowwe in die omgewing.
Du Plessis het gesê leefstylveranderinge kan een van die maniere wees om die vlak van vrye radikale in semen te verminder.
"Risiko-gedrag wat tot verhoogde produksie van vrye radikale lei behoort gewysig te word deur leefstylveranderinge soos ʼn gebalanseerde dieet, gereelde oefening, gewigsverlies, geen rook, dwelms en alkohol, asook minder blootstelling aan besoedeling, gifstowwe en swaar metale."

"Verder is dit ook belangrik om ʼn warm bad, lang ryery of lang gesit op kantoor te vermy omdat dit die skrotum-temperatuur kan verhoog."
Du Plessis het daarop gewys dat vrye radikale is nie uitsluitlik voordelig of nadelig vir die funksie van sperms en manlike vrugbaarheid is nie.
"Hulle moet egter in toom gehou word om hul fisiologiese funksie te vervul, en nie skadelik te raak nie."
Du Plessis meen vrye radikale word ʼn probleem wanneer hulle meer raak as die antioksidante in die liggaam. Wanneer vrye radikale nie fisiologies in toom gehou word nie, kan hulle gesonde selle beskadig.
Hy het gesê ʼn akkurate bepaling van die vlak van vrye radikale in semen moet ʼn integrale deel wees van die mediese ondersoek van pasiënte wie se onvrugbaarheid onverklaarbaar en onbekend is. Dit kan geneeshere help om die onderliggende redes vas te stel, en sodoende optimale behandeling aan hierdie pasiënte te verskaf.
Du Plessis het die behoefte aan meer navorsing oor die rol van vrye radikale in die regulering van manlike vrugbaarheid beklemtoon.
- Foto 1: Pixabay
- Foto 2: Profs Jimmy Volmink, dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Stefan du Plessis, en Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier, by die intreerede.