Skip to main content
Gedenkbome geplant vir wyle kollegas en studente

Gedenkbome geplant vir wyle kollegas en studente

Mandi Barnard
14 September 2016

Nasionale Boomplantweek is op die Tygerberg-kampus ʼn tyd wanneer daar besin word oor die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se groen-nalatenskap, sowel as die nalatenskap van kollegas en studente wat in die loop van die vorige 12 maande oorlede is.

Een van die FGGW se strategiese doelwitte is om stappe te doen om omgewingsvolhoubaarheid te bevorder, insluitend inisiatiewe om koolstofvrystelling te verminder. Die fakulteit se Groenkomitee het in 2008 die Bome vir Groen Reisigers-projek van stapel gestuur en moedig personeel aan om wanneer hulle reis ʼn bydrae te maak vir die aankoop van bome. Hierdie bome word dan op die kampus geplant om sodoende die effek van koolstofvrystellings op klimaatsverandering te verminder.  

Prof Bob Mash, die Voorsitter van die Groenkomitee, het genoem dat daar alreeds meer as 200 bome op die Tygerberg- en Worcester-kampusse geplant is. "Dit het die biodiversiteit op beide terreine vehoog," het hy gesê.

Vanjaar sal 60 bome geplant word as deel van die FGGW se 60ste verjaardagvierings. Op Woensdag, 7 September 2016, is agt koraalbome op die grasperk voor die Tygerberg-studentesentrum (TSS) geplant, waarvan vier ter herinnering aan afgestorwe personeel en studente was.

Hierdie bome sal elke jaar gedurende die lenteseisoen, saam met die gedenkbome wat verlede jaar geplant is, ʼn pragtige laning met rooi blomme voor die TSS vorm.

Prof Nico Gey van Pittius, die Visedekaan: Navorsing, het ʼn kort huldeblyk oor elk van die volgende personeellede en studente gelewer.

Jack Petersen (oorlede in September 2015)

Mnr Jack Petersen het vanaf 1 April 1976 by die FGGW gewerk. Hy het sy dienste as laboratorium-assistent, bode en drywer getrou gelewer. In die laaste deel van sy loopbaan was hy ʼn drywer by die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid, waar hy onthou sal word as ʼn saggeaarde en vriendelike mens.

Myrna van Zyl (oorlede in November 2015)

Me Myrna van Zyl was werksaam in die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys (SGBO). As persoon was Myrna geliefd onder haar medewerkers en die studente. Haar deur het altyd vir studente oopgestaan en sy het uit haar pad gegaan om hulle behulpsaam te wees.

Harry Frauenstein (oorlede in Januarie 2016)

Harry Frauenstein, ʼn finalejaar- mediese student, was ʼn geliefde persoon op die Tygerberg-kampus en bekend vir sy kreatiwiteit en musikale talent. Hy was die leier van Hippokrates Damessêrgroep wat twee maal die nasionale kompetisie gewen het.

Annemarie Heymann (oorlede in April 2016)

Dr Annemarie Heymann is tragies in ʼn motorongeluk oorlede. Sy was ʼn nagraadse student by die Departement Pediatrie en Kindergesondheid en ʼn kliniese assistent in die Departement Pediatrie te Worcester-hospitaal ten tye van haar afsterwe. Sy sal onthou word vir die stil en grasieuse manier waarop sy toegeneentheid en liefde uitgestraal het aan haar pasiënte, vriende, kennisse, studieleiers en kollegas.